Maar selfs opvallender as die blouste blou en groenste groen is die glimlag van die bruidegom – ook dít lyk na iets in sy intensiewe vorm.

Want Hykie Berg stráál.

Die Binnelanders-akteur (42) gaan sweerlik van afwagting en vreugde uit sy stylvolle donkerblou troupak se nate bars hier waar hy binnekort ewige trou gaan beloof aan die vrou van sy drome, die prokureur Gerridene de Vries (30). Die sowat 250 gaste het reeds hul plekke op die rye wit stoele ingeneem en wag ook dat die bruid haar verskyning maak.

Teen drieuur daag sy op in ’n antieke Volvo 122S. Toe sy uit die klassieke motor klim, lyk sy self klassiek in haar wit meerminstyltrourok met kraleborduurwerk wat sy al maande tevore by die aanlyn boetiek Fynbos bestel het.

Sy haak in by haar pa, Adolf de Vries, en stap oor die grasperk na waar Hykie voor die gaste staan en wag. Agter haar sprei die mooiste wit kantsleep van twee meter uit.

Adolf lig die sluier oor sy pragtige dogter se gesig en skud blad met sy nuwe skoonseun – en dan haak die verloofdes intiem by mekaar in.

Nou kom past. Jon Anderson van die Centre Church in Randburg aan die woord.

Past. Jon Anderson deel ’n grappie met die huwelik
Past. Jon Anderson deel ’n grappie met die huwelikspaar. Foto: Armadillo Media International Wedding Photographer

Al is ’n mens gebroke, beteken dit nie dat jy stukkend moet bly nie, sê hy in sy boodskap.

Die bruidspaar het al draaie deur die lewe gestap, maar vandag is dit in hul verlede en nie deel van hierdie nuwe hoofstuk nie.

“Wanneer jy glo, sal die Here iemand oor jou pad stuur om jou heel te maak,” sê past. Jon.

Langs hom op ’n tafeltjie staan ’n kruik met water. Hy tel dit op en gee dit vir Gerridene, en Hykie gaan sit op ’n stoel en trek albei sy skoene uit. Gerridene buk voor hom en was albei sy voete met haar hande.

Dan ruil hulle plekke en die bruid gaan sit en trek haar skoene uit.

Hykie buk voor haar en was albei haar voete met teer hande.

 In ’n intieme ­gebaar was Hykie sy bruid se voete
In ’n intieme ­gebaar was Hykie sy bruid se voete. Foto: Armadillo Media International Wedding Photographer

“Dit beteken hulle bely teenoor mekaar daar is geen stryd tussen die twee geslagte nie, maar dat hulle in diens op gelyke voet met mekaar staan,” verduidelik Jon die intieme gebaar aan die gaste.

“Die oorsprong hiervan kom uit die Nuwe Testament, toe Jesus sy dissipels se voete gewas het en hulle opdrag gegee het om in diens van mekaar te staan.”

Toe die bruidspaar weer voor hom staan, sê Jon: “Ek verklaar julle nou mnr. en mev. Berg!”

Die gaste juig die pasgetroudes toe. Foto: Armadil
Die gaste juig die pasgetroudes toe. Foto: Armadillo Media International Wedding Photographer

Hy voeg vrolik by “die bruid en bruidegom mag mekaar nou soen” en die gaste trek los met groot applous, want Hykie en Gerridene omhels mekaar innig.

By dié troue hoef die troukoek nie te wag tot laataand voor dit aan die beurt kom nie – die bruidspaar sny hul dubbellaagkaramelkoek sommer dadelik in die skadu van ’n koelteboom.

Die dubbellaagkaramelkoek is gereed om gesny te wo
Die dubbellaagkaramelkoek is gereed om gesny te word. Foto: Armadillo Media International Wedding Photographer

Kameras flits terwyl hulle stukkies vir mekaar voer. Onder die gaste tel talle akteurs wat saam met Hykie, oftewel die karakter dr. Conrad in Binnelanders, in dié kykNET-sepie speel: Cindy Swanepoel (dr. Annelize Roux), Je-ani Swiegelaar (suster Naomi Ferreira), Eric Holm (Rian Malherbe) en Reynhardt Hugo (dr. Tertius Jonker).

Die bruidspaar en hul gevolg van links: Esther en
Die bruidspaar en hul gevolg van links: Esther en Riaan Neveling, Lusandri Snyman, Reynhardt Hugo, Magrikie Berg, Gerridene en Hykie, Wouter Snyman, Kiana de Vries, Eric Holm, Pieter de Bruyn, Shani de Kok en Stefan Ludik. Foto: Armadillo Media International Wedding Photographer

Ook die sanger-akteur Stefan Ludik en vroulief Anelle, wat deesdae in Namibië woon nadat Stefan die sepie verlaat het, is vandag hier.

Hykie en Gerridene het mekaar in Junie 2018 in ’n gimnasium in Northwold, Johannesburg, ontmoet, net ’n entjie van waar albei toe gewoon het.

Hykie en Gerridene verseël hul liefde met ’n innig
Hykie en Gerridene verseël hul liefde met ’n innige soen. Foto: Armadillo Media International Wedding Photographer

Sy het haarself by die oefenplek aan hom kom voorstel en gesê sy gaan een van sy komende motiveringspraatjies bywoon. Die praatjie is later gekanselleer, maar toe loop hulle mekaar weer enkele dae later in die gimnasium raak.

