Deesdae deurkruis hy die land met sy inspirerende storie oor hoop en motiveer hy mense om beheer van hul eie lewe te neem.

Hy is veral bekend vir sy rol as dr. Conrad Bester in Binnelanders.

In sy topverkoperboek van 2017, Hykie Berg: My Storie van Hoop, het hy openhartig vertel van sy jare lange stryd teen drank- en dwelmverslawing, van die sewe keer dat hy in sy donker leefstyl teruggeval het en opnuut in ’n rehabilitasiesentrum opgeneem moes word.

"Ek doen enigiets van 'n damestee, mannenaweke en korporatiewe praatjies,” vertel hy.

Hy is juis op pad om die naweek in Windhoek nog ’n praatjie te lewer.

“Ek bespreek verskeie temas wat insluit alles oor leierskap, hoe om in beheer van jou eie lewe te wees en hoe om opnuut ’n geloofstelsel te ontwikkel.”

Hy sê dit is vir hom belangrik om vir mense hoop te bring.

“Ek fokus ook op hoe om mense te leer om hul roeping te aanvaar. Jou passie kom van jou drome af en jou roeping uit jou pyn. Dit is belangrik om te weet hoe om daardie pyn in iets positiefs te omskep.”

Einde 2018 het Hykie aan sy Instagram-volgelinge geskryf hoe hyself deur ’n jaar van pyn was.

“Ek het baie pyn, verlies, hartseer en baie verwarring ervaar,” het hy geskryf.

Dit het in die tyd gekom toe hy van sy eksvrou, die voormalige Suid-Afrikaanse skopbokskampioen Melissa Jacobs, geskei is.

“Ons almal word met ’n Everest van probleme op ’n daaglikse grondslag gekonfronteer, maar dit gaan oor ons houding en hoe ons daardie probleme aanpak om eindelik die berg te verower.”