Hugh Masekela (78), die ikoniese jazzmusikant ook bekend as Bra Hugh, het Dinsdagoggend in Johannesburg gesterf.

Prostaatkanker is in 2008 by hom diagnoseer toe dokters ’n klein “kolletjie” op sy blaas gewaar het.

Ná die diagnose het hy mans aangemoedig om gereeld vir die nodige ondersoeke te gaan.

“Ek is in ’n goeie plek terwyl ek teen die stil bekruiper veg. Vra vrae, dring aan op antwoorde en leer alles wat jy kan oor kanker. En moedig ander aan om dieselfde te doen.”

In Maart 2016 moes hy weer ’n operasie ondergaan nadat die kanker weer opgevlam en verder versprei het.

Hugh moes vroeër in 2017 talle van sy optredes kanselleer weens behandeling wat hy moes ondergaan omdat hy gevoel het hy het al sy energie nodig om die kanker die stryd aan te sê.

In September 2017 is nog ’n kankergewas gevind.

Josh Georgiou, sy agent, het destyds aan Times Live gesê dit gaan goed met Hugh.

“Hy veg terug. Hy doen goed,” het Josh gesê.

Bra Hugh

Hugh Ramopolo Masekela is op 4 April 1939 in Witbank gebore. Hy het as kind reeds klavier begin speel. Vader Trevor Huddleston, die bekende aktivis en geestelike, het hom gehelp om ’n trompet te bekom – ’n instrument wat Hugh geweldig gefassineer het nadat hy die fliek Young Man with a Horn gesien het.

Kort voor lank was hy deel van die Huddleston Jazz Band, die eerste jeugorkes in die land. In 1961 het hy aan die Guildhall School of Music in Londen studeer, waar hy met nog ’n legende, Henry Belafonte, bevriend geraak het.

Sy musiek het hom na feitlik alle uithoeke van die wêreld geneem en hy het vriendskappe gesmee met die room van die musiekwêreld en Hollywoodbekendes soos Peter Fonda en Dennis Hopper.

Hy het in die 1960’s saam met Janis Joplin, Otis Redding, Ravi Shankar, The Who en Jimi Hendrix opgetree. En met sy enkelsnit Grazin’ in the Grass het hy in 1968 die no. 1-plek op die Amerikaanse treffersparade beklee. Dit was ’n wêreldtreffer.

Wie kan ooit die onvergeetlike samewerking met Paul Simon tydens die Graceland-toer saam met Ladysmith Black Mambazo in die 1980’s vergeet?

In 1986 het hy hierdie ongelooflike vertolking van Bring Him Back Home (oor Nelson Mandela, wat in daardie stadium steeds in aanhouding was) saam met Paul Simon in Zimbabwe uitgevoer.

Bono van U2 het tydens die groep se 360-wêreldtoer die verhoog met Bra Hugh in Johannesburg gedeel. Bono het dit as een van die hoogtepunte van sy loopbaan beskryf.

Twitter treur

Bronne: timeslive.co.za, citizen.co.za, sahistory.org.za, hughmasekela.co.za