Jennifer (49) het ’n onderhoud toegestaan aan Molly McNearney, skrywer en vrou van die TV-persoonlikheid Jimmy Kimmel, waarin sy kap na kritici wat gedurig kommentaar lewer oor haar liefdeslewe en die feit dat sy nog nie ’n ma is nie.

“Die wanopvattings is gewoonlik: ‘Jen kan nie ’n man behou nie’ en ‘Jen weier om ’n baba te hê want sy’s selfsugtig en toegewyd aan haar loopbaan’. Of dat ek hartseer en gebroke is. Eerstens, met alle respek: Ek is nie gebroke nie. En tweedens, dit is roekelose aannames,” sê sy aan InStyle

“Niemand weet wat agter geslote deure aangaan nie. Niemand weet hoe sensitief dit vir my en my maat is nie. Hulle weet nie waardeur ek medies of emosioneel is nie.”

Sy sê daar word onnodige druk geplaas op vroue. 

“Daar word druk geplaas op vroue om ma’s te wees, en as hulle nie ma’s is nie, word hulle as beskadigde goedere gesien. Dalk is my doel op hierdie planeet om nie voort te plant nie. Dalk is daar ander goed wat ek moet doen,” sê die aktrise.

Toe Jennifer vertel hoe sy afgeknou is as kind, sê Molly niemand sal glo dat sy geboelie was nie. 

“Ha! Maar hulle sal glo dat ek drie keer in een jaar swanger was. Ek was een van daardie kinders waaroor ander mense grappe gemaak het. Ek was een van daardie mollige kinders. Jou kinderjare is so ’n kwesbare tydperk, en ek is seker ’n deel van my het geglo wat hulle gesê het,” vertel sy verder. 

En sal Jennifer ooit weer in Friends wil speel?

“Ek fantaseer daaroor. Dit was rêrig een van die beste geleenthede wat ek al gehad het. Ek weet nie hoe dit vandag sal lyk nie, maar ’n mens weet nooit nie.”

Jennifer en die akteur Justin Theroux het in Februarie aangekondig hul paaie gaan ná sewe jaar skei.

Justin en Jennifer. Foto: Gallo Images/Getty Images
 

Hulle het in 2015 afgehaak. 

Bronne: InStyle, Daily Mail