Dis die eerste onderhoud wat hulle in hul nagklere doen, spot Anel en James Alexander. Die twee gesels telefonies van doer ver oor die water. Dis vroegoggend in Suid-Afrika, maar nog slaaptyd in Los Angeles, Kalifornië, waar hulle woon.

Dis nou drie jaar sedert die gewilde akteurspaar in 2016 hul huis in Johannesburg verkoop het en sak en pak Amerika toe is. Maar nou voel dit of hulle weer nader is, met dié dat James (41) die rol van die geheimsinnige eksweermagman Lemmer in die minireeks Trackers op M-Net vertolk en Anel (40) ook in een episode as ’n eks van dié karakter verskyn.

Die reeks is op die misdaadskrywer Deon Meyer se trefferboek Spoor gegrond en handel oor georganiseerde misdaad, renosterstropers en smokkelary. Die egpaar was vroeër vanjaar ses maande lank in Suid-Afrika toe Trackers in Johannesburg, Loxton in die Groot-Karoo, die Bosveld in Limpopo en Kaapstad verfilm is.

“Die rol van Lemmer was eintlik ’n gelukskoot,” vertel James oor die geleentheid om weer plaaslik te werk. Hy het verlede jaar in Mei die eerste keer in 20 maande in Suid-Afrika gekuier toe ’n werwingsagentskap bel en vra of hy ’n video-oudisie wil stuur.

“Ek het gesê ek is toevallig in die land en kan netsowel vir ’n oudisie inkom. Ek was opgewonde, maar het nie gedink daar sal iets van kom nie.”

anel en james in LA
Die egpaar is gek oor reis en om staproetes aan te durf. Hulle verken graag hul omgewing en het al buite Los Angeles na plekke soos die Joshua Tree- nasionale park, Big Bear Lake en Lake Arrowhead gereis. Foto: Verskaf

Hy het maande lank niks gehoor nie, en terug in Amerika het James gedink dis neusie verby. Toe kom die oproep in Januarie: “Kan jy binne twee weke in Suid-Afrika wees?” En skielik was James en Anel terug.

Hy was op die stel van Trackers, en Anel het onder meer ’n klein rol in die kykNET-drama Tydelik terminaal vertolk. “Dit was lekker om weer in die land te skiet, op plekke en saam met mense wat ek ken,” sê James.

“Dit was asof ons nooit weg was nie.”

Hul verhuising na die glinsterstad was ’n groot avontuur; tog ook die moeilikste ding wat hulle nog gedoen het. “Ons moes heeltemal oor- begin en alles van voor af leer – rybewyse kry, uitwerk hoe die mediese stelsel werk en hoe om ’n bankrekening oop te maak,” sê Anel.

“Jy verloor jou identiteit en jou taal.” Hulle het boonop sonder ’n werk getrek en moes skielik dollars uithaal om te oorleef. Die huurgeld van hul tweeslaapkamerhuis in Los Angeles is gelykstaande aan dié van ’n groterige blyplek in Kaapstad se eksklusiewe woonbuurt Clifton, vertel James.

“Die eerste jaar is alles nuut, die tweede jaar is moeilik omdat jy verlange en verlies ervaar, en die derde jaar raak alles ’n bietjie makliker.

Jy begin die goeie dinge raaksien en al die opofferings begin vrugte afwerp.”

Vir James was een hoogtepunt om teenoor die Hollywood-akteur Keanu Reeves (55) in die aksiefliek Siberia te speel.

Die fliek is in 2017 in Kanada en Rusland verfilm. Hulle vertolk diamantsmokkelaars en praat in een toneel Afrikaans met mekaar.

“Keanu het ’n repu- tasie dat hy Hollywood se nice guy is, en dit is regtig die geval,” vertel James.

Anel fokus veral op haar loopbaan as vervaardiger. Sy het al agter die skerms aan produksies gewerk waarby die La La Land-regisseur Damien Chazelle en die Glee-akteur Darren Criss betrokke was.

“Ek geniet veral die diversiteit van Los Angeles; dis so kosmopolities,” vertel sy. Hulle het ook al buite die stad gereis na besienswaardighede soos Big Bear Lake, die Joshua Tree-nasionale park en Lake Arrowhead.

Die paar is Los Angeles toe om meer ervaring op te doen en die Suid-Afrikaanse bedryf te bevorder. “Ons het in LA kom leer sodat ons kontakte kan bou om werk terug na Suid-Afrika te neem. Ons het nie die Suid-Afrikaanse bedryf verlaat nie,” sê Anel.

Anel het al praatjies van Nicole Kidman en Matthew McConaughey bygewoon. James het op sy beurt die Walking Dead-akteur Michael Cudlitz in sy plaaslike ysterwarewinkel gewaar en in sy gunstelingkoffiekroeg het hy oorkant die Breaking Bad-ster Bryan Cranston gesit.

“Ek was al gelukkig om saam met verskeie bekendes te werk; dus raak ek nie sommer starstruck nie,” sê James, wat al teenoor onder andere die Doctor Strange-ster Benedict Cumberbatch en Daniel Radcliffe van die Harry Potter-fliekreeks gespeel het.

