Nou is dit amptelik. ’n Nuwe vrou gaan Meghan se plek inneem by dié New Yorkse regsfirma in die agtste seisoen van die reeks wat in Julie in Amerika op die kassie begin.

Die Amerikaanse aktrise Katherine Heigl (39), wat vroeër in die gewilde hospitaalreeks Grey's Anatomy te sien was, wys nou gesig in Suits as die prokureur Samantha Wheeler.

Katherine het saam met onder meer Gabriel Macht (46), wat die prokureur Harvey Specter speel, en die ander sterre op die nuwe promosiefoto van die reeks verskyn. Amanda Schull (39), wat Katrina Bennett speel, het nou ’n voltydse rol.

Katherine, ’n ma van drie, het ’n foto van haar saam met haar Suits-medesterre met haar sowat 2,4 miljoen volgers op Instagram gedeel. "Ek kan nie wag om te sien hoe alles in dié seisoen in Suits gaan ontvou nie, maak nie saak wat die gevolge is nie! Ek is so opgewonde om deel van 'n program te wees wat ek so liefhet! Dankie dat julle my toegelaat het om die speletjie saam te speel, ouens,” het sy geskryf by die foto van haar en haar nuwe stelmaats om ’n pokertafel. 

Amanda, wat in 2000 die hoofrol van Jody Sawyer in die dansfliek Center Stage vertolk het, het ook nou ’n permanente rol, berig tvline.com

Meghan en Patrick (albei 36), wat die rolle van die vurige paartjie Rachel Zane en Mike Ross vertolk het, het die reeks vanjaar verlaat nadat hulle in die finale episode van die sewende seisoen afgehaak het, berig Express.

Katherine speel Samantha Wheeler, ’n gedrewe prokureur wat haar by die firma inwurm en dinge kom deurmekaarkrap.

Amanda, wat haar debuut in die tweede seisoen van die reeks gemaak het, se rol is nou permanent. 

Katherine is duidelik in haar noppies oor haar nuwe rol. In nog ’n foto waar sy op die lessenaar in haar nuwe kantoor op die stel sit, skryf sy: "Die beste deel van Samantha Wheeler wees, is om te glo ek is Samatha Wheeler! Die vrou laat my bemagtig voel," skryf Katherine. "Sy is so goed; hulle kan haar nie ignoreer nie," vertel sy. 

Samantha het nie gekom om te speel nie. Aanhangers kan hulle regmaak vir 'n vuurwarm seisoen van Suits. 

Die agtste seisoen van Suits word van 18 Julie op Netflix in Amerika uitgesaai.

Bronne: Express, Tvline