Hykie het die innemende, saggeaarde blondine vir koffie genooi – en die liefde het gou geblom.

‘Ek is nou 42; daai gesinnetjie moet nou gou kom!’

“Dis amazing om te dink die Here het weer ’n keer iemand vir my gestuur,” het die akteur wat voorheen kortstondig getroud was vroeër aan Huisgenoot vertel.

Sy hart was stukkend, maar Gerridene het dit inderdaad kom heelmaak. Wat hom destyds dadelik opgeval het, was dat sy ’n opregte kind van die Here is, sê Hykie.

Gerridene vertel sy het vier jaar lank gebid dat die Here die regte man oor haar pad sal stuur voor Hykie haar op 22 Junie verlede jaar tydens ’n wegbreeknaweek op Hoedspruit, Limpopo, die jawoord gevra het.

En dit klink of die twee nie lank wil wag voor hulle hopelik drie word nie . . .

Gerridene vertel sy het vier jaar lank gebid dat d
Gerridene vertel sy het vier jaar lank gebid dat die Here die regte man oor haar pad sal stuur voor Hykie haar op 22 Junie verlede jaar tydens ’n wegbreeknaweek op Hoedspruit, Limpopo, die jawoord gevra het. Foto: Armadillo Media International Wedding Photographer

“Familie is ’n groot ding vir ons,” vertel Hykie, self een van ’n groot gesin en een van die Pretorianers Eugene en Pauli Berg se drie kinders. Hy het ook twee halfbroers uit sy pa se vorige huwelik.

“Ek is nou 42; daai gesinnetjie moet nou gou kom!” voeg hy kamma ongeduldig by.

En hopelik sal die gesin sommer gou vyf word, want die twee droom reeds van drie kinders. Maar eers is dit tyd vir hul wittebrood aan die Weskus en ’n Desembervakansie in Oostenryk, “want Gerridene wil ’n white Christmas hê”, lag Hykie.

Sy vertel die eienskap wat sy die meeste in Hykie bewonder, is dat hy “net die goed in almal sien”.

Op sy beurt sê Hykie dis vir hom “ongelooflik hoe sy elke dag met my mental challenges kan opgeskeep sit”. Hieroor skryf hy volledig in sy nuwe boek, ADHD: Die onsigbare oorlog. Dit gaan oor AGHS (oftewel aandaggebrekhiperaktiwiteitsteuring), vertel hy.

Die boek sal teen omstreeks Augustus op die rakke wees, maar al waaraan Hykie vandag kan dink, is sy troue . . .

Toe die troue se seremoniemeester, Hykie se vriend Pieter de Bruyn, die gaste kom roep, verskuif hulle na die opelugonthaalplek van die restaurant Mozzafiato op dieselfde gholflandgoed. Lang houttafels weerskante van ’n borrelende waterfontein is hier elegant versier met ’n paar groot ruikers van wit rose.

Wat hom destyds dadelik opgeval het, was dat sy ’n
Wat hom destyds dadelik opgeval het, was dat sy ’n opregte kind van die Here is, sê Hykie. Foto: Armadillo Media International Wedding Photographer

In die een hoek van die kuierruimte knetter dit gesellig by vier vuurmaakplekke.

Hykie en Gerridene maak hul verskyning op die maat van George Ezra se liedjie Paradise, en die voorgereg van kaasballe, spekbruschetta en biltonghappies word voorgesit terwyl die heil- dronke ingestel word.

Die bruidspaar by haar ouers, Vanessa en Adolf, en
Die bruidspaar by haar ouers, Vanessa en Adolf, en broer, Llewellyn de Vries. Foto: Armadillo Media International Wedding Photographer

Llewellyn de Vries (23), Gerridene se broer, terg dat sy saggeaarde sus nie sommer vlak gekyk moet word nie.

Kleintyd in Krugersdorp het hul ouers hulle geleer om te veg vir dit waarin jy glo, “maar ek en my suster het dit soms te ver gevat en dan is daar ’n kasdeur of tafel in die proses gebreek!”

In sy toespraak terg Hykie se jare lange vriend Wouter Snyman op sy beurt dat as hy so na die bruidegom se glimlag kyk “hy soos ’n hondjie lyk wat ’n nuwe speelding gekry het en nie kan wag om daarmee te begin speel nie”.

’n Reuseroosruiker versier die bruidstafel. Foto:
’n Reuseroosruiker versier die bruidstafel. Foto: Armadillo Media International Wedding Photographer

Die gaste lê weg aan die hoofgereg van lamsribbetjies, ontbeende hoenderborsies, soetpatats en ’n verskeidenheid slaaie, en dan is almal se oë op die bruidspaar gerig toe mnr. en mev. Berg die dansbaan open.

Die diep, ryk stem van die jong sangeres Stella se liedjie Wonderwerk klink oor die luidsprekers op en dit is asof die lirieke die woorde van Hykie en Gerridene se pad tot bymekaar eggo: Lank het ek gedroom oor hierdie dag wat ek en jy sou ontmoet . . . Die twee buig hul koppe na mekaar in ’n oomblik nét tussen hulle.

Die dansbaan word ge­open op die maat van Wonderwe
Die dansbaan word ge­open op die maat van Wonderwerk, ’n liedjie deur die sangeres Stella. Foto: Armadillo Media International Wedding Photographer

En dan tel Hykie sy bruid op en swaai haar in die rondte voor die oë van hul verwonderde vriende.