Netwerk24 berig James (50) was op pad Johannesburg toe vanaf Kaapstad toe hy vermoedelik aan ’n hartaanval gesterf het.

James is in die fleur van sy rugbydae as die "stout seun" van Suid-Afrikaanse rugby beskryf, maar die koms van sy dogtertjie, Ruby, het hom destyds so mak soos ’n lammetjie gemaak, het hy in 2009 aan Huisgenoot vertel.

James: Ek leef nou vir rugby — Danél Blaauw, Huisgenoot (19 Februarie 2009)
Rugby se stout seun het ’n mak lammetjie geword – danksy ’n fraai klein ‘pumpkin pie’
Tien jaar gelede het James Small eksklusief met Hu
Tien jaar gelede het James Small eksklusief met Huisgenoot oor sy lewe en veral sy liefde vir sy dogtertjie gepraat

’n Vrolike kinderlaggie klink deur die leë huis.

“Wat wil jy hê, pumpkin pie?” vra hy in sy diep rasperstem. Hy steek ’n getatoeëerde arm uit en tel die fraai meisietjie met een beweging in sy arms.

James Small se neonpienk t-hemp en die tatoes op sy bultende arms tref eerste jou oog. Op sy linkerarm is die skattige kleuter se naam in krulletters geëts: Ruby. Daarby haar geboortedatum en ’n paar fyn, gekleurde blommetjies.

Op sy linkerarm is die skattige kleuter se naam in
Op sy linkerarm is die skattige kleuter se naam in krulletters geëts: Ruby. Foto: ER Lombard

Jare lank is hy as die stout seun van Suid-Afrikaanse rugby gebrandmerk; meer onlangs ook as vroueslaner. Maar wanneer dié oud-Springbokvleuel sy vierjarige dogtertjie neersit en haar hand in syne neem, is hy so mak soos ’n lammetjie.

Soos klei

Die man wat eens koerantopskrifte gehaal het oor sy bakleiery in nagklubs, is soos klei in klein Ruby se hande.

Dit is die eerste keer in jare dat James ’n onderhoud toestaan, en ook die laaste keer dat hy oor dié dinge praat, sê hy. Vandag wil hy dit duidelik maak: Die man wat selfmoord probeer gepleeg het en sy eksmeisie en Ruby se ma – die bekende model en aktrise Christina Storm – aangerand het, bestaan nie meer nie.

En die mens wat ál die erkenning verdien vir die nuwe, kalmer James, is die kleuter om wie sy lewe die afgelope vier jaar draai, voeg hy by.

“Ag nee wat, ek is nie meer ’n stout seun nie. Dit was my beeld en ek het saamgespeel. Ek het dit finansieel vir my laat werk. Maar dan kom daar ’n dag dat dit skielik buite beheer raak.”

Ná sy storm-en-drang-jare is hy nou, op veertig, gelukkiger as ooit tevore.

James Small in aksie teen Engeland in 1997. Foto:
James Small in aksie teen Engeland in 1997. Foto: Gallo Images/David Rogers/Allsport

Al wat nog pla, is die verwytende blikke van die publiek wat hom steeds as ’n vroueslaner beskou – des te meer nadat Christina en haar nuwe vriend, Munro du Toit, ’n oud-Idols-finalis, onlangs kaalbas vir die tydskrif Marie Claire poseer het vir ’n bewusmakingsveldtog teen vrouemishandeling.

Sy het toe weer genoem dat sy in so ’n verhouding was. Hy het al erken hy het Christina geslaan in hul agt jaar lange verhouding wat in 2004 tot ’n einde gekom het, maar nog nooit openlik daaroor uitgewei nie.

Toe hy die artikel sien, het hy sowaar verlig gevoel, sê hy nou.

Hy het gevoel dit stel hom in ’n baie swak lig, en hy het geweet dit is sy kans om nou self oor dié dinge te praat. Daarmee saam wil hy ook dié hoofstuk in sy lewe afsluit.

“Ek het myself lank geoordeel, en nou wil ek praat. Ek wil hê die publiek moet nou self oordeel. Dié dinge raak my dogtertjie.

“Ek het lank weggekruip. Ek het iets verkeerds gedoen, en ek was mans genoeg om dit te erken. Ek is deur berading en openbare vernedering. Ek het lank my kop onder die sand gehou.”

Bokse en sportsakke staan in James se nuwe huurhuis in Parkhurst in Johannesburg rond. Hy en Ruby trek nog uit hul vorige huis in dieselfde buurt, maak hy verskoning.

Drie jaar gelede het hy sy restaurant in die Kaap verkoop en sak en pak agter Christina aangetrek Johannesburg toe sodat hy naby sy dogtertjie kon wees.

Hulle deel toesig oor dié krulkoppie, en sy bly die helfte van die week by hom.

'Ek sal enigiets in die wêreld met plesier vir Rub
'Ek sal enigiets in die wêreld met plesier vir Ruby opoffer,' sê hy. Foto: ER Lombard

“Ek sal enigiets in die wêreld met plesier vir haar opoffer,” sê hy.

“Ek wil nie pateties klink nie, maar ek sal die res van my lewe by haar wees. As hulle Australië toe trek, sal ek in die huis langsaan intrek.”

Hy wil nie sleg praat van Christina nie, sê hy. Sy speel die rol van Bienkie in die M-Net-sepie Egoli.

“Sy is ’n goeie ma.

“Maar ek wil my kant van die saak stel – vir my kind se onthalwe. Ek leer haar om haar man te staan. Eendag gaan sy my vra: ‘Pappa, hoekom het jy jouself nie verdedig nie?’ ”

Hy het in sy jong dae simpel dinge gedoen, erken hy reguit.

Twee keer

“Soos om ’n vrou te slaan. Dit is simpel. En ek is bitter jammer daaroor. Ek het hulp gesoek en reggemaak wat fout was in my lewe. Meer kan ek nie doen nie.”

In die agt jaar dat hulle saam was, het hy twee keer sy hand teenoor Christina gelig. “Jy kan nie twee geïsoleerde voorvalle in agt jaar – waarna sy toe ook ’n kind saam met my gehad het – ’n gewelddadige verhouding noem nie,” meen hy.

“Maar jy kan geweld teenoor ’n vrou nooit goedpraat nie. Dis nie reg nie. Een keer is een keer te veel. “Dis iets waarmee ek die res van my lewe moet saamleef, en meer as enigiemand anders het ek myself kasty.

“Baie lank kon ek nie in die spieël kyk nie. Maar ek is moeg jammer gesê. Wanneer het jy genoeg vir jou dade geboet? Wanneer is genoeg genoeg?

“Ek voel nie meer skaam nie. Ek is veertig. Ek voel nou eintlik net: Te hel hiermee. Jy kan nie ’n man se lewe van harde werk en opoffering vir sy land daaroor verwoes nie.”

Oor die twee voorvalle wil hy nie praat nie, behalwe om te sê dat hulle albei daarvoor te blameer was en alkohol betrokke was.

Sy blou oë skiet skielik vol trane.

“Ek is jammer. Dit is alles baie emosioneel,” sê hy. “Maar ek is moeg vir die vreemde kyke wanneer ek by ’n vertrek instap. Wat moet Ruby se onderwysers dink wanneer ek haar by haar skoolgroepie gaan aflaai – dat ek ’n vroueslaner is? Ek is nie!”

Hy het langer as twee jaar vir sielkundige behandeling gegaan, en die genesingsproses was nie maklik nie, erken James.

Hy moes diep in sy kinderjare delf vir begrip oor sy reaksies wanneer sommige dinge gesê of gedoen is.

“Ek moes myself en ander mense leer respekteer en aanbeweeg. Ek moes die goed wat my kwaad maak, identifiseer en daarvan wegbly,” sê hy.

“Ongelukkig is ek in my ouerhuis aan geweld blootgestel,” erken hy later teensinnig.

Meer wil hy nie sê nie.

Alkohol, sy slegte verhouding met sy ouers en “die persoon saam met wie hy was”, was almal redes vir sy aggressie, meen hy nou. In sy heelwordproses het hy homself tot op die grond afgebreek, sy foute erken en homself weer stelselmatig opgebou.

En Ruby was nog altyd ’n ligbaken op sy pad.

Hy het intussen ’n “fantastiese vrou” ontmoet en hulle is al agttien maande saam, sê James. Al wat hy oor haar wil sê, is dat sy en Ruby goeie maats is.

Tog is dit vir hom moeilik om te aanvaar daar is ook ’n ander man in Ruby se lewe.

“Ek het vir Ruby gesê ek is haar pa en sy sal altyd net één pa hê. Solank hy nie ’n hand teenoor haar lig nie, is ek tevrede.”

Sy droom was om sy dogter groot te maak in die huis by die strand in Kampsbaai wat hy met haar en Christina gedeel het. Elf jaar lank het hy ’n ontspanne leefstyl in die Kaap gehad, maar dit is nou daarmee heen.

“Nou moet ek weer aanpas. Ek is nog besig om op die been te kom. Dis nie maklik nie.”

Deesdae bou hy nuwe huise en restoureer hy oues en verkoop hulle. Hy oorweeg dit ook om ’n sportkroeg oop te maak, maar die lang ure sal minder tyd saam met Ruby beteken.

“Ek is ’n goeie pa en Ruby is baie lief vir my. Ons het ’n fantastiese
verhouding en dit laat my goed voel oor myself. ’n Kind veroordeel nie en sy gee haar liefde onvoorwaardelik. En as dít bestaan, is daar hoop vir môre.”