Die blote gedagte sal enige ouerhart laat yskoud word: Jou kind raak ál sieker, en dan kom ’n diagnose wat haar lewe in ’n oogwink verander. Net meer as ’n jaar gelede was dit die nagmerrie waarin die sanger Jo Black en sy vrou, Debbie, vasgevang was.

In Februarie verlede jaar het Debbie besef hul jongste dogter, Miané (toe 6), voel nie lekker nie. In die dokter se spreekkamer is ’n skynbaar gewone hoë koors by haar gediagnoseer, maar toe versleg haar toestand.

Langer as ’n week het die ouerpaar hulpeloos toegekyk terwyl hul kind daagliks sieker raak. Eindelik is die seldsame Kawasaki-siekte by haar gediagnoseer.

Dit is ’n nieoordraagbare toestand wat inflammasie in die bloedvate veroorsaak en die hart kan aantas of die dood kan veroorsaak.

Die oorsaak van die toestand is nie bekend nie. Vandag leef Miané met skade aan haar hartjie, maar sy lééf.

Hier maak Debbie haar ouerhart oop oor die onsekerheid en vrees waarmee haar gesin moes leef omdat sy ander ouers wil herinner om te luister na daardie stem in hul binneste.

Die dag dat jy as ouer hoor ’n siekte is by jou kind gediagnoseer waarvan jy nog nooit eens gehoor het nie, is verwarrend en vreesaanjaend.

As ouer doen jy jou bes om jou kind teen siektes soos masels en waterpokkies te beskerm.

n Mens het skaars kans om die vreugde van die nuwe bondeltjie liefde te begryp, dan moet jy die weerlose mensie vir inspuitings neem.

Jy doen wat gedoen moet word; almal soek net die beste vir ons hartjies wat buite ons lyf loop. Miané, ons jongste, is in 2012 vroeg gebore, op 36 weke; te klein om al ’n mensie uit eie reg te wees, maar sterk genoeg om ’n keel op te sit.

Van dag een af het ons gesien die klein mensie het ’n sterk wil en ’n unieke persoonlikheid. Dit was 14 Februarie 2018, die dag waarop liefde gevier word.

Ma en pa het planne gehad om die aand iets te gaan eet terwyl die meisiekinders by oupa en ouma kuier, maar die planne het verander toe ek die oggend vroeg besef ons jongste het ’n hoë koors, net bo 39 °C.

Daardie oggend agtuur, toe die dokter se spreekkamer oopmaak, bel ek en kry ’n afspraak. Ons gewone dokter was vol- bespreek en ek het die enigste opening by ’n ander dokter gekry.

Hy het gekyk, geluister en koors gemeet en tot die gevolgtrekking gekom dat sy waarskynlik ’n boonste lugweginfeksie het omdat hy kan sien haar keel is rooi. Met voorgeskrewe goedjies vir pyn is ons huis toe.

Debbie en Miané
Sy vrou, Debbie, en Miané, wat skade aan haar hart opgedoen het toe Kawasaki-­siekte by haar gediagnoseer is. Foto: Verskaf

Die volgende dag was Miané se ogies egter rooi. Sy het die grootste deel van die dag geslaap; koors maak ’n klein lyfie moeg.

Dag drie het verbygegaan en met die medisyne het die koors effens gedaal – maar later weer tot bo 39 °C gestyg.

Ek het gevoel iets is nie reg nie en het weer die dokter gebel. Die ontvangsdame het my gerusgestel: Ek moet net die antibiotikum kans gee om te werk. Dag vier het verbygegaan en Miané het siek gebly. Ek het opgemerk haar lippies en tong is rooi.

In my hart het ek geweet iets vreesliks is fout, maar dit was naweek en ons het besluit om die medisyne kans te gee tot die Maandag en dan weer die dokter te spreek.

Die Maandagmiddag het ons uitgevind die eerste dokter is met verlof en ons het ’n tweede een gesien.

Hy het vermoed dis skarlakenkoors en het ’n voorskrif met ’n nuwe antibiotikum gegee. Ek het my tot die internet gewend om die simptome van skarlakenkoors na te slaan, maar dit het nie ooreengestem met Miané se simptome nie. Sy het geen uitslag gehad nie.

Haar simptome was hoë koors wat nie verbeter met medisyne nie; bloedrooi oë, lippe en tong.

Die Dinsdagoggend, die sewende dag van siek wees en dag twee van die tweede reeks antibiotikum, sien ek toe ons wakker word haar handjies en voetjies is aan die binnekant rooi, asof sy gebrand het.

