Met sy donkerkop, welige baard en groenbruin oë laat hy harte op ’n streep vermurwe. Die sanger met die rasperstem is selfs al as Suid-Afrika se mooiste man aangewys. 

Maar nou het Jo Black kompetisie gekry – en dit van sy kleinboet, Willem Engelbrecht. 

Met sy bultende spiere en stoute glimlag laat dié fiksheidsfanatikus wat graag op Instagram lyf wys duisende na hul asem snak. 

En anders as sy ouer broer wat ’n gelukkig getroude man is, is Willem (34) nog ’n vrygesel, en ’n baie begeerlike een daarby...

Toe die nuus vroeër vanjaar bekend word dat die aantreklike spiertier Jo (37) se broer is, het ’n foto van Willem met sy gespierde kaal bolyf soos ’n veldbrand in die sosiale media versprei. 

Met sy bultende spiere en stoute glimlag laat dié fiksheidsfanatikus wat graag op Instagram lyf wys duisende na hul asem snak.

Van heinde en ver het die boodskappe van vroue ingestroom en meer as duisend van hulle wou by sy Instagramprofiel aansluit. 

Die Engelbrecht-broers – Black is Jo se verhoogvan – is vuurwarm manne; daaroor stry niemand. 

Behalwe die twee aantreklike broers self. “Ja, ek sal dit erken: Willem het ’n goeie lyf. Maar sy gesig...Jong, ek verstaan nie die bohaai nie. Ek dink steeds ek is die mooiste man,” terg Jo en lag uitbundig. 

Net verlede jaar het die lesers van Huisgenoot se susterstydskrif Sarie dié sanger as die mooiste man in die land aangewys. 

“Maar nou gons dit so in die sosiale media oor ou Willem dat ek nie eens my titel kan geniet nie,” kla Jo kastig. 

“Ek sien hulle sê nou hy is ’n waardige mededinger vir volgende jaar se mooisteman-titel. Solank hy weet ek het dit eerste gehou,” skerts Jo op die stoep van sy huis in Pretoria wat hy met sy vrou, Debbie (33), deel. 

“Ag, man! Moenie jaloers wees nie,” kap Willem terug. “Hy is net jaloers, want ek kan ook sing. Ek was ’n sopraan op skool, toe breek my stem. Later het ek ’n punk band gehad.” 

Willem is ’n ware fiksheids­fanatikus – en die vro
Willem is ’n ware fiksheids­fanatikus – en die vroue is gaande oor hom. Maar hy self het “geen idee” waaroor die bohaai gaan nie. Foto: Instagram/@willem_g4l

Terwyl Willem elke weekoggend voor werk 20 km op sy bergfiets ry en tot ses aande per week gim, kla Jo dat hy min tyd kry om te oefen en sukkel om gesonder te eet wanneer hy toer. 

Intussen hou Willem sy lyf eksieperfeksie met ’n baie-vet-min-koolhidrate-dieet. 

Maar al ding hulle goedig met mekaar mee, is daar ’n hegte band tussen dié twee wat al harde klippe moes kou en mekaar deur dik en dun moes bystaan. 

Hulle wil juis nou die lewenslesse wat hulle op die harde manier geleer het, gebruik om ’n verskil te maak. “Ons het groot planne met die land,” vertel Jo.

“Planne om mense se lewe te verander; om iets in jong mense se lewe te wees wat ons nooit gehad het nie.” 

Maar al ding hulle goedig met mekaar mee, is daar ’n hegte band tussen dié twee wat al harde klippe moes kou en mekaar deur dik en dun moes bystaan.

Willem het pas uit sy werk as jeugleier en bedryfsbestuurder by die Hoërskool Pretoria-Noord bedank om voltyds by die Be That Guy-beweging, Jo se projek, aan te sluit. 

Daarmee wil hulle leierskap en goeie waardes onder die jeug bevorder. Willem gaan nou die voortou neem met mannekampe, korporatiewe geleenthede en praatjies by skole. 

“Die belangrikste ding wat ons met hierdie beweging wil bereik, is om dié persoon vir ’n ander mens te wees wat ons nodig gehad het toe ons jonk was – iemand wat ’n positiewe uitwerking in jou lewe kan hê,” sê Willem. Jo gaan dié projekte saam met hom aanpak. 

“Sien jy, hy is nie net ’n mooi gesiggie nie,” terg sy ouer broer weer. “Hy het ook ’n ongelooflik sagte hart.” 

As die jongste twee van vier was daar van kleins af ’n band tussen Jo en Willem. 

Willem is mal oor die buitelewe en avonture – en b
Willem is mal oor die buitelewe en avonture – en bring die grootste deel van sy dag buite die huis en weg van die rusbank af deur. Foto: Instagram/@willem_g4l

Hul ouboet, Nico (47), is ’n plaasbestuurder by Marble Hall in Mpumalanga en hul suster, Irma Portheine (42), bedryf ’n blommewinkel in Pretoria. 

