Die juwelierswareontwerper Jenna Clifford en twee van haar dogters, Chanelle (links) en Summer Clifford- Kotze, met Summer se twee hondjies, Leo en Zara. Albei dogters werk in die familieonderneming. Foto: Sharon Seretlo
Die juwelierswareontwerper Jenna Clifford en twee van haar dogters, Chanelle (links) en Summer Clifford- Kotze, met Summer se twee hondjies, Leo en Zara. Albei dogters werk in die familieonderneming. Foto: Sharon Seretlo

Sy het al selfs vir ’n tikkie styl in die sweterige, testosteroonbelaaide wêreld van rugby gesorg. Vra brekers soos die voormalige Springbokkaptein Corné Krige hoe spesiaal ’n man voel wanneer jy ’n Jenna Clifford-trofee omhoog lig. Maar weg van die kollig was haar lewe nie altyd so blink nie. Die afgelope drie jaar was vir haar moeilik. Sy het albei haar ouers aan die dood afgestaan en sy en haar lewensmaat van 28 jaar is uitmekaar.

Maar ’n mens sou dit nooit kon raai as jy na die vrou kyk wat vandag hier voor ons in haar bedrywige ontwerpateljee in Sandton staan nie. Op 61 is Jenna net so mooi, stylvol en energiek soos altyd.

Dit is nou twee jaar en ses maande sedert Jenna haar hart teenoor Huisgenoot oopgemaak het oor die verbrokkeling van haar verhouding met Dex Kotze (59).

Jenna en Dex Kotze, die man wat 28 jaar aan haar s
Jenna en Dex Kotze, die man wat 28 jaar aan haar sy was. Foto: Verskaf

Sy en Dex het nooit ’n huwelikskontrak aangegaan nie, maar sy sê hulle is in die oë van God getroud. Die pa van twee van haar drie dogters het haar ná 28 jaar saam glo “soos ’n warm patat” gelos, het sy destyds vertel.

Jenna (naasregs) en haar glansryke dogters. Van li
Jenna (naasregs) en haar glansryke dogters. Van links is Shayna McAllister, Summer en Chanelle. Foto: Instagram

Toe het sy vertel sy is nog vurig lief vir Dex, saam met wie sy in 1992 die juweliersryk Jenna Clifford Design gestig het. Maar selfs haar hartseer kon Jenna nie lank onderkry nie. Ná ’n blaaskans van 11 maande het sy met nuwe ywer haar nering aangepak en die naam Jenna Clifford aan mooi en stylvolle dinge verleen. Tog is daar steeds uitdagings. Toe ons die borrelende Jenna oor haar R1 miljoen-regsgeding teen haar eksman uitvra, antwoord sy versigtig. “Dex is privaat, en ek het gehoop om dié inligting uit die nuus te hou,” sê sy. Boonop is die saak steeds voor die hof en kan sy nie nou vrylik daaroor praat nie. Maar in ’n neutedop kan direkteure van Jenna Clifford Design – soos Dex – lenings by die maatskappy aangaan. Na bewering het Dex so ’n lening aangegaan en dit nog nie terugbetaal nie.

Die dagvaarding wat op haar eksman en pa van haar kinders bestel is, is duidelik nie vir haar lekker nie. Maar die veerkragtige Jenna kyk vorentoe. Sy verdiep haar in die ontwerp van ’n nuwe juwelereeks. En een van die dae stel sy ook vir die eerste keer ’n reeks breekware bekend, wat aanlyn gekoop kan word.

View this post on Instagram

Coming Up Roses.... comfort Coffee??

A post shared by Jenna Clifford (@jc_jennaclifford) on

“Ek is ’n ouma van twee. Ek is eintlik al ’n ou vrou. Maar ek is gelukkig. En ek is ryk. Ryk in vriendskappe, in siel, in liefde. Al daai belangrike dinge in die lewe.”

Ons gesprek met Jenna word kort-kort onderbreek deur ’n vriend of kliënt wat gou kom oë wys.

“Vroue dra soveel by tot die lewe, maar die patriargale samelewing wil ons vertel ons moet net agteroorsit en stilbly. Nee. Jy kan omgee en vroulik wees, maar steeds sterk wees,” deel sy haar uitkyk. “Ek omring my met sulke vroue, en ek wil veral die jonger geslag help om bo uit te kom.”

Jenna sit op die punt van ’n antieke stoel, want haar bejaarde poedel, Rose, beset die res. Oral om ons is plantsteggies in glashouers of teekoppies.

“Rosie is al blind en doof, maar sy sal altyd my baba wees,” vertel sy oor die 18-jarige hond. “Sy het haar kleintjies destyds in my bed gehad.” Sy beduie met ’n hand waaraan een van haar eie ringe met ’n enorme pienk steen pronk.

