Die paartjie het Vrydag, 17 Mei, eindelik die knoop deurgehaak, berig Sarie eksklusief. Huisgenoot het onlangs die paartjie se romantiese avonture bekyk. Die twee avontuurlustige akteurs en fliekvervaardigers is genoeg om enigiemand groen van jaloesie te maak! Lees ons vorige berig hier en kyk net hoe die duifies ons almal aan die raai gehad het.

DONNALEE EN IVAN SE 'WITTEBROODLEWE'

Tequila om die Nuwejaar in Mexiko welkom te heet. See en son in Zanzibar. ’n Yskoue Europa. Dit klink byna soos ’n wittebrood – en aanhangers wens waarskynlik dit was. 


Kyk ’n mens so na die prentjiemooi vakansiefoto’s waarmee die akteurspaar Donnalee Roberts en Ivan Botha die afgelope ruk in die sosiale media spog, kan jy nie anders nie as om te dink dit sou die ideale reis vir pasgetroudes gewees het. 

Maar dié goue paar van die Afrikaanse silwerdoek is mos lief daarvoor om geheimsinnig te wees wat hul verhoudingstatus betref. 

Eers het hulle lank geswyg oor of hulle verlief of net vriende is, en toe het die twee voormalige 7de Laan-sterre in 2017 verloof geraak sonder om te verklap wanneer die trouklokke gaan lui. 

Sal die sterre dalk stilletjies afhaak sonder om dit aan die groot klok te hang? 

Kyk ’n mens so na die prentjiemooi vakansiefoto’s waarmee die akteurspaar Donnalee Roberts en Ivan Botha die afgelope ruk in die sosiale media spog, kan jy nie anders nie as om te dink dit sou die ideale reis vir pasgetroudes gewees het.

Die duifies het vanjaar die Nuwejaar begroet met ’n reis wat net so romanties was soos die een wat hul karakters, Basson en Amory, na mekaar gelei het in hul eerste avontuurfliek, Pad na Jou Hart. 

Foto’s op hul sosialemediaprofiele getuig van Mexiko se kleurryke strate, ’n Maja-tempel en breërandhoede. En ’n paar dae voor dit die luilekker strandlewe in Zanzibar. 

Daar het Ivan se 10-jarige dogter, Amelie, uit sy huwelik met die aktrise Ciske Kruger saam met hulle in die waters baljaar en op die strand uitgespan. 

Ivan en Donnalee, wat in Mei 2017 verloof geraak h
Ivan en Donnalee, wat in Mei 2017 verloof geraak het, het ná ’n baie suksesvolle en bedrywige 2018 op die eiland Zanzibar uitgespan. Ivan se dogter, Amelie, was saam. Foto: Instagram/@donnalee_r

En voor dit het die verliefdes in die winterwêreld van Brugge in België en Praag in die Tsjeggiese Republiek gekuier. 

“Twee van my gunstelingdinge. Hande vashou en plekke verken,” het Donnalee geskryf by een van die foto’s waar hulle hand aan hand oor ’n brug wandel. 

“En as jy dit saam met jou gunstelinggunsteling doen, is dit ’n bonus.” 

Smoorverlief, dis gewis. Maar wanneer word ’n troupand dan langs daardie lieflike verloofring aan Donnalee se slanke vinger ingeskuif? 

Die besige paartjie weet hoe om selfs werk na ’n romantiese avontuur te laat lyk, maar agter die skerms is dinge nie aldag glansryk nie. 

Dié stralerjakkers het ook ’n Europese winter erva
Dié stralerjakkers het ook ’n Europese winter ervaar. Foto: Instagram/@donnalee_r

Die sukses by die loket van hul fliek Stroomop, wat verlede jaar op Vrouedag uitgereik is, getuig nes sy voorgangers van maande se bloedsweet, fyn beplanning en ’n breedvoerige reklameveldtog. 

Maar ondanks die feit dat verhoudings en romanse in hul lokettreffers Pad na Jou Hart (2014) en Vir Altyd (2016) ’n sentrale tema is, is dit die één onderwerp waaroor dié twee selde ’n woord rep. 

Net in die sosiale media koer die paartjie gedurig oor en weer. 

Hulle deel dikwels foto’s van liefdevolle soene en vrolike oomblikke terwyl hulle saam die wêreld verken – hul oë die ene sterre. 

“Reisgenoot, medevlieënier, lewe-doener, droom-deler, sielsmaat, beste vriend en Valentyn vir die res van ons lewe,” het Donnalee op Valentynsdag by ’n foto van ’n hartstogtelike soen voor ’n tempel in Mexiko geskryf. 

En Ivan het dieselfde foto gedeel met net so ’n liefdevolle antwoord: “Gelukkige Valentynsdag. Hoop jy kry die kans om iemand te soen wat jy liefhet. Ek doen. #GelukkigsteOuOoit.” 

’n Soen voor ’n Maja-tempel.
’n Soen voor ’n Maja-tempel. Foto: Instagram/@ivanbotha17

Toe die glanspaar op Instagram ’n foto deel waar hulle in dié land glasies met tequila klink, het ’n aanhanger die aktrise in die kommentare gevra waar haar verloofring is. 

’n Ander wou weet of hulle reeds afgehaak het. Toe nog ’n agie oor die afwesigheid van Donnalee se knewel uitvra, het sy geantwoord: “Veilig in ons kluis gebêre.” 

