Die akteur Ben Kruger is Dinsdagaand oorlede. Foto
Die akteur Ben Kruger is Dinsdagaand oorlede. Foto: Verskaf

Ben het sedert 2014 die rol van Okkie Ferreira in die hospitaaldramareeks Binnelanders vertolk.

As mnr. De Wet in Skooldae. Foto: Facebook/Ben Kru
As mnr. de Wet in Skooldae. Foto: Facebook/Ben Kruger

Die deurwinterde akteur het in die 1980’s sy eerste groot rol losgeslaan as mnr. de Wet, ’n onderwyser, in Franz Marx se SAUK TV1-reeks Skooldae.

In sy loopbaan van drie dekades het hy ook in verskeie ander reekse verskyn, waaronder Die Uwe Pottie Potgieter en die BBC-reeks Silent Witness.

Kayleen Bessit, publisiteitsbestuurder van 7de Laan, het gesê hulle is hartseer oor Ben Kruger se afsterwe.

“Ons dink aan sy familie en geliefdes. Hy was ’n baie goeie vriend vir ons almal tydens sy tyd by 7de Laan, en 7de Laan-kykers het sy karakter as Neef Gert geniet. Dit het komiese verligting in die storielyn gebring. Hy sal onthou word vir die warm, merkwaardige persoon wat hy op en van die skerm af was.”

Hy het ook ’n draai gemaak in die SABC2-sepie 7de Laan as die lawwe neef Gert, die kleinneef van Pierre van Pletzen se destydse karakter, Oubaas van Zyl.

“Dis met groot leedwese dat die Binnelanders-familie vanoggend van die skielike afsterwe van Ben Kruger, ’n geliefde lid van ons spelerskorps, verneem het. Ben het die karakter van Okkie Ferreira vir byna nege jaar op sy unieke manier vertolk en ’n spesiale plek in die harte van sy medespanlede en lojale kykers beklee.

“Ons sal hom altyd onthou vir sy professionaliteit, sy waardigheid, sy humorsin – en natuurlik sy vermoë om ’n potjie van formaat te maak! Ons gaan Ben verskriklik mis,” het Elsje Stark, vervaardiger van Binnelanders, in ’n verklaring gesê.

Ook Karen Meiring, direkteur van kykNET-kanale by M-Net, het die verlies betreur.

“Ons hou vandag die familie van Ben Kruger en Binnelanders in ons gedagtes terwyl ons die enorme skoknuus van sy afsterwe verwerk. Ben was ’n baie geliefde mens en dit is ’n groot verlies vir ons bedryf,” het Karen gesê. 

Binnelanders se verklaring noem ook dat die sepie se episodes drie maande voor die uitsaaidatum opgeneem word, dus sal oom Okkie nog ’n geruime tyd op die kassie te sien wees. 

Die nuus van Ben se dood is met groot hartseer in die sosiale media begroet. 

Die oud-Springbok en nou TV-aanbieder Toks van der Linde het op Facebook geskryf: “My hart is gebreek. My groot vriend Ben Kruger, akteur, gisteraand oorlede aan covid. Sjoe, ek gaan jou mis by ateljee, champ. My trane loop. RIV, groot vriend.”

Die voormalige 7de Laan-akteur Denver Vraagom, wat die rol van Sheldon in die sepie vertolk het, het ook op Instagram ’n foto van Ben gedeel en daarby gesê: “Jy het my jou seun genoem! RIV Ben Kruger.” 

Leandie du Randt, wat as Ivanka in Binnelanders te sien was, het geskryf dit was ’n voorreg om Ben te ken. 

“So hartseer. Oom Ben ons gaan jou sooo baie mis! Ek kan dit nie glo nie. Jou grappies en talent was aan ons geleen. Wat ’n legend en voorreg om saam met jou te kon speel en jou te kon ken,” het die Love Island SA-aanbieder by ’n foto van haar, Ben en die aktrises Je-ani Swiegelaar, wat Ben se TV-dogter, Naomi, in Binnelanders speel, asook Quanita Adams, wat voorheen as Zadie in die sepie verskyn het. 

Die aktrises Elana Afrika-Bredenkamp en Nadia Beukes het ook hul ongeloof oor dié nuus in die kommentaarafdeling van Leandie se inskrywing gedeel. 

Ben word oorleef deur sy vrou, Cheryl, hul seuns, Dan, Ivan en Niku, en kleinseun, Oliver. 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe