Sedert die sanger tydens ’n eksklusiewe onderhoud met Huisgenoot ná die nekoperasie met sy skoner voorkoms gespog het, word Huisgenoot oorval deur lesers wat Jo op sy sogenaamde Clooney-voorkoms komplimenteer.

Al dié boodskappe vlei hom verskriklik en bring vir hom baie vreugde terwyl hy steeds herstel ná ’n vyf uur lange operasie waarin twee verbrokkelde nekwerwels weer in posisie geplaas is, vertel Debbie Donderdag aan Huisgenoot.

Foto: Gallo Images/Getty Images.

“Hy dink dis ’n groot kompliment, maar hy kan dit nou nie eintlik insien nie,” vertel sy.

“Maar ek moan glad nie. George Clooney is verskriklik aantreklik! Ek gee nie om om met ’n Clooney getroud te wees nie.”

Debbie sê selfs hul dogtertjies, Dinieke (9) en Miané (6), moet gewoond raak aan hul pa se nuwe voorkoms.

Foto: Gallo Images/Getty Images.

“Miané het ’n verskriklike morbiede sin vir humor,” terg sy.

“Jo het vir haar gevra of hy vir haar vreemd lyk. Ons wou sommer net weet wat sy dink omdat sy vir die helfte van haar lewe haar pa nét met ’n baard ken.

Toe sê sy so ewe aan hom: ‘Nee, maar dit lyk of Jo Black dood is en mamma met iemand met ’n kort baard getrou het.’ Ek het gerol soos ek lag!”

Foto: Gallo Images/Getty Images.

Debbie sê sy lag vir die vroue se kommentare op sosiale media wat haar waarsku om nou styf aan haar man vas te hou.

“Ek het nou kompetisie,” lag sy uitbundig.

“Nee wat, ons is heeltemal te oud hiervoor. Ons het te veel kinders en ons is al te lank getroud; ek lag net vir sulke dinge.”