Jacques (36) en sy vrou, Coralie, het Sondag hul eersteling, 'n gesonde seuntjie, in die wêreld verwelkom. 

Die paartjie het vanuit die staanspoor besluit om 'n holistiese benadering met die geboorte te volg en dat Coralie op 'n natuurlike manier geboorte sou skenk. 

Wat selfs meer indrukwekkend is, is dat die sanger-pa self sy seun in die wêreld gebring het.

In 'n Instagram-plasing skryf hy dat sy vrou fenomenaal is.

“Ons kon ons seun ervaar waar hy self kies hoe hy die wêreld wil inkom danksy sy sterk en inspirerende ma. Ek is ook die geleentheid gegee, danksy ons visie en voorbereiding, om eiehandig hierdie seun in die wêreld te bring…

“Dit was ongetwyfeld die wonderlikste en mees inspirerende drie ure van my lewe,” het hy geskryf.

Die paartjie het vroeër in 2018 die knoop deurgehaak met 'n pragtige sprokiestroue by Die Woud in die Overberge

Jacques het talle laat swymel toe hy in 2003 'n finalis in die tweede Idols-seisoen was. Hy was in 2011 ook een van die glanspersoonlikhede wat aan M-Net se werklikheidsreeks, Survivor South Africa: Maldives deelgeneem het. 

Die aantreklike sanger was ook in 2008 aangewys as een van die top-12 smeulende mans in die tydskrif Cosmopolitan.

Hoewel Jacques derde plek in die Idols-kompetisie verwerf het, het dit sy sangloopbaan 'n behoorlike hupstoot gegee en het reeds twee albums, EQ en The Colour Red, uitgegee.  

Maar hy het die Afrikaanse hartsnare behoorlik geroer toe hy Lucas Maree se befaamde liedjie Droomvrou vir sy oorlede pa in 2016 gesing het. 

  • Jacques het nog nie op Huisgenoot se navrae gereageer nie en sy kommentaar sal bygewerk word.