Die hertog en hertogin van York was onskeibaar tydens ’n onlangse uitstappie saam met hul oudste dogter, prinses Beatrice (30), en dié se nuwe kêrel, die skatryk entrepreneur Edoardo Mapelli Mozzi (34), berig Daily Mail.

Die gesin het die afgelope week die Grand Prix in Bahrein gaan kyk. Prins Andrew (59) het Bahrein op uitnodiging van die koninkryk se kroonprins Salman bin Hamad bin Isa Al Khalifa besoek en sy eksvrou, Fergie (59), het hom as sy amptelike metgesel vergesel, berig The Independent.

Dit is die eerste keer in 25 jaar dat Fergie Andrew vergesel op amptelike sake in die buiteland sedert hulle 22 jaar gelede geskei het.

Andrew en Fergie het oor die jare goeie vriende gebly ná hul egskeiding. Sy is glo op goeie voet met haar voormalige skoonma, koningin Elizabeth (92), maar prins Philip (97) het glo nie juis ooghare vir haar nie omdat sy oor die jare by tye ’n vuurrooi verleentheid vir die koningsgesin was, veral toe sy in 1992 tydens ’n vakansie in die suide van Frankryk bostukloos met haar Amerikaanse kêrel John Bryan gekiek is terwyl dié haar tone suig.

Dis nie die eerste keer die afgelope jaar dat daar gegis word dat Fergie en Andrew dalk weer hul verhouding hervat het nie.

Die ekse was oor die jare daaraan toegegewy om hul dogters, prinsesse Beatrice en Eugenie (29), ’n stabiele opvoeding te gee, al het hul paadjies geskei. Hulle deel selfs ’n woonplek by Royal Lodge en ’n luukse chalet in Verbier, Switserland.

Ons kyk terug op hul pad tot hier . . .

Fergie en prins Andrew het in 1985 by ’n partytjie by Windsor-kasteel ontmoet nadat prinses Diana hul albei glo daarheen genooi het.

Hulle het later ’n paartjie geword, en Andrew het sy meisie op 19 Februarie 1986 – op sy 26ste verjaardag – die groot vraag gevra.

Foto: Gallo Images/Getty Images

Hul verlowing is op 27 Maart 1986 aan die wêreld bekendgemaak. Vier maande later het hulle by die Westminster-abdy in Londen ewig trou aan mekaar belowe.

The wedding of Prince Andrew, Duke of York, and Sa
Foto: Gallo Images/Getty Images

Die gelukkige paartjie het ’n jaar later swanger geword met hul eersteling. Prinses Beatrice is op 8 Augustus 1988 gebore.

Dit was nie lank voordat Fergie en Andrew nog ’n baba tot hul gesin gevoeg het nie. Hul tweede dogter, prinses Eugenie, is op 23 Maart 1990 gebore. 

View this post on Instagram

Happy birthday my Trixie - Belle so proud of you xx

A post shared by Sarah Ferguson (@sarahferguson15) on

Op 19 Maart 1992, kort voor hul jongste spruit, Eugenie, se tweede verjaardag, het die hertog en hertogin van York aangekondig hul paadjies gaan skei.

Hulle het toe die prins se lang tydperke weg van die huis as rede gebruik vir die besluit om hul huwelik te beëindig.

In Augustus daardie jaar was Fergie voorbladnuus toe sy gekiek is terwyl haar Amerikaanse kêrel John Bryan langs ’n swembad in die suide van Frankryk haar tone suig.

Andrew en Fergie het in Mei 1996 ná vier jaar van vervreemding eindelik amptelik geskei en gedeelde toesig oor hul kinders gekry.

Ten spyte hiervan het Sarah steeds koninklike funksies bygewoon en selfs verlede jaar by hul dogter Eugenie se troue by die St. George’s-katedraal haar plek langs Andrew in die voorste gestoeltes ingeneem.

Toe sy voorheen gevra is of die twee weer ’n paartjie sal word, het sy gesê: "Hy is nog steeds my aantreklike prins en sal altyd my aantreklike prins bly." 

View this post on Instagram

Happy Birthday Andrew ?? @hrhthedukeofyork

A post shared by Sarah Ferguson (@sarahferguson15) on

Bronne: Daily Mail, The Independent, Express.co.uk,Hello!