Sy jongste album is geïnspireer deur “Suid-Afrika, al die lekker mense hier en die goeie tye wat ek al in ons land gehad het”, vertel die musikant.

“Ook al die snaakse goed wat van Suid-Afrika Suid-Afrika maak, soos bunny chow.”

Gaskunstenaars en gunstelinge

Die gaskunstenaars vir sy album is uiteen­lopend. Jack (35) sing duette saam met bekendes soos Hunter Kennedy en Koos Kombuis.

Op sy nuwe album sing hy onder andere saam met Koos Kombuis (links).

Sy ­gunstelingsnit op die oomblik is die eerste enkelsnit, Boepens Vark.

“Jantjie Volstruis, saam met die Happy Boys, is ook een van my favourites, die een saam met Early B (K** Soek), en die een saam met HHP en Xander Ferreira (Siem Salabiem), en Vingerafdruk saam met Hunter. Jy weet wat, almal is my gunsteling,” lag hy.

Stylverkleurmannetjie

Jack het met die jare veral bekend geword vir die lang keps op sy kop.

“Ek dink namate ’n mens ouer raak, groei jou styl maar outomaties. Tye verander; so jy verander mos maar daarmee saam. My styl is beslis anders as vroeër. Of dit beter of slegter is, weet ek nie,” sê hy.

Lesse in die musiekbedryf

Jack, wat as Zander Tyler gebore is, wou op laerskool al ’n rapper word. Hy het eers in Engels gerap, maar later na Afrikaans oorgeslaan.

Sy eerste treffer was Cooler As Ekke.

Intussen het hy van krag tot krag gegaan in die plaaslike musiekbedryf. Verlede jaar het hy selfs ’n TV-reeks, Dis Hoe Ons Rol, op kykNET gehad. Dis binne 30 dae verfilm; in dié tyd het hy in elk van die nege provinsies op­getree.

“Dis baie harder werk as wat ek gedink het dit sou wees,” sê hy oor sy musiekloopbaan.

“Dis basies ’n 24/7/365-werk. En daar’s regtig iets soos drinkfiks.”

Jack Parow rol internasionaal

Hy het die af­gelope maand sy eie musiekfees, ParowFest, in Nederland gehou. Al die kaartjies daarvoor is uitverkoop en dit was ’n reusesukses.

“Dan doen ek ook my eie body board, die ParowTrooper, geskep saam met ’n vriend van my se maatskappy, The Hand Picked Movement,” vertel hy.

A post shared by Jack Parow (@jackparow) on

Jack spog ook met sy eie brandewyn, Parow Brandy, en “nog ’n paar lekker klein goedjies” is aan die kom, verklap die musikant en sakeman.

Kupido op die kassie

Jack neem vir die volgende seisoen van VIA se maatsoekprogram Die Kliek die aanbiedersleisels by die komediant Schalk Bezuidenhout oor.

“Ek like net om die pot ’n bietjie te roer, soos julle seker al weet, en dis die perfekte plek daarvoor!” vertel hy.

Met sy eie liefdeslewe gaan dit klopdisselboom. Hy en die model Jenna Pietersen is al jare saam en het ’n dogter, Ruby (5).

My other Mama's Birthday!

A post shared by Jenna Pietersen (@jennapietersen) on

VYF VINNIGE VRAE
  • Koffie of tee? Polisiekoffie.
  • Honde of katte? Honde.
  • Oggend- of aandmens? Aand.
  • Lees of TV? ’n Bietjie van albei, maar miskien meer TV.  
  • Gunsteling-wegneemete? RocoMamas . . . hul burgers loop!


RESENSIES

EINDELOSE LIEFDE: CAROLINE GRACE
***

Die debuutalbum van die jongste liefling van die Afrikaanse musiekbedryf bied uiteenlopende snitte, met alles van Christelike tot liefdesliedjies asook ’n Engelse bonussnit, Caroline se weer­gawe van Roxette se It Must Have Been Love.

Haar rustige stem en die harmo­nieuse klanke maak dit ’n album waarna jy luilekker kan luister.

– MARIZKA COETZER


PACIFIC DAYDREAM: WEEZER
***

Dié Amerikaanse rockers, wat bekend is vir treffers soos Island in the Sun en Pork and Beans, se 11de album volg net ’n jaar ná Weezer (oftewel die White Album).

Pacific Day­dream is net nog ’n versameling met tong-in-die-kies lirieke en ’n generiese popgeur. Dit lewer wel ’n paar treffers op, soos ’n ode aan die Beach Boys.

– JACQUES MYBURGH

Foto's: Peet mocke, Instagram