By haar geliefde poedel, Rosie. Foto: Sharon Seretlo
By haar geliefde poedel, Rosie. Foto: Sharon Seretlo

Sy vertel sy was nie ledig tydens haar sabbatsverlof van 11 maande nie. “Dit sou onmoontlik wees. My sterreteken is die Maagd; ons moet besig bly en naby die aarde leef. Ek het daardie maande nét ontwerp en nie in die operasionele gedeelte van die onderneming gewerk nie.”

‘Ek is ryk in vriendskappe, siel, liefde. Al die belangrike dinge’

Toe Dex einde 2017 uit hul plaashuis in Witrivier getrek het, het sy “al haar trane gestort” en toe weer begin werk.

“Ek glo om suksesvol te wees, moet opgee nooit ’n opsie wees nie. Eindelik is ons veel sterker as wat ons dink. Ek het dit van myself geleer.”

Sy tob nie oor wat sy kon gedoen het om Dex te behou nie. Sy hou vol daar was geen verkullery of bitter rusies nie. Dex was bloot nie meer lief vir haar nie, sê sy.

Hulle praat nie meer met mekaar nie, en hy het intussen sy direkteurskap bedank. Die maatskappy word deur hul familietrust besit.

“Ek is steeds lief vir hom, nes vir almal wat ’n groot rol in my lewe gespeel het. Hy is steeds gelief deur my familie, so ek hoop werklik hy is gelukkig,” sê sy.

Dan wip sy weer op om vir ons nartjiesap te laat bring. “Ek koop agt bokse nartjies per week, en dan maak ons ons eie sap. Baie vitamien C, jy weet. Ek het myself voorgeneem ek drink nooit weer sap uit bokse nie.” ’n Rukkie later verskyn glase met nartjiesap, pragtig voorgesit met ys en vars mentblare.

So was sy ook tydens die streng inperking weens covid-19 nie ledig nie, vertel sy. Een van haar beste vriendinne, Annette Palframan, het by haar ingetrek.

“Sy is ook ’n Maagd, so ons het die tuin van die woonstel wat ek in die stad het op die dak uitgelê en lekker kos gemaak. Kos gemaak vir samesyn sowel as voeding.”

By haar beste vriendin. Annette Palframan. Foto: Sharon Seretlo
By haar beste vriendin. Annette Palframan. Foto: Sharon Seretlo

Sy wys ons die nuwe ontwerpe waaraan sy werk. “Dit word gekenmerk deur sterk simbole en die simboliek van die stene,” verduidelik sy.

Dan spring sy weer op en wys ons die 6 kg-handgewigte waarmee sy fiks en soepel bly. En tipies van die Jenna Clifford-styl is haar naam op elkeen gegraveer om dit persoonlik en uniek te maak.

Sy gaan stap drie keer per week saam met haar fiksheidsafrigter, Martin, en sy boks ook. “Ek slaan sommer die slaansak hier in my kantoor. En dan wonder mense wie nou besig is om ’n pak slae te kry!”

By die man wat Jenna drie keer per week fiks en soepel hou, haar fiksheidsinstrukteur, Martin Maritz. Foto: Sharon Seretlo
By die man wat Jenna drie keer per week fiks en soepel hou, haar fiksheidsinstrukteur, Martin Maritz. Foto: Sharon Seretlo

Want enigiemand wat Jenna ken, sal ’n mens vertel sy kan net so intimiderend wees soos wat sy stylvol is . . .

Buite in die lushof van ’n tuin wat sy hier by haar werkplek aangeplant het, suig sy aan ’n sigaret – selfs dít lyk elegant in haar hande. Sy rook minder weens die inperking, sê sy.

Die gesprek draai na haar verhoudingslewe. “Ek het baie mansvriende. My hele lewe lank. ’n Mens kry sulke goeie mans.

“Ek is vriende met mans en hul vroue wat magtige posisies beklee. Oud en jonk. Maar die jonger geslag se denkwyse gee my hoop. Hulle wil vegetariërs wees; hulle wil ’n verskil maak.”

Sy glo onwrikbaar in die krag van vroue. Sy wil vroue bemagtig en die mans ondersteun wat vroue bemagtig. Sal sy ’n vierde keer trou?

“Min mans hou van sterk vroue. Ek het dit nog nie weer gekry nie. Ek’s ’n ouma. Baie min dinge in die lewe is verniet, maar ek sal nie my kop en hart afsluit van die moontlikheid nie.

“Ek voel nooit eensaam nie. Sal dit lekker wees om ’n intelligente, sagte en jonger siel te ontmoet wat van sterk vroue hou? Ja. Maar ek hou nie my asem op nie . . . ” En haar guitige knipoog wil jou laat uitbars van die lag. 

  • Dex kon nie vir kommentaar bereik word nie.
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe.