Dit was ’n doodgewone Sondagoggend in haar ouerhuis toe die aktrise Jill Levenberg se wêreld in Mei vanjaar in duie stort. 

Haar pa, Joshua – hulle het hom Joey genoem – was op pad kerk toe toe hy ’n hartaanval kry en sterf. 

“Sy kitaar was al in die kattebak; hy sou oudergewoonte in die kerkorkes speel,” onthou Jill (42), wat veral bekend is vir haar rol as Mymoena Samsodien in die kykNET-sepie Suidooster. 

“Ek, my ma en suster was na ’n Moedersdaggeleentheid op pad,” vertel sy. 

“My pa was in die kombuis toe hy ineensak. My swaer was aan die skottelgoed was. Toe hy omdraai, lê my pa op die vloer. Ons het my pa onmiddellik hospitaal toe geneem, want ons het gedink hy is net bewusteloos, maar hy was eintlik reeds oorlede.”

jill levenberg,aktrise,pa
Jill vertel sy was ’n “daddy’s girl”. Foto: Instagram/@jill_jazz_levenberg

Joey se dood het Jill hard getref. “My geestestoestand was baie swak. Ek rou nou nog. My pa, my held, is weg.” Sy vee die trane weg wat oor haar wange rol. 

Ons gesels in die gesin se huis in Kensington, Kaapstad, waar Jill, haar ma, Carol (71), haar jonger suster, Caryn Alexander (36), en dié se man, Craig (41), steeds woon. 

Jill self het tot onlangs in ’n aparte deel agter haar ouerhuis gewoon.

“Hy was ’n wonderlike pa wat hard gewerk het om vir ons te sorg en ons net die beste te gee. Hy was die klassieke gentleman en ’n standvastige man wat altyd in ons lewe betrokke was. En hy was vol wysheid,” sê Jill – wat haarself ’n “daddy’s girl” noem – oor haar pa, wat as ’n ambagsman gewerk het.

Benewens die skok van Joey se dood moes Jill en haar geliefdes die dood van haar pa se broer, James, verwerk. 

Hy was hul buurman en haar peetpa en is ’n maand voor haar pa ook skielik oorlede.

Ná die dubbele tragedie het die aktrise haar in ’n donker gat bevind. 

Sy vertel sy het altyd voorheen ’n gesonde leefstyl gehandhaaf, maar ná haar pa se dood het sy emosioneel en fisiek agteruitgegaan. 

“Hy was ’n wonderlike pa wat hard gewerk het om vir ons te sorg en ons net die beste te gee. Hy was die klassieke gentleman en ’n standvastige man wat altyd in ons lewe betrokke was. En hy was vol wysheid,” sê Jill – wat haarself ’n “daddy’s girl” noem – oor haar pa, wat as ’n ambagsman gewerk het.

“Ek het om die een of ander vreemde rede gemorskos begin eet. Ek het ophou draf en berusting in slaptjips en burgers gekry. Ek het begin voel soos ’n ballon wat ál groter word.”

Nou weet sy om haar aan kos te vergryp was nie die beste manier om die dood van haar pa en peetpa te verwerk nie. 

“Ek het nie meer goed gevoel nie. Ek het ’n gesonde manier nodig gehad om die rou te verwerk,” sê Jill. 

Toe sy in Junie die sangeres Karin Kortjé by ’n geleentheid in die Kaapse middestad sien, het Jill opgelet dié lyk gesond. 

“Ek het haar gevra wat presies sy gedoen het om die gewig af te skud en waar al haar energie nou vandaan kom.” 

Karin het in daardie stadium reeds 8 kg afgeskud nadat sy aangesluit het by ’n 90 dae lange welstandprogram by Claudia van Schalkwyk se skoonheid­salon in Kuilsriver in die noordelike voorstede van Kaapstad. 

Dié program sluit onder meer ’n eetplan, oefenklasse en motiveringspraatjies in.

En dít was die oplossing waarna Jill gesoek het. Sy het ook by dié program aangesluit en binne 90 dae ’n allemintige 12 kg afgeskud. 

jill levenberg,aktrise,suidooster
Jill in ’n toneel uit die kykNET-­sepie Suidooster. Sy vertolk die rol van Mymoena Samsodien. Foto: kykNET/@suidooster

“Ek voel beter as ooit,” sê sy nou trots. “Dit was die beste geskenk wat ek myself kon gee, want ek was byna op ’n totaal selfvernietigende pad.”

Dis nie net haar lyf wat herskep is nie, vertel Jill – sy voel oor die algemeen weer reg om die wêreld in die oë te kyk. 

“Ek voel ek is deesdae tot soveel meer in my lewe én loopbaan in staat.”

Sy het kort voor haar pa se dood haar eerste huis gekoop – naby haar ouerhuis  – en sedertdien daar ingetrek. 

“My pa het nog saam met my gegaan om na die huis te kyk, en dit het sy goedkeuring weggedra,” sê sy, en weer maak die herinnerings haar oë troebel. 

Joey het volgens Jill nooit gedink dit sou moontlik wees dat sy met haar inkomste as aktrise haar eie huis of motor sou kon koop nie.

“Ons kom uit arm omstandighede. My ma was ’n teedame en my pa ’n ambagsman. Ek onthou nog hoe ons destyds in die strate van Kensington gery het met sy blou Datsun met die rooi deure.” 

Sy onthou veral hoe baie Joey vir haar hond, Stoney, omgegee het. 

“Ek voel beter as ooit,” sê sy nou trots. “Dit was die beste geskenk wat ek myself kon gee, want ek was byna op ’n totaal selfvernietigende pad.”

“Ek en my suster het nie kinders nie, en hy het geweet Stoney is my enigste kind. Hy het altyd ’n punt daarvan gemaak om my te wys hoe lief hy vir hom is en hom vir uitstappies geneem wanneer ek die dag moes werk.”

Hy was trots op Jill se prestasies en pryse vir haar werk as aktrise – onder meer ’n Fleur du Cap- en Safta-prys. 

“Hy het my gevra om my pryse uit my slaapkamer te bring en in die voorhuis ten toon te stel.” 

Benewens haar werk in Suidooster het Jill in September op die Aardklopfees in Potchefstroom die eerste keer sedert 2016 haar staal in ’n teaterstuk gewys. 

Sy vertolk die hoofrol in Christo Davids se jongste teaterstuk, Queenie-hulle, wat vir die eerste keer op dié fees op die planke gebring is. 

Die toneelstuk gaan oor vyf haweloses wat op die stoep van die Kaapstadse Goeie Hoop-sentrum woonplek vind, maar dan hoor die gebou moet ontruim word. 

“Dis so ’n mooi storie. Ek hoop dit gaan op ander feeste ook op die program wees.”

Haar vorige teaterrol, in 2016 in Orpheus in Africa, het juis aan haar die Fleur du Cap-prys vir beste ondersteunende aktrise besorg. 

Tog was dit ’n aanpassing om weer teaterwerk te doen, vertel sy. 

“Dit was erg senutergend om ná drie jaar weer op die verhoog te wees. Maar dit was ’n wonderlike geskenk om met dié geselskap terug te keer.” 

jill levenberg,aktrise,ma,kensington
Jill en haar ma, Carol, in die kombuis in hul huis in Kensington. Jill het ’n huis net ’n hanetree van haar ma s’n gekoop. Foto: Misha Jordaan

Haar uitdaging van 90 dae het haar boonop gehelp om haar beste op die planke te gee, vertel sy. 

“Ek het goed gevoel op die verhoog. Ek het ’n nuwe fisieke ingesteldheid gehad. Ek het gesond, fiks en vinnig gevoel.”

Jill is gretig om haar kennis en ervaring met ander te deel; daarom bied sy gratis dramaklasse vir minderbevoorregte jong mense en volwassenes in Fractetron naby Kensington aan. 

“Een van die redes hoekom ek juis ’n huis in dié omgewing gekoop het, is om aan te bly en hier ’n verskil te maak.”

Hoewel die 90 dae van haar eetplan verby is, gaan sy steeds met haar gesonde leefwyse voort. 

Sy oefen gereeld, volg ’n plantgegronde dieet en het vleis en koffie grotendeels probeer uitsny. 

Verder drink sy gereeld smoothies wat sy self maak. Maar sy klim nie kort-kort op die skaal nie, sê sy.

“Deesdae wanneer ek my pa mis, praat ek met hom en ruik aan die hemp wat hy laaste aangehad het,” sê Jill.

“Dit gaan nie vir my net oor gewig nie; dit gaan ook oor my geestestoestand. Ek wil aanhou om al die toksiese dinge uit my lewe te sny sodat ek fisiek, emosioneel en geestelik gelukkig kan bly. My hoofdoel is ’n gesonder lewe,” sê Jill.

Natuurlik dra sy die verlies van haar pa steeds saam met haar, vertel sy, en die onthou lê altyd vlak. 

“Hy en my ma het nog die aand voor sy dood op ’n kerkgeleentheid gaan dans. Hy was klaar met bouwerk aan die gesinshuis en wou graag by my nuwe huis ook gebou het.”

“Deesdae wanneer ek my pa mis, praat ek met hom en ruik aan die hemp wat hy laaste aangehad het,” sê Jill.

Maar dié gemis is nie meer iets wat haar lamlê nie, sê sy. Sy het besluit om uit haar hartseer op te staan en die meeste van elke oomblik te maak. 

Sy weet nou beter as ooit hoe kosbaar en vlietend die lewe is.

“Ek het deesdae soveel energie. Ek is regtig op ’n goeie plek in my lewe. Selfs op ’n beter een as wat ek al ooit voorheen in my lewe was.” 

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.