DIE TWEE JACKS

Die popgroep bestaan uit Jack Johnson en Jack Gilinsky (albei 22). Dié twee, van Omaha, Nebraska, is besties sedert hulle mekaar op hul eerste dag van kleuterskool ontmoet het.

’n Kiekie van hulle in hul kleuterskool­jare pryk juis op hul debuutalbum, A Good Friend Is Nice, wat onlangs uitgereik is.

VINE-STERRE

Hulle het in 2013 uit verveeldheid ’n profiel op die kortvideodiens Vine geskep en kitsroem verwerf – nes die sanger Shawn Mendes!

Vir hul eerste video het hulle “soos bleeksiele aangetrek en dit Nerd Vandals genoem”, vertel Johnson. Binne ’n uur het hulle 70 000 trefslae gehad en selfs die webtuiste Huffington Post het dit gedeel.

OP HUL SPEELLYS

Die tweestuks is versot op Amerikaanse rappers soos Jack Harlow, 6lack, J. Cole en Kendrick Lamar.

BEROEMDE EKS

Gilinsky het amper drie jaar met die sangeres Madison Beer (19) uitgegaan. Hul paadjies het in 2017 geskei.

NEE VIR AANLYN HAAT!

Hoe hanteer hulle kuberboelies?

“Tyler, The Creator het een van die beste twiets ooit gehad. Hy het gesê: ‘Hoe is kuberboelie enigsins werklik? Sit net jou foon neer,’ ” sê Gilinsky.

“Ek weet kuberboelies bestaan ook in die regte lewe, maar soms moet jy net jou foon afsit en wegstap.”