Enige bruid verwag seker om ná haar troue alleen ’n bietjie tyd saam met haar nuwe man deur te bring sonder om die eerste kosbare weke van die huwelikslewe met haar skoonmense te deel.

Maar moenie dink die nuwe hertogin van Sussex het die geleentheid gehad om eers saam met haar prins romanties te verkeer in hul eerste huis, Nottingham Cottage, nie.

Ná ’n kort, geheime wittebrood saam met prins Harry is Meghan (36) met haar terugkeer dadelik die diep kant ingegooi.

Die koningsgesin moes haar vinnig touwys maak. Dis maklik om te sien hoekom: Mense kan duidelik net nie genoeg van haar kry nie.

Tydens haar onlangse besoek aan die Engelse dorpie Cheshire het die lug van byna histeriese uitroepe weergalm: “Meghan! Meghan! Hertogin!” – en dít ondanks die feit dat die eregas eintlik die belangrikste lid van die Britse koningsgesin, koningin Elizabeth haarself, was.

Hoewel Meghan aanvanklik senuagtig voorgekom het, het sy ontspan namate die dag ontvou het. Foto: Gallo Images/Getty Images

Maar dalk het die 92-jarige koningin nie omgegee haar splinternuwe skoonkleindogter steel die kollig nie – sy is immers die een wat Meghan gekies het om die uitstappie saam met haar te onderneem.

Die paleis se reklamemasjien het blykbaar lankal ’n uitstappie vir dié twee beplan, maar volgens die redakteur van die Daily Mail, Richard Kay, het die koningin toe self besluit dit moet sommer nou al gebeur.

Sy wil Meghan glo self oplei en geleenthede in die kollig bied, want dis duidelik die pragtige voormalige aktrise swiep soos ’n vars bries deur die stywe, stowwerige koningshuis.

Net ’n paar weke ná haar troue met prins Harry is Meghan op haar eerste alleen-uitstappie saam met koningin Elizabeth. Foto: Gallo Images/Getty Images

“Die koningin ken die struikelblokke as nuwe lede nie bystand kry nie,” het Ingrid Seward, skrywer van die biografie My Husband and I oor die koningin en manlief Philip, aan die Amerikaanse tydskrif People gesê.

“Sy kan nie van Meghan verwag om alles te weet as sy nie gewys word hoe nie.”

Die koningin het net ’n paar maande om aan Meghan se sosiale vaardighede te help poets, want in Oktober vertrek die hertogin saam met Harry op hul eerste koninklike toer: na Australië, Fidji, Tonga en Nieu-Seeland.

“Sy wil nie hê 70 jaar se harde werk moet verniet wees nie,” het Ingrid bygevoeg, met verwysing na die tydperk wat die koningin aan die stuur van die Britse monargie is. “Ek is seker sy voel Meghan het ’n ferm hand in hierdie eerste dae nodig.”

Volgens die koningin se voormalige perssekretaris Charles Anson “is dit hoe die koningsgesin dit doen – dit vorm alles deel van die opleiding en om daaraan gewoond te raak om in die openbare oog te wees”.

Die eerste kitskursus waarop Meghan gestuur is, was die treinbesoek aan Cheshire, sowat 320 km noordwes van Londen. En sy het die koningin sowaar sonder enige ander lede van die koninklike familie op dié reis vergesel.

Die bejaarde monarg en haar ywerige student moes ’n besige program volg en onder meer die inwyding van ’n brug en ’n teater sowel as ’n formele middagete bywoon.

Hulle het soontoe gereis in die deftige koninklike trein omdat die koningin glo nie daarvan hou om vroeg op te staan en dan per motor in die pad te val nie.

Dis vir haar veel gemakliker om rustig in die ruim trein uit te span. En Meghan was waarskynlik ingenome om die treinreisuitnodiging van die koningin te ontvang – haar man en skoonsuster, Kate (36), was nog nie een so gelukkig om dié voorreg te hê nie.

Selfs prins William (36), wat ná sy pa die troon sal bestyg, was nog net een keer op die trein, berig die tydskrif Hello! Dié eerste amptelike afspraak saam met die koningin, en sonder haar man aan haar sy, is ’n teken van hoe baie Harry se ouma van haar hou, sê koninklike kenners.

Kate was nie so gelukkig nie en moes ’n volle jaar ná haar troue in 2011 wag voor sy alleen saam met die koningin in die openbaar kon optree.

Dit was toe die kruidenierswinkel Fortnum & Mason sy opgeknapte restaurant geopen het. Dit gons nou natuurlik die Amerikaanse aktrise is die koningin se witbroodjie, maar volgens Richard is dit nie die geval nie.

“Ek verstaan die besluit is geneem omdat die hertogin van Sussex meer hulp nodig het om by die koninklike lewe aan te pas as wat die reeds afgeronde Kate Middleton nodig gehad het.”

Volgens hom het iemand in die koninklike binnekring verduidelik: “Onthou, anders as Kate het sy nie ’n familie hier op wie sy kan steun nie.”

“Die koningin wil haar graag op haar gemak stel,” het een van haar personeel glo laat val.

Meghan het aanvanklik maar erg op haar senuwees gelyk, selfs al ken sy as aktrise die fynere kunsies van voor die skares voorgee. Sy het aan haar noupassende Givenchy-rok gevroetel en kort-kort aan haar hare gepeuter.

Maar namate die dag ontvou het, het sy ál gemakliker en gelukkiger begin lyk. En kort voor lank was dit duidelik sy geniet die uitstappie gate uit – en die koningin geniet haar geselskap selfs meer.

Die twee het soos skoolmeisies gegiggel en die koningin het in die openbaar gelag soos sy lank laas gesien is. En dís toe Meghan weer begin blom.

Die koningin en Meghan het in ’n luukse slaaptrein na Cheshire gereis. Foto: Gallo Images/Getty Images

“Teen die tyd dat sy toegekyk het hoe die koningin twee gedenkplate onthul, ’n formele middagete bygewoon en ontelbare bossies blomme aanvaar het, het haar styfheid van die oggend weggesmelt en het sy begin ontspan,” sê Kay.

As 'n voorstander van die bemagtiging van vroue kon Meghan, ’n uitgesproke feminis, nie ’n beter rolmodel as die Britte se langs regerende monarg gevra het nie.

In haar verlowingsonderhoud met die BBC het sy juis met die grootste ontsag van die koningin gepraat. Maar eindelik is die koningin nie net vir haar ’n voorbeeld en bondgenoot nie – dis ook haar nuwe man se liefdevolle ouma; haar nuwe skoonouma.

“Dis ongelooflik om haar deur Harry se oë te sien, nie net sy respek vir haar as koningin nie, maar ook die liefde wat hy vir haar as ouma het,” het Meghan in haar onderhoud met die BBC gesê.

“Al daardie lae is vir my belangrik, so toe ek haar die eerste keer ontmoet, het ek ’n diep begrip en respek gehad vir die tyd wat ek saam met haar kon deurbring.”

Meghan het meer vryheid as haar skoonsuster en die skoonma wat sy nooit geken het nie. Sy sal die ruimte hê om meer van die warmte te wys wat Diana so graag as deel van haar koninklike beeld wou wys.

Die opvallende ooreenkomste tussen sy ma en sy vrou is moontlik wat Harry in die eerste plek na Meghan aangetrek het.

“Iets wat waarlik Harry se aandag getrek het, was hoe sy van binne is,” sê Victoria Murphy, ABC News se koninklike verslaggewer.

“Meghan is iemand wat, nes Diana, ernstig is oor die dinge waarin sy glo, wat haar deur haar hart laat lei en nie bang is om haar sê te sê nie.”

Net soos Diana verskuif Meghan grense, sê Patrick Jephson, Diana se voormalige privaat sekretaris.

“Meghan het ’n ongelooflike verhaal van haar eie sukses en diverse agtergrond. Al hierdie dinge sal help dat die monargie relevant bly.” 

Kate se regterhand in haar begindae

Hoewel Kate, anders as Meghan, in die Britse hoë klas grootgeword het, het sy ook tydens haar eerste dae as voltydse koninklike by die koningin leiding gekry.

Blykbaar wou die koningin so toeganklik moontlik wees en nie dieselfde foute begaan as destyds met William en Harry se ma, wyle prinses Diana, nie.

“Sy doen baie moeite met Kate,” het ’n bron destyds gesê. “Kate se vordering as hertogin van Cambridge word met die grootste sorg bestuur.”

Die koningin het ook aan Kate bystand verleen toe sy hertogin word – dié foto’s is in 2012 geneem. Foto: Gallo Images/Getty Images
Foto: Gallo Images/Getty Images

Kate moes aanvanklik ook maar ’n bietjie gepoets word vir haar nuwe lewe, sê die koninklike skrywer Geoffrey Levy.

“Daar was niks te drasties nie; net ’n soom hier en daar moes langer wees en sy mag nie voor die kameras die aandag wil trek nie. Dit kom daarop neer die koningin wou nie hê Kate moet ’n tweede Diana word nie.”

As die toekomstige koning se vrou is Kate se rol uitdagender as dié van Meghan. Harry is sesde in die ry van aanspraakmakers op die troon, met sy pa, prins Charles, broer, prins William, en dié se kinders, prins George (4), prinses Charlotte (3) en prins Louis (2 maande), voor hom.

‘Onthou, anders as Kate het sy nie ’n familie hier op wie sy kan steun nie. Die koningin wil haar graag op haar gemak stel’

Soveel gemeen

Al kom die koningin en Meghan uit verskillende agtergronde, het ’n vriendskap tydens die Cheshire-uitstappie duidelik tussen dié twee geblom.

Eintlik, meen koninklike kenners, het hulle meer gemeen as wat ’n mens sou dink.

As World Vision-ambassadeur het Meghan Indië in 2017 besoek om meer te leer oor meisies se toegang tot goeie opvoeding. Foto: World Vision Canada

Hart vir liefdadigheid

Meghan se passie vir liefdadigheidswerk tel in haar guns.

In 2016 by die Laer­skool Mbandazi in Rwanda. Foto: World Vision Canada

Die koningin het haar hande vol as beskermvrou van meer as 600 liefdadigheidsorganisasies en dis iets wat haar al haar lewe lank na aan die hart lê.

Die koningsgesin gee graag krediet aan Meghan se begeerte om mense te help, en op die amptelike koninklike webtuiste word groot gewag daarvan gemaak.

“Van ’n jong ouderdom was die hertogin van maatskaplike kwessies bewus en neem sy aktief aan liefdadigheidswerk deel,” staan op Meghan se profiel op royal.gov.uk geskryf.

Dis te verstane die koningin gee ál meer die teuels oor aan die jonger lede van haar familie – wie wil op 92 nog so bedrywig wees?

Die koningin besoek in 2011 die Koninklike Stigting van Sint Katharina, ’n inrigting vir armes. Foto: Gallo Images/Getty Images

Meghan is die ideale kandidaat om by haar oor te neem wat filantropiese werk betref.

“Dit sal interessant wees om te sien watter organisasies sy kies en hoeveel. ’n Mens kan gerus ook onthou Diana het in 1996 haar betrokkenheid tot ses organisasies gesnoei,” sê die koninklike kommentator Richard Fitzwilliams.

“Ek vermoed Meghan sal, nes Diana, minder as die ander lede van die koninklike familie kies sodat sy persoonliker daarby betrokke kan wees.”

Verknogtheid aan diere

Meghan en die koningin is albei dol oor honde. Met hul eerste ontmoeting het die koningin se geliefde corgi’s op die nuweling verlief geraak – en vir die koningin kan daar glo geen beter stempel van goedkeuring wees nie.

Meghan en haar hond Bogart, wat te oud was om saam met haar na Engeland te trek. Foto: Instagram

“Dit was baie oulik,” het Meghan al oor dié geleentheid vertel toe sy en Harry die koningin die eerste keer saam besoek. Harry het heel jaloers bygevoeg: “Die afgelope 33 jaar is daar vir my geblaf. “Dié een loop in en daar’s niks. Net sterte wat waai.”

Liefde wat grense oorskry

’n Ander ooreenkoms tussen Meghan en die koningin is dat albei se keuse van ’n huweliksmaat nie aldag maklik was nie. Die jong Elizabeth moes baklei om met die liefde van haar lewe, Philip, te trou.

Elizabeth en Philip in 1947 nadat hulle hul verlowing aangekondig het. Foto: Gallo Images/Getty Images

Hy was destyds bekend as prins Philip van Griekeland en Denemarke en die seun van ’n aristokraat met Nazibande. Meghan en Harry moes ook aanvanklik kritiek verduur.

Harry en Meghan tydens die onlangse Vaandelparade. Foto: Gallo Images/Getty Images

As geskeide Amerikaanse aktrise was Meghan nie die adellike rykmansdogter wat die snobistiese Britse hoë klas noodwendig vir die prins verkies het nie.

Bronne: People, Hello!, Daily Mail, Vanity Fair, The Mirror, Harper's Bazaar, ABC News