Ingrid Paulus en Denver Vraagom sê hul huis is vol
Ingrid Paulus en Denver Vraagom sê hul huis is vol lag en geluk; deesdae tel hulle al hul seëninge. Foto: Sharon Seretlo

In die 16 jaar van hul getroude lewe het hulle al meer sakke sout saam opgeëet as baie ander egpare in ’n leeftyd.

“Kyk, as ek met myself getroud was, het ek myself lankal geskei,” laat hoor Denver Vraagom. Maar agter die akteur se lighartige woorde skuil ’n hartseer waarheid: Sy jare lange stryd teen alkoholisme het al groot druk op sy huwelik en gesinslewe geplaas.

En dít terwyl sy vrou, die aktrise Ingrid Paulus, reeds haar hande vol gehad het as die ma van ’n dogter op die outismespektrum.

Daarby het sy lank in stilte die skerp kritiek verduur wat haar dikwels as 7de Laan se Vanessa Meintjies aanlyn toegeslinger is. Maar nou is daardie donker dae iets van die verlede.

Nie net het Ingrid verlede jaar die aanlyn boelies op hul plek gesit nie; hulle is ook weer ’n gelukkige gesin – en ietwat groter noudat daar vier van hulle is – nadat Denver (49) homself drie jaar gelede uit die wurggreep van alkoholisme bevry het.

Hulle het al talle sakke sout saam geëet, maar van
Hulle het al talle sakke sout saam geëet, maar vandag is hulle dolgelukkig en dankbaar die gesin is bymekaar. Foto: Sharon Seretlo

Hulle was in daardie stadium op die drumpel van ’n egskeiding, erken Ingrid (42).

“Ek het besluit dis nou genoeg. Ons kommunikasie was so sleg, ek kon nie meer nie.” Toe gebeur ’n wonderwerk. “Ek sal dit nooit vergeet nie,” begin sy vertel.

“Drie jaar gelede het Skye (hul oudste dogter) vir my gesê: ‘Mommy, why do you believe Daddy? He’s never going to change.’ Sy het na sy drinkery verwys. Denver het haar gehoor en toe net daar besluit hy is klaar met drank.”

Ek sou nooit net een glas whisky kon drink nie. Dit was altyd nóg een en nóg een. Die gevolg was dat ek myself afgesonder het, en die kommunikasie in ons huwelik het daaronder gely.

Sy voeg by: “En toe word ons met Hannah geseën.” Dit was die koms van hul laatlam 16 maande gelede.

“Ek was ’n binge-drinker,” erken Denver, wat al in 7de Laan, Binnelanders en Erfsondes verskyn het.

“Ek sou nooit net een glas whisky kon drink nie. Dit was altyd nóg een en nóg een. Die gevolg was dat ek myself afgesonder het, en die kommunikasie in ons huwelik het daaronder gely. Ons het nie meer dinge met mekaar gedeel nie.

“En ek het soms skelm gedrink. Oral in die huis en in die garage het ek bottels drank weggesteek.”

Tot daardie dag toe Skye (nou 16) se woorde hom so diep geraak het. “Ek het myself laat opneem, hulp gekry en nog nooit teruggekyk nie.”

Dit is nou al byna drie jaar dat daar geen druppel drank oor sy lippe kom nie, vertel Denver. “En weet jy, ek het nog nie een enkele dag gevoel ek gaan swig nie.”

‘Daar is niks groter as ’n vrou se liefde nie’

Dit is ’n gelukkige gesin wat ons op ’n Saterdagoggend in ’n restaurant in Linden, Johannesburg, aantref. Dis ’n hanetree van hul nuwe tuiste waar hulle verlede November kom nesskop het.

Pa, ma, ousus Skye en klein Hannah is kleurvol aangetrek.

“Dit gaan goed met ons – besig, maar goed,” sê Denver (49). Hy het onlangs klaar gewerk aan die kykNET-fliek Krismisboks, wat in Riverlea, Johannesburg, geskiet is.

Jare lank het ek aanskou hoe mense my aanlyn kritiseer – oor my gewig, die manier waarop ek praat, alles. En 20 jaar lank het ek niks gesê nie.

“Ek speel ’n goeie gangster wat heeltyd in die moeilikheid beland,” vertel hy oor die rolprent wat in Junie uitgereik word.

Ingrid speel nie net in 7de Laan nie; sy is ook een van die sepie se regisseurs. Maar saam met die roem en geleenthede wat die rol van Vanessa haar gegee het, het dit haar ook aan die sosiale media se giftonge blootgestel.

“Jare lank het ek aanskou hoe mense my aanlyn kritiseer – oor my gewig, die manier waarop ek praat, alles. En 20 jaar lank het ek niks gesê nie. Maar einde verlede jaar het ek genoeg gehad,” vertel sy. Sy wil nie uitbrei oor wat die laaste strooi was nie.

