Nie net gaan ons nie by Meghan (37), die hertogin van Sussex, en prins Harry (34) hoor wie hul seuntjie se peetouers is nie; ons gaan ook nie tot ’n latere stadium foto’s van die doop sien nie.

Volgens ’n verklaring deur Buckinghampaleis is dit die hertog en hertogin van Sussex se wense om nie die peetouers se name bekend te maak nie en sal hulle eers later foto’s van die spesiale dag met aanhangers deel.

En daar is nog skokke: Archie se ouma, koningin Elizabeth (93) gaan glo nie die doop Saterdag bywoon nie. Nee, dit is nie een of ander familiedrama nie; die koningin het glo reeds ander verpligtinge. 

Net 25 gaste, insluitend prins Charles (70) en sy vrou, Camilla (71), prins William (37) en sy vrou, Kate (37), die hertogin van Cambridge, gaan die doop by die privaat kapel in die Windsorkasteel bywoon.

Maar die Briste koerant die Mirror het reeds begin name rondgooi van wie hulle dink Meghan en Harry se keuse vir peetouers is. 

Volgens die Mirror kan die Amerikaanse mediamagnaat Oprah Winfrey (65), ’n groot ondersteuner van Meghan, dalk Archie se peetma word. Wie sou nie dié miljardêr as hul peetma wou hê nie?

Die akteur George Clooney (58), wat Meghan se troue bygewoon het, kan ook dalk peetpa word. Hy was destyds by die paartjie se troue en is goed bevriend met albei. 

Die Kanadese modestilis, Jessica Mulroney (39), een van Meghan se beste vriende, is ook op die Mirror se lys van kandidate. 

Misha Nonoo, wat Meghan en Harry glo aan mekaar voorgestel het, staan ook ’n kans, berig Mirror. 

Die sakeman, Charlie van Straubenzee, ’n skoolvriend van Harry, mag ook dalk die peetpa word, sowel as sy ander vriend en vertroueling, Mark Dyer.

Ons wonder steeds wie dit sal wees, maar met die krapperige Britse media wat die Sussex-paartjie se elke beweging dophou, sal ons gou weet wie die peetouers is. En dan sê ons vir jou. 

Bronne: Mirror, Express