As jou oë vasgenael was op een klein blonde wildewragtig in die gevolg, sou die uitgerekte seremonie om prinses Eugenie en haar Jack getroud te kry jou nie verveel het nie. Die sewejarige Savannah Phillips steur haar blykbaar min aan die handjies-gevou-knietjies-bymekaar-sittery wat van koninklikes verwag word.

Daarvoor is daardie twee blou oë en wyemondglimlag net te ondeund.

Op Eugenie (28) se onlangse troue het sy haar vyfjarige nefie, prins George, tydens die statige seremonie in die St. George-kapel in Windsor so vermaak dat van die belangrike grootmense haar ’n kwaai kyk of twee gegee het. Maar vir George is sy net die beste ding op twee bene en die prinsie het geskaterlag vir haar manewales en vergeet om sy skaam self in die openbaar te wees.

Savannah word reeds “die volgende prinses Margaret” genoem, want net soos koningin Elizabeth se wyle jonger suster doen sy reeds op haar jong ouderdom haar eie ding. Toe Eugenie-hulle se troufoto’s geneem is, het sy ’n blommemeisie se grootste sonde begaan: Sy het op die bruid se rok getrap.

Op foto’s van prinses Eugenie se troue is haar voet op die bruid se sleep. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Op een van die amptelike en styf geposeerde foto’s sit die juffroutjie met haar linkerbeen lank uit – met die voet reg op Eugenie se ivoorkleurige sleep. Sy het dit heeldag reggekry om die reusesleep mis te trap en dalk was dit ’n onskuldige foutjie, maar dis nie die eerste keer dat die onnut die nuus haal nie.

Ook tydens die vaandelparade vroeër vanjaar het almal oor haar gegons. Soos altyd by dié geleentheid het die koninklike familie op die balkon van die Buckinghampaleis aangetree en van almal is verwag om hulle te gedra. Maar Savannah laat haar nie sommer voorsê nie.

Toe die skare God Save the Queen sing, het sy groot armgebare gemaak asof sy hulle dirigeer. En toe prins George wegval om te sing, het sy sy mond ferm toegedruk.

Prins William (36) was glad nie geamuseer nie, maar sy seun wel. “That’s #girlpower,” het ’n kyker getwiet, terwyl ’n ander gemeen het: “The dead stare into the camera is gold! The ascension of Savannah, queen of our hearts!

Savannah met die wilde wit hare is die koningin se oudste agterkleindogter en kleindogter van prinses Anne (68) en haar gewese man, Mark Phillips (70). Haar ouers, Peter (40) en Autumn (40), steur hulle ook nie aan koninklike konvensie nie.

Autumn, Peter, Isla en Savannah Phillips tydens die 2017-vaandelparade. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Peter is glo die koningin se gunstelingkleinseun. ’n Mens sal dit nooit sê as jy sien hoeveel tyd die Phillips-gesin weg van die koninklike kringe deurbring nie.

Net soos sy jonger suster, Zara (37), en hul ma, Anne, voor hulle lyk dit of Peter en sy vrou graag vir Savannah en haar sussie, Isla (6), ’n kinderlewe wil gee wat so normaal moontlik is. En dis maar moeilik as jy ’n lid van die beroemdste Britse familie ter wêreld is.

Maar prinses Anne, die koningin se naasoudste kind, en kapt. Phillips het destyds al laat blyk hoe hulle voel toe hulle nee dankie sê vir Haar Majesteit se aanbod om Mark ’n titel te gee. Hul besluit het beteken hul bloedjies sou hul lewensreis sonder ’n titel aanpak.

Toe hul eerste kind in 1977 gebore is, het die BBC aangekondig dis die eerste koninklike baba in meer as 500 jaar wat as ’n nie-adellike gebore is. Die arme ding. En teen die koninklike tradisie in het Anne en Mark, van wie sy in 1989 geskei is, hom na sy oupa aan sy pa se kant genoem en nie na ’n koninklike nie.

Savannah en Mia Tindall, ’n niggie van haar, klou aan Mia se pa, Mike, se voete. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Soos prinses Anne op ’n keer gesê het: “Hulle is nie koninklikes nie. Die koningin is toevallig hul ouma.”

Peter het nie die laste gehad wat op die skouers van ’n voltydse koninklike rus nie. Hy het sportwetenskap aan die Universiteit van Exeter studeer. Hy was die bestuurder van borgskappe van die Williams F1-motorwedrenspan toe hy en sy vrou, Autumn Kelly, mekaar in 2003 by die Kanadese Grand Prix in Montreal ontmoet.

Autumn, ’n bestuurskonsultant, het toe reeds ’n pos in Brittanje aanvaar. Peter was so diskreet, sy het nie die vaagste benul gehad van haar kêrel se blou bloed nie. Sy het eers ses weke nadat hulle begin uitgaan het, besef waar hy vandaan kom toe sy hom in ’n TV-program oor prins William se 21ste verjaardag raaksien.

George en Savannah by die vaan­del­parade. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Toe hulle besluit om saam in te trek, was dit in ’n “huisie” op prinses Anne se Gatcombe Park-landgoed.

In 2007 het die twee verliefdes aangekondig hulle is verloof en die oë het gerek oor Autumn se gebrek aan “stamboom”. Die koerant The Telegraph het dit “ ’n wegbreek van die koninklike familietradisie” genoem.

Vandag wys die hertoginne Kate (36) en Meghan (37), wat ook nie ’n snars blou bloed in hul are het nie, hoe tye en tradisies verander het.

The Telegraph het destyds sy snobisme verder aan die groot klok gehang: “Die ma van die Kanadees gebore juf. Kelly is ’n haarstilis, haar tweelingbroer, Chris, is ’n messelaar, en sy het ’n oom wat op sy dag ’n ontkleeklub gehad het.”

George en Savannah by ’n polotoernooi. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Die ergste vir die behoudendes was dat Autumn Rooms-Katoliek was. As hulle sou trou, sou Peter nie meer kon aanspraak maak op die troon nie. Hy was in elk geval so ver agter in die ry dat die kans dat hy ooit sy beurt sou kry waarlik onmoontlik is.

Maar Autumn het ingestem om ’n lidmaat van die Church of England te word en die troue het sonder slag of stoot in Mei 2008 plaasgevind. En ten spyte van alles het die twee die volle koninklike gedoente ontvang met ’n seremonie in die St. George-kapel in Windsor en ouma en haar man, die hertog van Edinburg, in die voorste gestoeltes.

Vier jaar later het mnr. en mev. Philips ’n babadogter verwelkom, en nodeloos om te sê, was Haar Majesteit baie opgewonde oor klein Savannah.

Die jong Phillips-susters lei blykbaar ’n relatief normale lewe saam met hul ouers in Londen. Anders as hul driejarige niggie, prinses Charlotte, wat al net soos haar oumagrootjie kan wuif en met enkels gevou sit, lyk dit of hulle glad nie aansitterig is nie.

Wanneer hulle in die openbaar afgeneem word, sal jy nooit raai hoe na aan die troon hulle is nie. Die twee word dikwels gesien in die geselskap van hul ewe wilde niggie, Mia, die driejarige dogter van Zara en Mike Tindall (40).

In Augustus het sy ’n neus vol roomys gehad by ’n Britse perdesport­geleentheid in Gatcombe Park. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Iets waarvan die drie woelige rabbedoes baie hou, is om roomys in hul neus op te druk.

Dis ook heerlik om die manewales van Savannah en prins George dop te hou. By die meeste koninklike geleenthede kan ’n mens duidelik sien die twee is kop in een mus en op die punt om iets stouts aan te vang, soos die groot gegiggel by Eugenie se troue.

Sy het prins George op prinses Eugenie se troue laat uitbars van die lag. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Hulle is blykbaar baie na aan mekaar en Savannah is een van die min mense wat dit regkry om George uit sy dop te laat kruip. En hoewel die grootmense soms frons oor haar wildheid, tel dit in haar guns dat sy hom kan laat lag.

In die lig van die verantwoordelikhede wat op hom wag, is dit iets wat die toekomstige koning sal nodig hê.

Bronne: Hello!, People, Town and country, Harper's Bazaar, The Telegraph, W Magazine