Denver gee klein Hannah ’n klapsoen.
Denver gee klein Hannah ’n klapsoen. Foto: Sharon Seretlo

“As jy iets oor Vanessa sê, is dit fine, maar los my en my familie uit,” sê sy. In ’n plasing wat duisende kere in die sosiale media gedeel is, skryf Ingrid toe: “Ek speel al 20 jaar die rol van Vanessa en het altyd die goeie saam met die slegte probeer aanvaar.

“Om gekritiseer te word is deel van die werk, maar ek is ’n mens met gevoelens. Om daagliks spot te verduur is nie ’n lekker ervaring nie. Veral nie oor my fisieke voorkoms nie.

“Mense weet nie waardeur ek gaan nie en dink hulle kan van my sê wat hulle wil. Ek het genoeg van julle geboelie gehad, want dit is wat dit is en ek gaan dit nie meer langer duld nie” As die ma van twee dogters het sy verplig gevoel om haar sê te sê.

“Sodat ons dogters weet daar is soveel meer en belangriker dinge as jou uiterlike.”

Terwyl ons gesels, speel Skye ’n speletjie op haar selfoon. Op tweejarige ouderdom is Asperger se steuring by haar gediagnoseer, ’n toestand op die outistismespektrum wat mense se vermoë om te kommunikeer en te sosialiseer beïnvloed. Sy lyk nes haar ma.

“Nee, ek lyk soos myself,” laat sy hoor.

Sy woon ’n tuisskool met net 15 leerders by waar sy individuele aandag kry. Die afgelope paar jaar het sy baie vordering met haar sosiale vaardighede gemaak, vertel Ingrid trots.

“Ek wil eendag ’n kunsgalery-eienaar wees,” vertel Skye. Haar ouers vertel sy is baie lief vir kuns. En nou is daar nog enetjie; nog ’n dogter, wat haar opwagting so onverwags kom maak het.

Denver luister aandagtig na sy oudste, Skye, se to
Denver luister aandagtig na sy oudste, Skye, se toekomsplanne. Foto: Sharon Seretlo

“Ek was 10 jaar lank nie op voorbehoedmiddels nie. Ek sê nou die dag vir Denver, kan jy glo ons is die ouers van twee kinders?” vertel Ingrid. Denver lag.

Alle egpare moet soms ’n bietjie tyd op hul eie deurbring, maar ek is dankbaar hulle is terug.

“Ja, dit was nooit deel van die plan nie.” Die gesin is weer saam onder een dak nadat hulle verlede jaar tydens die inperking ses maande lank nie in dieselfde stad kon woon nie.

Ná Hannah se geboorte is Ingrid verlede Maart met die baba uit Gordonsbaai weg, waar die gesin toe nog gewoon het, om weer op die stel van 7de Laan in Johannesburg in te val. Min het hulle toe geweet die provinsiale grense sou kort daarna gesluit word.

Hulle het by Ingrid se ma in Pretoria gebly terwyl Skye by haar pa in die Wes-Kaap agtergebly het. “Ek en Skye het eers in November hierheen getrek,” vertel Denver oor hul terugkeer na Johannesburg.

“Dank die Vader vir video-oproepe.” Maar die noodgedwonge skeiding het hulle goed gedoen, sê Ingrid. “Alle egpare moet soms ’n bietjie tyd op hul eie deurbring, maar ek is dankbaar hulle is terug.”

Vir hul laatlam was haar pa ná die maande lange skeiding ’n vreemdeling. “Die eerste week wou Hannah niks van my weet nie,” onthou Denver.

“Maar ek gee nie op nie. Toe bond ons. Sy is mal oor musiek. Ek speel vir haar Eva Cassidy of El Divo en dan dans sy. Nou die dag het ek vir haar Britney Spears gespeel, toe huil die kind!”

En Skye is ’n perfekte ousus, sê Denver.

Hy kon in die inperking Hannah ses maande lank nie
Hy kon in die inperking Hannah ses maande lank nie vashou nie. Foto: Sharon Seretlo

“Sy het my nou die dag geskel omdat Hannah geval en seergekry het; vir my gesê ek moet haar mooier dophou.” Ingrid glimlag. “Dié is die regte Denver. Wanneer Denver gedrink het, het hy skoor gesoek met almal en ’n I don’t care-houding gehad.”

Hy beskryf homself as ’n “home executive”wat bedags tuis is en sorg dat die huishouding vlot verloop en die kinders gevoed en gelukkig is. Dit is nou tussen stemwerk en regie vir ’n RSG-drama deur.

“Ek kan kreatief wees en het weer begin skryf,” vertel die veelsydige akteur. Sy oë volg Hannah wat waggel-waggel na haar ma toe stap.

“Ek het darem mooi girls, nè,” sê Denver. “Ek sê altyd daar is niks groter as ’n vrou se liefde nie, en nou kry ek dit van drie kante af. Wat ’n seën.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe