Die sanger Jo Black sê die inperking het hom waard
Die sanger Jo Black sê die inperking het hom waardeloos laat voel, maar nou het hy opnuut hoop. Foto: Lubabalo Lesolle

Op die oog af is hy weer die ou Jo Black soos jy hom geken het voor hy ’n jaar gelede sy welige baard gegroet het.

Tóé was sy skoongeskeerde gesig die simbool van hoe die pandemie hom gestroop het van alles wat hom na liggaam en siel voed. Omdat Jo (39) vir lang maande nie kon werk nie, was hy en sy gesin in ’n geldelike oorlewingstryd.

Ergste van alles: Hy het homself verloor. Maar die Jo wat vandag voor jou sit, spog weer met daardie kenmerkende baard wat soos ’n triomfantelike banier oor sy bors hang.

Die rustigheid is terug in sy bruin oë, en dis dieselfde warm, diep rasperstem wat jou so bekoor. Die skyn kan egter bedrieg. Want al is Jo se lewe ooglopend weer op koers, is die man agter die baard nie meer heeltemal dieselfde nie.

“Eintlik het álles verander,” vertel hy jou met ’n grynslag.

“Ek gaan met jou doodeerlik wees: Die spaarvarkie was omgekeer en daar was maande dat ons nie die huis of motor kon betaal nie, dat ek die bank moes bel om uitstel vir paaiemente te vra,” vertel hy oor die moeilike tyd. Hy was op moedverloor se vlakte.

Loopbaangewys het hy byna alles verloor waarvoor hy so hard gewerk het sedert die sukses van sy trefferliedjie “Skepe”. Maar sy bestaanskrisis was selfs erger.

“Die afgelope jaar het my purpose van my gesteel. As jy nêrens het om te gaan nie, niks het om te doen nie . . . Dit steel van jou. Want as jy nie ’n doel het nie, is jy waardeloos.”

Dit het hom maande gevat om weer op te staan nadat sy vrou, Debbie (36), kwaai met hom gepraat het. En dís hoekom alles nou anders is. “Ek het opnuut besef ek is voor alles eers ’n man en ’n pa. Ek was eers Jo Engelbrecht voor ek Jo Black geword het.

“Ek was rigtingloos, want ek kon nie sing nie, maar ek het vergeet ek is nie nét ’n sanger nie,” verduidelik hy. Dis dan ook g’n toeval dat sy splinternuwe program op VIA Doodgewone Jo heet nie.

“Die program wys mý net as doodgewone ou Jo, ja . . . Maar dis ook soos ’n geestelike wedergeboorte vir myself, ’n simbool dat ek kan onthou: Ek is maar net doodgewoon; ek moenie my purpose net op die verhoog soek nie.”

Dieselfde Jo, maar tog ook nie . . .

Langs ’n hobbelrige plaaspad naby Kempton Park in Gauteng skuil die prentjiemooi Tweefontein, ’n voormalige melkplaas wat nou vir buitelugavonture gebruik word. Dis hier tussen die hoë bloekombome en landerye dat Doodgewone Jo verfilm word. Maar dis glad nie vir Jo so doodgewoon op die stel nie.

“Ek het die eerste dag vier keer gesê ek bedank! Ek voel ontsettend aardig voor ’n kamera met ’n mikrofoon in my hand . . . Nee, eintlik voel ek stupid. Ek moet soms een lyn 20 keer oorsê.”

Maar in die werklikheid is die vervaardigingswerk ’n groot vreugde ná ’n jaar waarin bra min gebeur het, sê Jo.

In die program voer hy onderhoude, maar die kameras volg hom ook tydens buitelugavonture. Daar’s ’n doen-dit-self-segment, en programme word afgesluit met optredes deur minder bekende musikante. Die grapjas Leon Schuster, die sanger Refentse en die oud-Mej. Suid-Afrika Adè van Heerden tel onder Jo se gaste.

Jo is deesdae te sien as die aanbieder van die VIA
Jo is deesdae te sien as die aanbieder van die VIA-geselsprogram Doodgewone Jo. Foto: Lubabalo Lesolle

“Ek hoop ek vra die vrae waaraan niemand anders dink nie,” sê Jo. “En ek wys wie ek weg van die verhoog af is, wanneer ek tussen my geliefdes is of net ontspan. Kyk, dis natuurlik nie sleg wanneer die werk vereis dat jy gaan 4x4 ry of jag nie!” Op ’n ernstiger noot sê hy dat Doodgewone Jo hom weer ’n stem gegee het ná die lang maande sonder hoop.

“Ek was met tye so ongemaklik wanneer iemand sê: ‘Dis nou ’n eer om jou te ontmoet.’ Hoekom? Ek’s net ’n gewone poephol van Pretoria-Noord,” vertel hy wrang.

“Wanneer jy in die openbare oog is, is mense geneig om jou op ’n troontjie te plaas. Dis gevaarlik, want vir lank het ek gevoel of ek skielik nie meer die voorreg het om uitmekaar te val nie. Hoe kan jy? Mense kyk dan op na jou.”

Maar hy hét uitmekaargeval tydens die inperking. Want skielik was dit weer soos vroeër jare toe hy van aalmoese moes leef.

“Dit het gevoel asof ek my familie in die steek laat omdat ek nie meer kon voorsien nie. Ek het soos ’n mislukking gevoel. Depressie het weer sy kloue in my geslaan,” vertel hy.

“Die ding het emosioneel die meeste aan my gevat. Dit het gewys al die plannetjies wat ons maak, is nietig. Die lewe is broos en kan in ’n oogwink verander.” Die ingryping het gekom van Debbie en Jo se broer, Willem Engelbrecht.

“Willem het my help verstaan dat my doel nie net kom van dit wat ek doen nie; ek moet my eie purpose skep. En nadat ek lank vir myself jammer gevoel het, het Debbie my bars gekyk en gesê: ‘Ek gee jou nog twee weke om jouself jammer te kry, dan tel jy jouself op. Jou kinders het jou nodig; ék het jou nodig’ . . . En ek hét,” vertel Jo.

Hy vertel hulle is perfekte pasmaats: “Ek is die dromer en Debbie die realis.” Hy het nie van die begin af met Debbie oop kaarte oor hul finansiële verknorsing gespeel nie.

Sy gesin was sy anker in moeilike tye, sê Jo. Van
Sy gesin was sy anker in moeilike tye, sê Jo. Van links is Miané, Jo, Dinieke en Debbie, sy vrou. Foto: Marouise Schoeman

“Sy het my op ’n dag platgetrek, my in die oë gekyk en gesê: ‘Kom ons praat reguit; hoe staan sake regtig?’

“Een ding weet ek nog altyd van haar: Sy sal in ’n motorhuis saam met my bly, want geld het nog nooit saak gemaak nie.

“Haar waardevolste raad was: ‘Jy kan nie almal gelukkig maak nie; jy het geen beheer oor die situasie waarin ons is nie.’ Dis tóé dat ek myself opgetel het.”

‘Vir lank het ek gevoel of ek skielik nie meer die voorreg het om uitmekaar te val nie. Hoe kan jy? Mense kyk dan op na jou’

Pleks daarvan om mismoedig rond te sit het Jo begin doen wat ander doodgewone mense doen. Hy het allerlei tuisprojekte aangepak, en gou was hy weer sy ou self. Hy kan steeds nie op dieselfde skaal as voorheen op die verhoog sing of toer nie. Maar hy het weer daarin geslaag om uit sy diep gat van depressie te klim.

Intussen het sy vrou in ’n ondernemer van formaat ontpop, spog hy weer.

“Debbie het begin juwele maak en verkoop. Sy is die broodwinner – altans vir eers!” Dan breek sy glimlag deur sy pronkbaard.

“Jy weet, my dogtertjies dink ons is skatryk. Nie oor die hoeveelheid geld wat ons het nie; dis omdat ek tuis is. Ek was soms weke van die huis af weg, en ek het altyd agter die verskoning weggekruip dat ek dit vir hulle doen. Maar wat hulle soek, is ’n teenwoordige pa, nie geld nie.”

Hy is daarom van hier af vorentoe net doodgewone Jo – eers ’n man en pa, en dan ’n sanger. “Dis soos ’n tweede kans, dié dat ek nou ’n nuwe perspektief op die lewe het,” sê Jo.

Nou weet hy daar is áltyd hoop. Nes sy jongste enkelsnit, saam met die sanger Refentse, lui: As dit donker raak moet jy weet jy maak saak / Rig jou oë op na die berge / Jou gebede maak jou sterker / En op my knieë sal ek intree vir jou.

“Ek sál weer sing, en die volgende keer wanneer ek op die verhoog staan, sál ek dit bedoel wanneer ek sê ek is dankbaar om daar te wees. Maar ek sal nooit weer vergeet ek was heel eerste Jo Engelbrecht nie.”

  •  Doodgewone Jo is Dinsdagaande om 20:30 op VIA (DStv-kanaal 147).
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe.