Die paartjie het die afgelope week in Namibië deurgebring as deel van hul buitelugfliektoer, Onder die Sterre, om hul jongste rolprent, Stroomop, met ’n ander soort ervaring aan ’n selfs groter gehoor te bring.

"Een week in Namibië was beslis te kort. ’n Mens het meer tyd in daardie ongelooflike land nodig," het Ivan ná hul toer aan Huisgenoot gesê.

View this post on Instagram

Dankie Outjo! Windhoek ons hoop julle is reg vir vanaand? #makingmemories with @instaxsa. Dankie @varslugflieks_ vir die toer!

A post shared by Ivan Botha (@ivanbotha17) on

View this post on Instagram

Outjo ?????? NAMIBIA julle is LIEFLIK!! Wat ‘n voorreg om by julle te kan toer!! @stroomopfilm #OnderDieSterreToer #NamibiaToer #NamibiaOnderDieSterre @varslugflieks_

A post shared by Donnalee Roberts (@donnalee_r) on

"Harde werk werp vrugte af," het Ivan aan die begin van die jaar aan Huisgenoot gesê. En hoewel daar geen twyfel is dat Ivan (32) en Donnalee (34) hard werk en die vrugte daarvan pluk nie, wys hul foto’s op Instagram dat daar tog tyd vir plesier was. "Namate ons ouer word, het ons geleer om darem tussen werk ook ’n bietjie te speel," vertel Ivan.

Die paartjie het omtrent die meeste van hul tydjie in dié buurland gemaak. Hulle het die Etosha Nasionale Park in die noordwes van Namibië besoek, na wild gekyk, en Ivan vertel dat dit veral lekker was om die kusdorpies ook te kon beleef. “’n Hoogtepunt was om in Swakopmund tussen die duine te ry," vertel Ivan.

Tussen die werk en pret deur was daar duidelik ook tyd vir romanse tussen die duine en dié tweetjies, wat in Mei 2017 verloof geraak het, het die oulikste foto van ’n soen met hul volgelinge op Instagram gedeel.

"Dit is altyd spesiaal om te toer saam met die mense vir wie jy lief is. Dit is ’n groot voorreg om die wêreld saam te kan beleef," sê hy. "Dit was ’n ongelooflike belewenis en ’n goeie balans tussen werk en om ’n bietjie toeriste wees," vertel die akteur, wat ook in die regisseurstoel vir Stroomop gesit het.

"Die natuur herinner ’n mens verskriklik baie aan Stroomop en laat ons sommer baie terug verlang," sê Ivan.

Groot dele van die fliek is op die Oranjerivier verfilm wat tussen Suid-Afrika en Namibië grens en sommige tonele wat die kykers sien, is in Namibië self verfilm, verduidelik hy.

Stroomop het op Vrouedag in teaters begin en is tans op DVD en op DStv se Box Office beskikbaar. Donnalee het by die première in Kaapstad gesê dat dit spesiaal is om dié projek in een jaar te voltooi – van die verfilming aan die begin van die jaar, tot die DVD wat nou aan die einde van die jaar vrygestel word en die bemarking wat rondom dit plaasvind.

"Ons skryf Stroomop ook vir internasionale filmfeeste in en hou daarvoor duimvas, en dan gaan ons ’n welverdiende blaaskans neem en ’n Desembervakansie hou soos nog nooit tevore nie," verklap Ivan.