Verlede jaar was ’n jaar vol opwinding vir die paartjie en tot dusver lyk dit of 2019 net soveel belofte inhou. 

Donnalee het vroeër vanjaar haar eie klerereeks en aanlyn winkel, The Romantic Collective, bekendgestel. Van die klere ontwerp sy self, terwyl ander stukke ingevoer word. 

En nes met hul ander projekte pak die twee dié ding saam aan en bly hulle mekaar se grootste ondersteuners. 

Hulle deel dikwels foto’s van liefdevolle soene en vrolike oomblikke terwyl hulle saam die wêreld verken – hul oë die ene sterre.

Ivan deel ook graag in die sosiale media foto’s van die kleurryke uitrustings waarin Donnalee haar lyf model hou. 

“So trots op my verloofde, Donnalee Roberts, se eie reeks #GirlBoss,” het Ivan by een van die reklamevideo’s geskryf. 

Boonop het hulle verlede jaar verklap dat hulle die Goudstad vir die Moederstad verruil en dat hulle eendag graag hul kinders daar wil grootmaak. 

Onlangs het Donnalee op Instagram bevestig dat hulle getrek het. “Huis is waar ook al jy is...Maar dit is die wonderlikste wonderlik dat ons dit nou Kaapstad kan noem,” het sy by ’n foto geskryf met Tafelberg op die agtergrond. 

Dié skuif beteken Ivan sal nader aan Amelie (10) wees aangesien sy verlede jaar saam met haar ma, Ciske, stiefpa, Kristof Kruger, en suster, Klara (3), Kaap toe getrek het. 

Ciske se derde dogter, Elisa Katryn Kruger, is op 11 Maart gebore. 

Ivan en Donnalee ry fiets op Seepunt.
Ivan en Donnalee ry fiets op Seepunt se promenade. Foto: Instagram/@donnalee_r

Ivan en Donnalee ken mekaar vanjaar al ’n dekade lank nadat hul paaie destyds op die 7de Laan-stel gekruis het. 

Albei was toe in hul 20’s en Donnalee het die rol van ’n aspirantmodeontwerper, Annelie, vertolk en Ivan dié van Pieter, ’n kunstenaar. 

Hul karakters het eindelik in die sepie afgehaak en albei akteurs het die Laan aan die einde van 2013 vaarwel toegeroep om hulle toe te spits op hul droom om rolprente te vervaardig. 

Sedert die uitreiking van Pad na Jou Hart in 2014 word hul name as ’n reël in een asem genoem. 

En met dié dat die karakters wat hulle in hul flieks speel gedurig verlief geraak het, kon mense nie help om te wonder of dié twee sakevennote nie ook die pad na mekaar se hart gevind het nie. 

Waar Ivan en Donnalee ook al heen gegaan het, het mense bespiegel oor of ’n romanse tussen hulle ontwikkel het. 

Ivan en Donnalee ken mekaar vanjaar al ’n dekade lank nadat hul paaie destyds op die 7de Laan-stel gekruis het.

Maar ondanks nuuskierige aanhangers se gegis het dié twee voet by stuk gehou: Hulle is bloot goeie vriende. Eindelik, in Augustus 2017, het hulle bekendgemaak: Hulle is ’n paartjie en boonop op pad kansel toe. 

Die twee het onthul dat hulle in November 2016, ná al die jare as vriende, besluit het om ’n romantiese verhouding ’n kans te gee. 

Ses maande later, in Mei 2017, het Ivan die mooie Donnalee die jawoord gevra. 

En waar anders as in die bekoorlike Nederland toe die twee stralerjakkers nóg ’n bestemming op hul wenslys afgemerk het? 

Saam het hulle al die wêreld platgereis en Amerika, Engeland, Thailand, Mexiko en Namibië besoek. 

Hulle verken ook graag Suid-­Afrika – ’n treinrit
Hulle verken ook graag Suid-­Afrika – ’n treinrit op die Rovos Rail. Foto: Instagram/@ivanbotha17

Wafels in Brugge, soene in die woestyn, tulpe in Nederland en mengeldrankies op Mauritius...

Met soveel herinnerings en eksotiese bestemmings wat hulle reeds besoek het, kan ’n mens nie help om te wonder nie: As die trouklokke dan nog nie in die geheim gelui het nie, wanneer breek hul groot dag aan, en wat sal die wittebrood vir dié glansryke akteurspaar inhou? 

Dolverliefde stralerjakkers

Die goue paartjie van die Afrikaanse rolprent-bedryf was al op meer oorsese reise as wat 
die meeste mense in ’n leeftyd sal ervaar.

Hier is van die idilliese bestemmings wat die twee ver­liefdes al saam besoek het: 

  • Mauritius – 2015 (verskeie besoeke) en Junie 2017
  • New York – Julie 2016
  • Thailand – Desember 2016
  • Londen – Mei 2017
  • Nederland – Mei 2017 (verlowing)
  • Namibië – Oktober 2018
  • België – Desember 2018
  • Tsjeggiese Republiek – Desember 2018
  • Zanzibar – Desember 2018
  • Mexiko – Januarie 2019


  • Huisgenoot het Ivan en Donnalee om ’n onderhoud genader en kommentaar oor hul vakansie en trouplanne gevra, maar hulle het geswyg.