Elke Saterdagmiddag het die liedjieskrywer en sanger ’n vuurtjie aangesteek. 

Terwyl die Boesmansrivier lui deur die stil dorpie kronkel en in die Indiese Oseaan uitmond, het Jacques de Coning met ’n bier in die hand agteroor gesit en wag dat sy vlugduiwe huiswaarts keer.

So by die vuur wat knetter, het dit gelyk asof hy rookseine vir die duiwe stuur om vir hulle aan te dui: Hier is die huis. 

Hier op Boesmansriviermond in die Oos-Kaap is kalmte, warmte en berusting. 

Maar Jacques (52) het eintlik self eers onlangs berusting begin kry oor die verskriklike hartseer wat hy elke dag moes verduur – die seer sedert sy enigste seun, Basil, vyf jaar gelede op die ouderdom van 24 in ’n motorongeluk in Port Elizabeth gesterf het.

Jacques is op Sondag 2 Junie, nes sy seun, weens ’n motorongeluk oorlede.

Jacques kon dit nog nie oor sy hart kry om Basil se as te strooi nie; nou moet sy vrou en dogter ook sý as saamneem wanneer hulle pa en seun se laaste oorblyfsels saam oor die Boesmansrivier strooi.

Jacques is op Sondag 2 Junie, nes sy seun, weens ’n motorongeluk oorlede. 

Die sanger van liedjies soos Girl van die Klein Karoo en Grootvoël Paradys is in ’n botsing reg van voor op die pad tussen Alexandria en Boesmansriviermond in die Oos-Kaap dood.

Dis net vyf dae ná die ongeluk en sy vrou, Lynn, is steeds geskok en verslae toe sy Huisgenoot by ’n familievriend se kantoor in Port Elizabeth inwag. 

Die De Conings moet begrafnisreëlings tref – wéér ’n keer.

jacques de coning,sanger,ongeluk
Jacques was veral bekend vir sy weer­gawes van die FAK-liedjies. Foto: Verskaf

“Dit voel steeds vir my so onwerklik om te dink hy is nie meer saam met ons nie,” sê Lynn. 

Daar is kort-kort stiltes terwyl sy praat – so asof sy haar weg tussen die woorde deur soek.

“Ek was nog altyd die sterk een, ook met ons seun se dood, maar dié keer wil ek nie meer sterk wees nie. Ek wil net wees.

“Ek weet net ek sal die bal aan die rol moet hou, vir Jacques. Ek is steeds in skok oor sy dood, en ek besef dat ek alleen moet aangaan. Ek dink dit is vir my die moeilikste van alles.” 

Moedig sê sy: “Gelukkig het ons ongelooflike vriende en familie wat ons bystaan.”

“Dit voel steeds vir my so onwerklik om te dink hy is nie meer saam met ons nie,” sê Lynn.

En dan kraak haar stem. “Die huis is stil sonder sy energie.”

Want waar eens vier was, is nou twee. En waar ’n gesin saam gevestig was, bly net ma en dogter nou oor.

Lynn het op die eerste Sondagoggend in Junie oudergewoonte saam met ’n vriendin langs die see gaan stap.

“Ek was nog altyd mal daaroor om op die strand te stap. Jacques het nie van die sand gehou nie, maar ek het dit veral ná Basil se dood terapeuties gevind wanneer die see onstuimig raak en teen die rotse slaan. Wanneer ek by die huis gekom het, het dit vir my gevoel of ek sommer skoongewas is.”

Lynn was daardie Sondagoggend nog besig om strandlangs die seelug in te asem toe haar foon lui. “Ek het my foon saamgeneem, want ek het ’n oproep van Jacques verwag.” 

jacques de coning
Jacques saam met sy kinders toe hulle klein was. Joani sê vir haar was haar pa nog altyd “onoorwinlik”.Foto: Verskaf

So tussen sy musiekoptredes deur het Jacques ook grondverskuiwings­toerusting gemaak en herstel, en hy het dié oggend kliënte tussen Boesmansriviermond en Port Elizabeth gaan sien. 

“Dit was ’n familievriend met ’n plaas op daardie pad wat my gebel het.”

“Hy het my net gevra wat die registrasienommer van Jacques se motor is. Ek het dadelik geweet daar was ’n ongeluk.” 

Lynn het haar man probeer bel, maar sy foon was af. 

“Ek het geweet dis verby; hy is nie meer met ons nie,” sê sy in ’n stem wat met emosie gelaai is. 

“Hy het my net gevra wat die registrasienommer van Jacques se motor is. Ek het dadelik geweet daar was ’n ongeluk.”

Hulle was 31 jaar lank saam; in ’n oogwink was haar man met sy blou oë en speelse glimlag weg. 