“Ons het lank in ons jongmenslewe nie geweet of ons enigiets sou bereik nie,” vertel Jo openhartig. “Ons was screwed up,” beaam Willem. 

“Ons lewe het uit kuier en onsself bestaan; uit dinge waaroor ons albei vandag baie berou het.” Dan erken hy ruiterlik: “Jo was ’n volslae dwelmverslaafde en ek was heeltemal verslaaf aan drank.”

“Ag, dit was moeilik, maar ons het nie goeie invloede in ons lewe gehad nie. Net meer as ’n dekade gelede het Jo nog baie van die geld uitgesnuif wat hy verdien het.”

Maar selfs in daardie donker tye was hulle nog net so na aan mekaar soos in hul kinderjare in Pretoria-Noord.

“Hy het my eerste kar vir my gekoop toe hy nog vir ’n motorhandelaar gewerk het. Ons het ’n skema beding waar ons nie dadelik met die afbetalings begin het nie. Maar die maand toe ons wel moes begin, bel Jo my en sê: ‘Jy hoef nie hierdie maand die motor te betaal nie. Hulle kom hom haal.’ Daar was nie geld oor nie. Ons het dit op drank en dwelms uitgegee.” 

Jo knik. “Ons was toe nog glad nie bekend nie, maar al die kroeë in Pretoria het ons name geken. ’n Goor tyd as ’n mens so daaroor terugdink.” 

Maar selfs in daardie donker tye was hulle nog net so na aan mekaar soos in hul kinderjare in Pretoria-Noord. 

Willem was nog net so lief vir Jo wat hom kleintyd met ’n windbuks raak geskiet en hom soms met die vuiste getakel het. 

En Jo was nog net so verknog aan sy kleinboet wat as kind sy lekkergoedgeld gegaps en hom eenkeer byna met ’n mes bygekom het toe hulle wegkruipertjie gespeel het. 

Eers in 2007 het albei broers ’n keerpunt bereik. “Ek het ’n man een aand in ’n kroeg ontmoet wat my na ’n mannekamp genooi het,” begin Jo vertel. 

Willem span nou sy seer verlede in om ’n inspirasie vir jong mense te wees. Foto: Instagram/@willem_g4l

“Ek het gesê ek sal gaan, maar niemand daar moet vir my bid nie. En toe gaan ek. En daardie aand vind ek die Here, en ek het my lewe soos handomkeer verander.” 

In die volgende week het hy vir Willem gesê: “Boet, die Here is real.” “Ek was my lewe lank kwaad – vir alles, vir die wêreld, vir mense,’’ beskryf Willem sy gemoedstoestand in daardie wilde dae. “Ek wou hê wat hy gehad het.” 

Twee weke later, toe Willem saam met Jo in die kerk was, het ook sy lewenspad ’n nuwe rigting ingeslaan. 

“Ek het lank na God gesoek – en daardie aand het ek Hom gevind. En al my sorge en alles waaroor ek my lewe lank kwaad was, is van my skouers gelig.” 

Maar nog moeilike jare het gevolg. Jo en Debbie het gesukkel om kop bo water te hou. Soms moes die kerk, waar hy later aanbiddingsleier geword het, hul huurgeld betaal. 

Deesdae gaan dit beter as ooit met die broers.

Ook Willem, wat toe as kelner gewerk het, het noustrop getrek. “Ons het mekaar maar probeer help. Soms het ek ’n paar honderd rand gegee; ander kere het Jo weer vir my ’n paar honderd rand gegee. Dit was uitdagende tye, maar tye wat ons nader aan mekaar gebring het,” vertel Willem. 

Deesdae gaan dit beter as ooit met die broers. 

Jo se tweede album, Voel Jy die Genade, is onlangs uitgereik en hy toer weer die land plat vir optredes nadat ’n nekoperasie hom verlede jaar ’n ruk van die verhoog weggehou het. 

En vir Willem wag ’n nuwe uitdaging. Hy erken hy was “nogal bang” om die kans te waag om uit sy werk te bedank en voltyds saam met Jo te werk. 

Jo se tweede album, Voel Jy die Genade, is onlangs uitgereik en hy toer weer die land plat vir optredes nadat ’n nekoperasie hom verlede jaar ’n ruk van die verhoog weggehou het.

“Ek is die calculated een, en Jo is die een met die hart. Hy vra my al so lank om voltyds hier betrokke te kom raak, en nou het dit eindelik gebeur,” sê Willem. 

Hy en Jo het pas ’n Heroes Anonymous-app bekendgestel waardeur leerders anoniem aan hulle terugvoer kan gee oor die situasie by hul skool. 

Dan kan die broers kwessies soos afknouery aanroer wanneer hulle die skool besoek. 

“Ek wens ons het iemand in ons jongmenslewe gehad wat ons gehelp het om beter keuses te maak,” sê Willem. 

“Iemand wat daar was vir ons, selfs al het ons drooggemaak. Want dis wat ons nou vir iemand anders wil wees.”