Sy wortels

Die Jacaranda FM-omroeper en veldaanbieder van die kykNET-geselsprogram Klop! (Kô, Lat Ons Praat) het in 2009 aan die Hoërskool Centurion gematrikuleer en daarna drama aan die Universiteit Stellenbosch studeer.

Hy het sy hart op Kaapstad verloor en was sewe jaar lank ’n Kapenaar voor hy vanjaar na Pretoria teruggekeer het om by die Jacaranda FM-span aan te sluit. “Dis lekker om weer terug in my ouerhuis te wees,” sê Renaldo (26), die jongste van drie kinders.

Hy geniet sy ma, Verenia (53), se kos. Sy is ’n rekenmeester by ’n Johannesburgse gesondheidsmaatskappy en pa Desmond (55) ’n afgetrede bestuurder in die bankbedryf wat deesdae sy eie Uber-onderneming in Centurion bestuur.

Sy pad na roem

Renaldo Schwarp is ’n omroeper by Jacaranda FM en ’n veldaanbieder vir die TV-program Klop! Foto: Verskaf

Renaldo het ’n beurs gekry om regte aan Maties te studeer, maar het dit van die hand gewys om sy “passie te volg”. As dramastudent het hy in sy derde jaar in TV- en radiowese gespesialiseer.

“Ek het klas gehad by bedryflegendes soos Elsabé Daneel en Susanne Beyers. Hulle het my passie vir die media raakgesien en my aangemoedig om by die kampusradiostasie MFM 92.6 aan te sluit,” vertel hy.

Hy is in 2015 genader om by die Kaapse radiostasie Smile 90.4 FM aan te sluit. Twee jaar later het hy ’n daaglikse laataandkletsprogram op nog ’n Kaapse radiostasie, CapeTalk, aangebied.

“In dieselfde jaar het ek my debuut op die kassie gemaak as aanbieder van VIA se weeklikse Afrikaanse vermaakprogram #Gons.” En nou wys hy ook gesig in kykNET se program Klop!

“My passie is mense en my doel is om stories te vertel; dus is dit lekker dat ek dit op sulke lekker en groot platforms kan uitleef.”

’n Droom word waar

“Om vir Jacaranda FM te werk was nog altyd ’n droom omdat ek van kindsbeen af na dié stasie geluister het. Dis vir my lekker dat ek nou, op 26, daardie droom ’n werklikheid kan maak.”

Oor naweke bied hy hul High School Hits-program aan.

In goeie geselskap

View this post on Instagram

Vrydag werk dinge met @carlamackenzie7 ??

A post shared by Renaldo Schwarp (@renaldoschwarp) on

Renaldo is vriende met verskeie bekende gesigte en stemme op radio en TV. Carla Mackenzie is nes hy ’n Klop!-veldaanbieder en Jacaranda-omroeper.

“Dit is vir my baie lekker dat ek van my universiteitsdae af goeie vriende het saam met wie ek die pad kan stap,” vertel hy.

“Met die jare het ons nie net saam begin werk by groter radiostasies en TV-kanale nie; ons vriendskappe het ook gegroei. Dit is wonderlik om met hulle oor die struikelblokke en suksesse in die vermaakbedryf te kan gesels.”

Kitsfeite

  • “Ek bestee hopeloos te veel geld en tyd aan grooming,” vertel Renaldo. “Ek is ietwat van ’n serial groomer, alles van hare tot wenkbroue.”
  • Hy was eenkeer rooigesig toe hy by MFM tydens ’n nuusbulletin die Australiese rugbyspeler Quade Cooper se naam met ’n Xhosa-klikklank uitspreek.
  • Hy is trots op wie hy is. “Dit is vir my ’n groot voorreg om op die kassie en in radio te kan werk aangesien ek nooit iemand soos myself daar gesien het toe ek jonk was nie. Jonk, Afrikaans, bruin en gay.”
  • Sy gunstelingkos? “Vir eers is eksotiese seekosgeregte vir my heerlik.”