Plig kom eerste. Dis nog altyd koningin Elizabeth se leuse, al sedert sy die Britse troon meer as 66 jaar gelede bestyg het. En dis wat sy van haar familielede ook verwag.

Om by geboorte ’n koninklike lewe te erf is een ding, maar in haar oë is hulle daar om die publiek te dien, en hulle moet dit nooit vergeet nie. Die koningin is al daarvan beskuldig dat sy eerder ’n stywe bolip voorhou as om warmte en emosie te wys.

En tog het sy ’n sagte kant. Die mense in die binnekring sê dit was juis nou weer duidelik in die manier waarop sy haar kleinseun se rebelse optrede en skokbesluite onlangs hanteer het.

Die monarg het prins Harry goedgunstiglik toegelaat om die koninklike lewe agter te laat en saam met sy vrou, Meghan, en hul eersteling, klein Archie, na Kanada uit te wyk.

Ja, sy’s dalk teleurgesteld, maar daar is een ding wat sy nooit sal doen nie, en dit is om haar brose en duidelik ongelukkige kleinseun te verneder, meen ingeligtes.

meghan en harry
Harry en Meghan se huwelik haal die nuusopskrifte net so gereeld soos prinses Margaret s’n het. Foto: Great Stock/Backgrid

Hoekom nie? Want sy verstaan maar te goed waardeur hy gaan . . . Die koningin werk in ’n mate sagkens met Harry omdat sy eerstehands beleef het hoe haar jonger suster, prinses Margaret, in haar skaduwee sukkel.

“Sy is spesifiek sensitief vir Harry se gevoelens omdat sy so na aan Margaret was en dieselfde drama en spanning twee geslagte gelede sien uitspeel het,” sê die koninklike biograaf Robert Lacey.

Nes Margaret is Harry eintlik as ’n “ekstra koninklike” grootgemaak, voeg hy by: ’n jonger broer of suster vir die aanspraakmaker op die troon, altyd gedwing om op die agtergrond te staan en toe te kyk hoe die kollig skyn op die ouer sibbe, prins William in Harry se geval.

prinses margeret
Haar eksman, Tony Amstrong-Jones, het gesê Margaret was ’n “natuurlike no. 1 wie se tragedie dit was om as no. 2 gebore te word”.' Foto: Gallo Images/Getty Images

Om hul eie paadjie oop te trap sou altyd vir Margaret en Harry moeilik wees, en Robert glo die koningin het simpatie hiervoor. Dit het ’n groot rol gespeel in haar besluit om Harry ’n nuwe lewe ver van die koningshuis te laat skep.

“Die jongerkindsindroom is ’n voortdurende probleem,” sê Robert. “Die stelsel kon nog nie ’n manier kry om hulle die erkenning te gee wat hulle nodig het nie.”

Enigeen wat die Netflix-reeks The Crown gekyk het, sal als van Margaret se wroeging weet. In die drie seisoene van die treffer- koninklike drama het sy verander van ’n sorgelose jong vrou in ’n gepynigde prinses wat die een sigaret ná die ander rook.

In een episode merk Tony Arm-strong-Jones, met wie Margaret toe getroud was, op dat sy ’n “natuurlike no. 1 is wie se tragedie dit was om as no. 2 gebore te word”.

Tog het Margaret, wat in 2002 op 71 oorlede is ná ’n beroerte in haar slaap, en Harry meer met mekaar gemeen as net tweedekindsindroom: Hulle deel dieselfde vurige, rebelse gees.

“Prinses Elizabeth was al sedert haar kinderjare – nes prins William – die pligsgetroue, verstandige een, terwyl Margaret – nes Harry – impulsief, rebels en aangetrokke tot die kollig was,” sê Harry Mount, ’n Britse joernalis.

Nog lank voor Harry as die partytjieprins bekend geword het, het sy groottante die titel van koninklike partytjie- prinses gedra – iemand wat lief was vir rook en drink, op die luukse eiland Mustique vakansie gehou het, by modevertonings in Milaan en Parys in die voorste ry gesit en saam met Hollywoodsterre gekuier het.

In die 1960’s en ’70’s het sy saam met mense soos Mick Jagger, Elizabeth Taylor en Frank Sinatra op foto’s verskyn. En nes met Harry was haar liefdeslewe nie sonder drama nie.

Kol. Peter Townsend, haar pa se gewese assistent, het haar betower, maar omdat hy geskei was, moes sy tussen hom en haar koninklike lewe kies.

marget en peter townsend
Prinses Margaret saam met kol. Peter Townsend, met wie sy nie kon trou nie omdat hy geskei was. In daardie tyd was skei ’n taboe. Foto: Gallo Images/Getty Images

Egskeiding was toe ’n taboe, en sy sou haar rug op haar lewe van rykdom moes keer as sy die liefde gekies het.

Twee kinders is uit haar huwelik met die fotograaf Antony Armstrong-Jones gebore – David Armstrong-Jones (nou 58) en Sarah Chatto (nou 55), maar die egpaar is ná 18 jaar geskei.

Nog ’n ooreenkoms met haar kleinneef is dat daar vermoed word sy het ook met haar geestesgesondheid gesukkel, hoewel dit onder die mat gevee is; anders as met Harry wat gereeld oor sy stryd praat.

Helena Bonham Carter (53), wat die rol van Margaret in seisoen drie en vier van The Crown vertolk, reken Margaret het aan depressie gely. Sy glo die prinses het haar eie lewe met ’n oordosis pille probeer neem “toe haar huwelik in die 1970’s in duie gestort het”.

Maar vriende het nog altyd ontken dat Margaret ooit haar eie lewe wou neem, en die prinses het dit self afgemaak. “Ek was so doodmoeg as gevolg van alles dat ek net wou slaap – en ek het, dwarsdeur tot die volgende middag,” het sy op ’n keer oor dié pil-episode vertel.

Christopher Warwick, skrywer van Princess Margaret: A Life of Contrasts, sê die koningin se jonger suster was ’n koninklike oortreder van die reëls.

“Sy is as ’n baanbreker beskou omdat sy met ’n voet in twee wêrelde gestaan het – die koninklike wêreld met al sy tradisie en die moderne wêreld.

Elizabeth en Margaret het dalk baie verskil, maar daar was “groot liefde tussen hulle,” sê Christopher. “Hulle het elke dag oor die telefoon gepraat, al was dit net ’n paar minute.”

Margaret het haar suster altyd in haar koninklike pligte ondersteun. “Ek gryp enige geleentheid aan om te help,” het sy op ’n slag gesê.

“Op my eie nederige manier het ek nog altyd probeer om my suster se las ’n bietjie ligter te maak.”

Volgens Harry Mount is hul hegte band danksy hul veilige grootwordjare saam met hul ouers, George VI en koningin Elizabeth.

prinses margeret
Koningin Elizabeth (links) en haar suster het ’n hegte band gehad. Foto: Great Stock/Shutterstock

“Nie een van hulle het gedink aan wie die troon sou bestyg nie.” Dit was eers toe hul oom Edward abdikeer om met die geskeide Wallis Simpson te trou dat dit duidelik geword het Elizabeth sou eendag koningin word.

“Teen daardie tyd was die familiedinamika reeds gevorm sonder die vlek van die magstryde wat dikwels saam met die erf van ’n kroon kom,” sê hy.

In teenstelling hiermee, sê hy, was Harry en William se grootwordjare veel onstuimiger, met hul ouers se stormagtige huwelik, bittere egskeiding en later hul ma, Diana, se tragiese dood.

Harry was ook van jongs af bewus van sy “nommer twee”-posisie, sê die koninklike kenner Ingrid Seward, redakteur van die tydskrif Majesty. 

william en harry
Harry en prins William se verhouding het die afgelope ruk versuur. Foto: Gallo Images/Getty Images

Diana se lyfwag Ken Wharfe bevestig dit en vertel van ’n keer toe hy saam met Diana en haar seuns in ’n motor gery het en Harry stout was. William het met sy jonger broer geraas, en Harry het teruggekap: “Ek kan doen wat ek wil, want ek gaan nie koning wees nie. Jy gaan.”

Die broers se verhouding was sedert Meghan se verskyning op die toneel gespanne. William dink Harry moes gewag het voor hy aan die Amerikaanse aktrise verloof geraak het.

William, meen Harry Mount, moes sy ouma se voorbeeld gevolg het in hoe hy sy jonger broer hanteer. Sy het Margaret in toom gehou wanneer sy teen koninklike konvensie geskop het en haar ferm laat weet wanneer sy te ver gegaan het.

Maar sy het dit met liefde gedoen, en die band tussen hulle – hoewel soms gespanne – het tot Margaret se dood gebly. Nou is haar kleinseun die koningin se grootste bekommernis.

“Haar Majesteit sal nie tob oor die afskeid nie,” sê Ingrid oor Harry se besluit om die lewe as ’n werkende koninklike te groet.

“Sy is pragmaties. Sy het ’n deur vir Harry oopgelos deur te sê die nuwe reëling gaan oor 12 maande hersien word. “Sy het dit ter wille van Harry gedoen. Sy welstand is haar topprioriteit.”

Bronne: townandcountrymag.com, daily mail, telegraph.co.uk, express.co.uk, people.com, graziadaily.co.uk