Die Voel Jy die Genade-sanger het ’n spesiale boodskap aan sy vrou, Debbie, in die sosiale media geplaas om die spesiale dag te vier. En sy planne vir die dag? ’n Romantiese ete vir twee, verklap Jo aan Huisgenoot.

"Elf jaar vandag!" het hy op Instagram laat hoor by ’n foto van hom en Debbie waar sy hom liefdevol vashou.

"Well done @debbie_engel143. Niemand sou ons kon voorberei vir 11 jaar se avontuur nie. Ons was al orals! Van die moeilikste tye tot die lekkerste, van die dae van spartel tot dae van rus, deur dik jare en dun, deur die hartseer en soveel geluk en steeds staan jy agter my. Ek weet ek sou nie die man wees wat ek is en kon doen wat ek doen as dit nie vir jou was wat my so lief het en ondersteun nie. Om my met Suid-Afrika te deel, kan nie altyd lekker wees nie, maar sodra die verhoogligte dof raak en alles stil is, is jy altyd daar om my op te tel, aan te moedig en net lief te hê. Ek waardeer jou so baie, en sal jou vir niks verruil nie. Ek is bitter baie lief vir jou," lui die inskrywing.

"Dis hoe ’n man van sy vrou praat. Baie geluk, liefde is alles," het een van Jo se 80 400 Instagram-volgelinge laat hoor.

"Baie geluk met julle 11de herdenking. Mag die Here julle lewe saam seën," sê nog een oor die bebaarde sanger, wat in Februarie sy tweede album, Voel Jy die Genade, uitgereik het. 

"Daar gebeur baie in 11 jaar, maar die moeilikste ding wat ons al saam moes deurmaak was toe dit ’n ruk lank finansieël nie so goed gegaan het met ons nie," vertel Debbie aan Huisgenoot.

"Ons het al baie ups and downs gehad," sê Jo, die pa van twee dogtertjies, Dinieke (9), en Miané (6).

"Ek dink die moeilikste is as jy ’n man is wat vir ’n vrou en twee kinders moet sorg en jy kry dit nie reg om ’n dak oor hul kop te hou of kos op die tafel te sit nie. Jy voel dan minderwaardig. Ek dink die feit dat sy my deur daardie tyd so bygestaan en steeds so ondersteun het en nou terug kyk, dan besef jy ons is gemaak vir mekaar," voeg die sanger by.

Sy gesin is sy trots en hy deel gereeld kiekies van hulle in die sosiale media met sy aanhangers.

View this post on Instagram

????

A post shared by Jo Black (@joblack8) on

View this post on Instagram

Happy valentines @debbie_engel143

A post shared by Jo Black (@joblack8) on

Debbie erken dat dit nie altyd lekker is as Jo van die huis af weg is vir werk nie, maar sy ondersteun hom ten volle en wil graag hê hy moet sy drome najaag.

Die sanger glo egter dat dit baie belangrik is om ’n balans tussen werk en sy gesinslewe te handhaaf.

"Wanneer ek by die huis is, is ek net Jo, liefie of pappa en ons toer soveel as moontlik saam, maar hulle het al gewoond daaraan geraak dat as ons buite die huis is, is ons Jo Black en sy gesin," vertel hy.

"Debbie is ook die een sodra die verhoogligte afgesit word en die klank is stil, na wie ek moeg huis toe kom. Sy motiveer en ondersteun my en ek weet sy is die beste ma vir my kinders, wat altyd die vort hou as ek nie by die huis is nie," vertel Jo trots.

En is daar enigiets wat die egpaar nog saam wil doen?

"Ons wil nog baie graag saam oorsee toer en sien vreeslik uit daarna," vertel Jo aan Huisgenoot.

Met dié dat Jo so bedrywig is wil hulle in Desember twee weke lank ’n "breek" vat.