Shaun (25) het ernstige harsingskudding, swelling aan sy kop en ligte bloeding op die brein opgedoen. Hy het ook twee ribbes gebreek. 

Hy is nou op die herstelpad en is Woensdagoggend uit die hospitaal ontslaan, vertel sy bestuurder, Louis van den Berg. "Die ergste is dat hy nie kan onthou wat gebeur het nie," sê Louis. 

Tog is Shaun dankbaar dat die persoon in die ander motor, wat ook in die ongeluk betrokke was, glo geen beserings opgedoen het nie, voeg hy by. 

Shaun se motor ná die ongeluk Maandagmiddag. Foto: Verskaf.

Shaun was op pad terug van die kerk Planetshakers toe die ongeluk Maandagmiddag in die Milnerton-omgewing gebeur.

Ná ’n lang ruk uit die kollig, wil Shaun nou weer ernstig musiek maak. Hy het onlangs sy eerste enkelsnit in jare, Crazy For You, uitgereik. 

Shaun se nuutste enkelsnit, Crazy For You, is onlangs aan al die radiostasies uitgestuur. Foto: Verskaf.

“Ek en Shaun het so twee weke gelede gesels. Hy't toe gesê hy wil hom moontlik op gospel toespits,” vertel Louis.

Shaun het ’n ruk gelede tot bekering gekom, sê Louis, en die plan was om met ’n vertoning in GrandWest-casino op 28 Maart dit in ’n inligtingsessie te noem, voeg hy by.

Volgens die dokter sal Shaun se ribbes oor drie maande heeltemal genees wees, maar Louis hou vol dat Shaun reg sal wees vir sy vertoning einde Maart.