Sy het my verseker dis nie seer nie. In my hart het ek geweet ’n kind moet ná agt dae en op die tweede reeks antibiotikum al beter lyk. Ek het weer die dokter gebel, maar geen dokter was beskikbaar nie.

Die ontvangsdame het voorgestel dat ons die tweede kursus antibiotikum kans gee om te werk voor ons haar in ’n hospitaal laat opneem.

Ek het toe die oorweldigende gevoel gehad om haar liewer hospitaal toe te neem. Jo was in daardie stadium op toer.

Ná ’n gesprek met hom oor die foon het ons besluit ek gaan hospitaal toe. Mianétjie is dadelik opgeneem en ons het vir die pediater op bystand gewag om ons te sien. My hart het langs die hospitaalbedjie gebreek waar ons liefling – ons energieke grapmaker – gelê het.

Ek het gewens ek kon met haar plekke ruil. Die dokter het haar ondersoek. Hy was geduldig en het met omgee in sy oë na my halfhisteriese verduidelikings geluister.

Hy het gesê hy gaan vir verskeie virusse toets om seker te maak, maar hy vermoed dit is Kawasaki-siekte.

Ek het dit voorheen iewers raak gelees. Kawasaki-siekte kan nie met ’n bloedtoets bevestig word nie; daarvoor sou hy ’n pediatriese kardioloog moes laat kom om ’n sonar van haar hart te doen.

Miané
Miané se ouers het groot geskrik toe sy verlede jaar skielik siek word en haar toestand aanhou verswak. Foto: Verskaf

Ek het Jo gebel en probeer verduidelik oor die toetse en ’n siekte waarvan ek niks weet nie. Ek het gehoor hoe my man se hart breek, want hy sou eerder saam met my langs haar bedjie wou staan.

Ek het weer inligting aanlyn gesoek en toe lees ek dit: ‘10-dae-venster vir behandeling voor permanente hartskade.’ My oë het woorde gelees wat my brein nie kon verwerk nie.

Alles het so deurmekaar gevoel, maar ek het ’n kalmte van Bo gekry. Die toetse het negatief teruggekom vir al die ander siektes; toe besluit die dokter om solank met behandeling vir Kawasaki-siekte te begin, al het ons nog vir die kardioloog gewag vir die sonar.

Dis net genade dat ons daardie dag dié bepaalde dokter as pediater gekry het omdat hy al voorheen met die skaars siekte te doen gehad het. Die kardioloog was ’n engel. Hy het die sonar gedoen en bevestig: Miané het Kawasaki-siekte.

Sy het toe reeds skade gehad aan die hoofare wat bloed na die hart voer, asook twee aneurismes op haar regter- koronêre aar, en die een aan die linkerkant was vergroot. Die dokter het verduidelik wat voorlê.

Ek het gehoor hy praat, maar het niks ingeneem nie. Ek het na ons dogtertjie gekyk waar sy in haar hospitaalbed lê en gedink: Niks wat die dokter sê, kan waar wees nie; dis te veel om te begryp.

Jo het elke minuut wat hy nie op die verhoog was nie saam met ons in die hospitaal deurgebring en met ’n swaar hart gery om te gaan doen wat hy geroep is om te doen. Dit was meer as sing; dit was lewens aanraak.

My man het in sy eie storm sy hand na ander uitgesteek. Ons was agt dae in die hospitaal. Sy was voor die sesde dag weer haarself en het die pediatriese afdeling se hart gesteel met haar grappies.

Mense wat ons ken én vreemdelinge het kom bid. Ons het elke dag genade en liefde ervaar.

Ons het geweet: Kawasaki-siekte is ’n skaars kindersiekte wat hoofsaaklik kinders jonger as agt jaar aantas. Dit word dikwels verkeerd gediagnoseer omdat die simptome met dié van ander siektes verwar kan word en dit beteken die behandelingsvenster van 10 dae kan toeskuif.

Danksy haar dokters is Miané se siekte op die agtste dag gediagnoseer. Sy het wel permanente skade aan haar hartare opgedoen en moet lewenslank bloedverdunners drink om te voorkom dat bloedklonte vorm.

Behalwe die wit pilletjie wat sy elke oggend drink en die opvolgondersoeke, gaan ons lewe relatief normaal voort.

Niks kry ons rabbedoe onder nie. Vir ons dokters wat ons kind met soveel deernis behandel het, is ons ewig dankbaar. Hulle is engele in wit jasse.

My raad aan elke ouer: Trust your gut. Jy as ouer ken immers jou kind. Wees eerder bewus as spyt.