Maar hy erken hy was nogtans in ’n waas toe hy Bryan van so naby sien: “Ek was daai ou wat gemaak het of ek op my foon besig is terwyl ek ’n foto van hom neem!”

Maar Hollywood is glad nie so glansryk soos wat ’n mens dalk dink nie, sê hy, want mense van oraloor stroom na die stad om ’n loopbaan in die rolprentbedryf te probeer maak.

“Die bedryf is minder persoonlik as in Suid-Afrika en die kompetisie ook veel taaier,” sê James. “Almal wat jy in LA teëkom, is op die een of ander manier by die bedryf betrokke – van die kelner in jou plaaslike koffiekroeg tot jou Uber-bestuurder.”

Met die trek na Amerika het James, op advies van sy agente, sy van na Gracie verander.

“Ons het besef daar is omtrent 10 James Alexanders wat in Amerika in die fliekbedryf werk. Hulle het voorgestel ek moet aan ’n unieker naam dink.”

Hy het sy ma se nooiensvan gekies. “In Suid-Afrika sal ek altyd James Alexander wees, maar internasionaal as James Gracie werk.” Trackers gaan ook internasionaal uitgesaai word; daarom sien kykers “James Gracie” in die erkenningslys aan die einde van elke episode.

In die reeks is sy karakter Afrikaans, maar James is eintlik Engels en kon nie Afrikaans praat toe hy en Anel mekaar destyds ontmoet het nie. Sy het hom geleer, en hy het verder verbeter toe hy dr. Rico Maartens in Binnelanders gespeel het.

Hulle het gedink hulle gaan in die vreemde minder Afrikaans praat, maar hulle praat dit nou eintlik meer as ooit, sê Anel.

“Niemand verstaan jou nie; dis soos hierdie geheime taal wat ons met mekaar kan praat. Ek dink dit gaan ons eendag nog lelik inhaal as hier ’n Afrikaanse toerbus stop en ons gesels oor ’n tannie se trui of haarstyl.”

Hoe is dit vir hulle om ’n huis- en werklewe te deel? “Dit het sy voor- en nadele. Ons het begrip vir mekaar se wêrelde: die baie reis en lang en ongereelde ure,” sê Anel.

“Die uitdaging is dat dit maklik al kan word waaroor julle praat,” voeg James by. Hulle probeer dus meestal aan aparte projekte werk. Die egpaar het onder meer die flieks Discreet (2008), Semi-Soet (2012) en Sink (2016) saam vervaardig.

“Dis intens genoeg om alleen aan ’n produksie te werk en nie tyd vir jou verhouding te hê nie. Jy het jou maat se ondersteuning buite die werk nodig,” sê Anel. Ná 16 jaar se getroude lewe klink die twee nog dolverlief. Wat is hul geheim?

“Ek voel ons probeer baie hard om oop en eerlik oor ons verhouding te wees. Dis nie altyd maanskyn en rose nie. Ons werk hard daaraan,” sê Anel.

“Ons was baie jonk toe ons getroud is. Ek was 25 en Anel 23,” sê James. “Ek dink ná 16 jaar het ons dinge al uitgefigure. Ons het baie saam deurgemaak, opgeoffer en geleer. Ons het goeie steun van ons familie en vriende, en genade speel ’n groot rol.”

View this post on Instagram

The Queen says hi!

A post shared by Anel Alexander (@anelalexander1) on

Terwyl ons gesels, is die akteurspaar amper weer hul tasse aan’t pak vir ’n kuier in Suid-Afrika. Anel gaan haar 40ste verjaardag hier vier en voorberei vir die voorproduksie van Semi-Soet 2, wat vroeg volgende jaar verfilm word.

Sy vertolk weer ’n hoofrol en is die vervaardiger van die fliek, terwyl James in ’n mindere mate as vervaardiger betrokke sal wees. Die oorspronklike rolverdeling van die 2012-rolprent, onder andere Nico Panagio, Sandra Vaughn en Diaan Lawrenson, keer almal terug.

View this post on Instagram

Caption this... @semisoetmovie

A post shared by Anel Alexander (@anelalexander1) on

“Ons bring ook ’n paar opwindende nuwe karakters in,” verklap Anel. Al bou hulle nou aan ’n blink nuwe loopbaan oor die water, verlang hulle huis toe.

“Ons verlang na melktert, biltong, bekostigbare vleis en natuurlik ons vriende en familie,” sê James. “Ek mis die mense en die gevoel van ubuntu. Suid-Afrika het uitdagings, maar daar is altyd ’n gees van: Ons is saam in dié ding.”

trackers
In Trackers vertolk James die rol van die geheimsinnige eksweermagman Lemmer, en in een episode is Anel te sien as een van Lemmer se eksmeisies. Foto: Mnet

  • Trackers word Sondae om 20:00 op M-Net uitgesaai en is ook op Showmax beskikbaar.