Die 37-jarige sangeres en haar liefie, Sam Asghari (25), is Dinsdagaand op die rooitapyt by die voorskou van die fliek Once Upon A Time in Hollywood saam gesien en die twee het meer verlief as ooit gelyk.

Britney het beeldskoon gelyk in ’n kort rooi nommertjie, maar dis nie haar uitrusting wat aanhangers se oog gevang het nie, dis die diamant aan haar linker-ringvinger wat mense aan die praat het.

Hoewel Britney en Sam nie die gerugte aan die media bevestig het nie, het ’n bron volgens People verklap die twee gaan nie binnekort afhaak nie. 

Britney se ring
Foto's: Gallo Images/Getty Images

Vir dié ma van twee was die liefde oor die jare redelik uitdagend, en dit was veral toe sy en haar eerste groot liefde, die sanger Justin Timberlake, opgebreek het dat aanhangers se harte dit ook gevoel het.

Britney en Justin
Foto: Gallo Images/Getty Images

Die twee was van 1998 tot 2002 in ’n ernstige verhouding, maar het glo opgebreek omdat hulle verskillende dinge in die lewe wou hê. Justin se lied Cry Me a River het aanhangers egter laat vermoed Britney was ontrou. 

Britney het in 2004 twee keer afgehaak: die eerste keer met haar jare lange vriend Jason Alexander en later met haar voormalige danser, Kevin Federline.

Britney en Jason se huwelik het net 55 ure gehou. Britney, toe 22, is daarna met Kevin Federline getroud. Die paartjie het twee seuns, Jayden James en Sean Federline, saam.

Britney en Kevin Federline
Foto's: Gallo Images/Getty Images

Die paartjie het in 2007 hul verhouding beëindig. In 2009 het die popster weer liefde gevind by haar voormalige bestuurder, Jason Trawick.

Hulle het glo in 2009 begin uitgaan en in Desember 2011 verloof geraak.

Die twee het egter nooit die kansel gehaal nie en in 2013 hul verlowing verbreek. 

Britney en Jason
Foto's: Gallo Images/Getty Images

Britney was intussen aan en af in verhoudings, maar dis Sam wat in 2016 die sangeres se hart gesteel het. En dit lyk of hy nie sommer gou haar sy sal verlaat nie.

Hy is vir die eerste keer in Britney se musiekvideo van haar lied Slumber Party raakgesien en die twee is steeds smoorverlief.

“Sy motiveer my meer as enigiemand anders. Ek gaan haar altyd bystaan. Sy is ’n groot seën in my lewe,” het Sam in ’n vorige onderhoud met US Weekly vertel.

Bronne: People, US Weekly, Billboard, Bustle.com, Hello Magazine