Twee van die egpaar se vriende het na die ongelukstoneel gehaas en Lynn laat weet haar ergste vermoede is waar.

Haar gedagtes keer terug na die dag voor die ongeluk, die laaste keer dat sy, Jacques en hul dogter, Joani (27), saam tuis was. 

Asof sy van ’n droom vertel, skets sy die toneel: “Ons het die middag vuur gemaak. Dit was altyd sy ritueel terwyl hy gewag het dat die duiwe inkom. Ons het ’n worsie gebraai en dit saam met broodrolletjies geëet. Dit was elke Saterdag ons middagete. En ons laaste maaltyd saam.” 

Nadat een van Jacques se wedvlugduiwe verlede jaar die plaaslike duiweklub se kompetisie gewen het, was daar sprake dat hy vanjaar meer by die klub betrokke sou raak. 

jacques de coning,sanger,gesin
Die gesin in gelukkiger dae. Kloksgewys van links voor is Joani, Jacques, sy vrou, Lynn, en Basil. Foto: Verskaf

“Dit was sy plan, maar dis nou ook tot niet.” 

Lynn bel Joani en sit haar dogter se stem aan oor die luidspreker. 

“Vir my was my pa onoorwinlik. Hy was my held. Die eerste man wat ek ooit liefgehad het. Hy was die laaste mens wat ek gedink het so iets sal oorkom,” sê sy.

Joani is ’n sjef en sy, haar ma en Jacques was mal daaroor om saam kos te maak. 

“Ek het die voorraad gekoop en die tafel mooigemaak,” vertel Lynn. “Jacques en Joani het die kos berei.”

“Vir my was my pa onoorwinlik. Hy was my held. Die eerste man wat ek ooit liefgehad het. Hy was die laaste mens wat ek gedink het so iets sal oorkom,” sê sy.

“Gisteraand het ek sommer net begin kos maak,” vertel Joani nou oor die foon. “Niemand was tuis nie, maar ek het vir my en my pa gekook.” 

Joani en haar verloofde, Justin Fox (33), trou volgende jaar, en dis vir haar seer om te dink dat sy sonder haar pa na die kansel sal moet stap. 

“Dis vir my hartverskeurend, maar ek is net bly my pa het sy toestemming gegee dat ek en Justin trou. Om te weet hy gee sy seën beteken baie.” 

Jacques het baie met sy pyn en verlange geworstel ná Basil se dood, vertel sy vrou en dogter.

“Ek dink nie een van ons het al oor die dood van my broer gekom nie,” sê Joani. 

jacques de coning
Die De Conings het besluit om die Camino te stap om so genesing vir Basil se dood te vind. Foto: Verskaf

“Toe ons foto’s van my pa vir sy begrafnisbrief moes soek, kon ek in elke enkele foto die pyn in sy oë sien; al het hy geglimlag. Nie dat hy nie by ons wou wees en ons nie liefgehad het nie, maar hy was seer. Elke liewe dag.” 

“Om op te staan, sy skoene aan te trek en werk toe te gaan was vir hom moeilik.”

Sy sê haar pa en broer was die vrygeeste in hul gesin. “Hulle was soos ballonne, terwyl ek en my ma die toutjies was wat hulle geanker het. Nou moes ons hulle laat gaan.” 

Bedroef klink die stem oor die foon: “Ons het nou twee engele wat oor ons waak.” 

Lynn sê haar sangerman het eers in die laaste paar maande voor sy dood werklik tot verhaal gekom. 

Jacques het baie met sy pyn en verlange geworstel ná Basil se dood, vertel sy vrou en dogter.

Sy glo die keerpunt was toe hulle in 2016 die Camino-pelgrimsroete in Spanje gestap het. 

“Jacques het voor dié reis nooit oor Basil gepraat nie, maar twee dae voor die Camino het hy ’n droom oor hom gehad. En op die Camino het hy heeltyd vir my gesê Bazzie stap saam met ons.” 

Teen die einde van die staptog het elkeen van die drie ’n klippie langs die Camino opgetel en dit na Venesië, Italië, saamgeneem. 

Daar het hulle op ’n boot ’n bottel sjampanje oopgemaak en die klippies in die kanaal gegooi om finaal van hul seun en boetie afskeid te neem. 

jacques de coning,sanger,ongeluk
Jacques tydens die Camino. Volgens Lynn was dit die eerste keer dat hy weer oor sy seun begin praat het. Foto: Verskaf

“Daarna het Jacques se gemoed begin verbeter. Hy het geleidelik die uitkyk ontwikkel: ’n Mens is net aan hierdie aarde geleen,” sê Lynn.

Dan kyk sy jou reguit in die oë en skraap van iewers die krag bymekaar om ook self berusting te begin soek.

“Ek weet hy is nou waar hy wil wees – by ons seun.”