“Hulle het toe gaan trou en ek weet nie wat die bohaai is nie,” was die Saturday Night Live-akteur Alec (60) se antwoord toe hy Maandagaand op die rooitapyt op die 2018 Emmy-prysaand gevra is of sy broerskind die model Hailey Baldwin (21) met die Kanadese popsanger Justin Bieber (24) getroud is of nie.

Die twee het glo op 13 September in die geheim getrou. Selfs Alec was verbaas toe hy die nuus oor sy broerskind hoor. 

Hailey ontken egter dat hulle getrou het, maar Alec, wat Justin “een keer” saam met Hailey ontmoet het, sê dit is wel so. Alec se jonger broer, die akteur Stephen Baldwin (52), is Hailey se pa.

“Ek is nog nie getroud nie,” het Hailey op Twitter laat hoor nadat gerugte die ronde begin doen het dat sy en Justin getroud is. Sy het kort daarna die twiet verwyder.

Sy en Justin het van 2015 ’n jaar lank uitgegaan voor hul paadjies geskei het. Hulle het mekaar in Junie vanjaar weer begin sien.

Die sanger het Hailey ’n paar weke later in die Bahamas gevra om te trou. Die paartjie is verlede Donderdag by die hof in New York gewaar waar hulle glo hul trousertifikaat gekry het. 

Maar hoewel Alec dit op die Emmy-aand uitgeblaker het dat die twee nou getroud is, het hy nie raad vir Justin oor hoe hy sy broerskind moet behandel nie.

“Sy het 'n pa en ek is seker hy het self 'n paar paragrawe daaroor te sê; dus is ek nie bekommerd nie.” 

Bronne: Us magazine, Fox News