Ray Green.
Ray Green is 'n gesoute kitaarspeler wat tans herstel ná 'n fratsongeluk. Foto: Facebook

Fratsongelukke gebeur, en dit het boonop geklink of dit nie te ernstig is nie. Dit was egter toe die tweede oproep ’n bietjie later deurkom dat Dawn Green besef het daar is ernstig fout en dat hul lewens onherroeplik verander het.

“Ons was in absolute skok toe ons uitvind hoe ernstig die val werklik was. Ek het nie aanvanklik die omvang van die val verstaan nie,” verduidelik Dawn aan Huisgenoot.

Haar man, die sessiemusikant en kitaarspeler Ray Green (40), het op 4 Oktober tydens ’n repetisie vir die sangkompetisiereeks Idols SA se regstreekse uitsending daardie aand in die Pretoriase Staatsteater van die verhoog afgeval en baie ernstige beserings opgedoen.

Ray en sy vrou, Dawn.
Ray en sy vrou, Dawn. Foto: Verskaf

“Ek het aanvanklik gedink dat hy net voor die verhoog afgeval het, wat nie so ver is nie. Ek het later gehoor dat hy by die verhoog-hysbak se skag afgeval het. Dit is egter baie hoër,” sê Dawn.

Hoewel sy steeds nie presies weet wat gebeur het of ’n amptelike verslag oor die voorval ontvang het nie, kon sy al gedeeltelik uitpluis wat gebeur het.

Die musikante was glo op ’n blaaskans, en die hysbak, wat deel van die verhoog is, is laat sak. Al is daar ’n aankondiging gedoen dat die hysbak laat sak is, het sommige musikante wat buite was dit nie gehoor nie.

“Toe Ray terug op die verhoog klim, het hy geloop asof die hysbak nog bo is, maar daardie deel van die verhoog was nie meer daar nie,” verduidelik Dawn.

“Hy was in ondraaglike pyn ná die val, het hy later vir my gesê. Hy kon nie beweeg of enigiets doen nie,” voeg sy by.

Ray in die hospitaal.
Ray in die hospitaal. Foto: Facebook

Sy moes eers later tot haar ontsteltenis uitvind in watter verskriklike pyn hy was en hoe hy geskree het toe die paramedici op die toneel hom probeer skuif het.

’n Helikopter is ontbied en hy is na die waakeenheid van die Milpark-hospitaal in Johannesburg geneem. Hoewel daar nie sekerheid is oor presies hoe ver Ray geval het nie, glo sy dit is sowat 6 m.

Nou, byna drie weke later, is hy steeds in ’n waakeenheid. Ray het sy regterelmboog versplinter en sy blaas geskeur, wat met operasies herstel moes word.

Ray het ook sy pelvis op twee plekke gekraak en sy L5-rugwerwel gebreek, maar daarop is nie geopereer nie.

“Hulle probeer hom uit die waakeenheid na ’n gewone saal toe skuif, maar hulle kan dit nie doen terwyl hy nog in soveel pyn is en morfien ontvang nie,” verduidelik Dawn.

Ray Green, sy vrou, Dawn, en hul kroos.
Ray Green, sy vrou, Dawn, en hul kroos. Foto: Verskaf

Sy kan hom ’n halfuur per dag sien, maar hul vier kinders het hul pa weke laas gesien. “Dit is aaklig,” vertel Dawn.

By die hospitaal probeer hulle gesels en help Dawn vir Ray met administratiewe werk. “Benewens Idols was sy dagboek propvol vir Oktober, maar daardie werk is nou daarmee heen terwyl hy herstel,” sê Dawn.

“Dankie vir jul besorgdheid en boodskappe van ondersteuning vir Raymond Green. Hy ontvang steeds die nodige mediese sorg en stappe is reeds deur Idols gedoen om te verseker dat sy onderhoudsmiddele nie negatief beïnvloed word tydens sy herstel nie,” het Irvin Pooe, kommunikasiebestuurder by Idols SA, by navraag aan Huisgenoot laat weet.

Net soos oor wat presies op daardie verskriklike dag gebeur het, is Dawn ook gedeeltelik in die donker oor die herstelpad wat voorlê. 

“Die eerste stap is om hom na ’n normale saal toe te skuif, en dan moet hy na die rehabilitasiesentrum toe gaan,” sê Dawn. Al sal hulle daarna ’n beter idee hê van hoe sy herstelpad vorentoe lyk, weet hulle nou al dat dit nog ’n ver roete is om te stap.

Ray Green saam met Hiram Koopman (links) en Elvis
Ray Green saam met Hiram Koopman (links) en Elvis Blue (regs). Foto: Verskaf

“Hierdie voorval is ongelooflik erg op ons familie. Ek dink ook veral aan Ray; dit is ’n geestelike uitdaging wat hy daagliks moet oorkom,” sê Dawn.

Hul groot vertroosting in hierdie moeilike tyd is dat Ray nie agteruitgaan nie. Hy beweeg heeltyd vorentoe op sy herstelpad, al is dit teen ’n baie stadige pas.

Ray het op Woensdag 21 Oktober sy eerste treë geneem, en Dawn glo dat sy regterarm meer rehabilitasie gaan benodig as sy pelvis.

“Ons geloof is baie sterk en as Christene glo ons dat sy herstelpad vol wonderwerke gaan wees,” sê Dawn hoopvol.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe