Dít sal die sanger Jacques Terre’Blanche (37) sommer vinnig vir jou sê wanneer jy hom uitvra oor die geboorte van sy tweede kind, Lylah, twee dae gelede. 

Maande lank het die sanger van Idols-faam, wat in 2003 ’n finalis was in die tweede seisoen, en sy vrou, Coralie (30), die tuisgeboorte van hul dogtertjie haarfyn beplan.

Die huis was reg en die vroedvrou en doula was gereed om enige oomblik die paar by te staan met die geboorte. 

“Met die geboorte van ons seun, Shiloh (20 maande), het ons gebruik gemaak van ’n kraamkliniek waar vroedvroue jou met die geboorte bystaan,” vertel Jacques aan Huisgenoot.

“Dit was so ’n wonderlike ervaring vir my en my vrou dat ons besluit het om ook met die geboorte van Lylah 'n meer holistiese benadering te neem. Hierdie keer sou dit net by ons huis wees.”

View this post on Instagram

????

A post shared by Jacques Terre'Blanche (@jacques_music) on

Maar op Dinsdagaand het dinge “baie vinnig ge-eskaleer.”

Só vinnig dat toe die vroedvrou en doula in hul huis instap, staan Jacques reeds met sy klein babatjie in sy arms nadat hy en sy skoonma moes kophou en self die dogtertjie vang. 

Dit was ’n lewensveranderende oomblik vir hom, vertel hy opgewonde.

“Die vroedvrou en doula was by ons huis vroeër die aand, maar omdat ons gedink het die kontraksies nog lank gaan wees, is hulle toe huis toe. Ek sou gewag het tot dit vyf minute uitmekaar was voor ek hulle sou bel om te kom,” sê hy.

Toe het Jacques, Coralie, sy ma en skoonma saam gewag. Soveel so dat sy ma intussen aan die slaap geraak het op die bank voor die kaggel.

Maar toe neem die aand ’n heel verrassende en opwindende wending en Coralie se kontraksies het vinnig gereelder geword.

“Ons het die hele proses oorgesien en gespring van die vroeë geboortefase na die geboorte,” lag hy.

Jacques het uit die vertrek geloop en onmiddellik die vroedvrou en doula gebel. Hulle sou ’n klein swembad na hul huis bring, dit met water vul binne 20 min. en dan sou hulle Lylah in die wêreld verwelkom.

Dít was die plan. 

Maar moeder natuur het ander planne vir die gesin gehad.

“Toe ek weer in die kamer instap, toe sien ek reeds my dogtertjie se kop. My vrou was wonderlik. Sy was kalm en moes my in ’n stadium kalmeer,” sê Jacques. 

Dan vertel hy hoe hy vir Coralie kliphard geskree het “druk!”, toe sien hy Lylah se arms en bo-lyfie.

Nog een keer moes sy dapper vrou druk, toe sien hy haar bene. 

“Só het ek my dogtertjie gevang,” vertel die sanger opgewonde.

“Dit was ’n wonderlike ervaring en als voel nog so onwerklik.” 

“Net toe Lylah uit is, kom die vroedvrou en doula in die kamer ingestap. Hulle was so geskok. Ek ook,” lag hy. 

Klein Lylah is gesond, weeg 3,2 kg en is 51 cm lank. En Coralie was binne 30 minute weer op die been en aan die gang met 'n klein bondeltjie vreugde in haar arms. 

“Wat ’n wonderlike verassing was dit nie,” sê die trotse pa en man toe ons groet. 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe