Die sanger het vroeër in ’n eksklusiewe onderhoud met Huisgenoot vertel hoe hy in onuithoudbare pyn gedompel is nadat twee van sy nekwerwels verbrokkel het. Boonop het die verbrokkeling van dié nekwerwels ’n senuwee aan sy linkerarm vasgeknyp wat mettertyd daartoe gelei het dat hy gedeeltelik die gebruik van dié arm verloor het.

Dokters se grootste vrees was dat dié operasie Jo se kosbaarste instrument – sy stem – kon beskadig. 

Tog het die sanger geen ander keuse gehad as om te glo dat die operasie, wat eers op 26 September sou plaasvind maar verlede week na 9 September vervroeg is omdat die sanger se toestand versleg het, ’n groot sukses sou wees nie.

“Die tyd het onsettend stadig verbygegaan terwyl Jo in die operasiesaal was,” vertel ’n emosionele Debbie, Jo se vrou, Maandag aan Huisgenoot.

“Dit was die senutergendste paar uur in my hele lewe. ’n Mens wil nooit iemand wie jy lief het in soveel pyn sien nie. Hy is die liefde van my lewe, maar ek kon nét bid toe hulle hom daardie teater binnestoot. Dit was uit my hande – al wat ’n mens dan het, is geloof.

“Bykans vyf uur later kry ons toe die goeie nuus: Die operasie was ’n dawerende sukses en daar is absoluut geen skade aan sy stembande nie.”

Sy sê Jo het ná die raad van mediese kenners besluit om die operasie-metode te kies waar die chirurg ’n snit van agter sy nek maak. Die operasie behels meer pyn as wanneer ’n snit wat voor aan sy nek gemaak word, en die herstelproses is ook langer.

Die vyf uur lange operasie het daarin geslaag om die verbrokkelde nekwerwels van mekaar te skei wat daartoe gelei het dat die senuwees wat na sy linkerarm lei ook vir die eerste keer in weke nie meer vasgeknyp word nie. Die sanger sal daarom die gebruik van sy linkerarm heeltemal herwin.

“Jo is nog onder verdowing en hy het maar nog baie seer, maar dit is niks in vergelyking met die lang en gelukkige pad waarna ons nog uitsien nie,” vertel Debbie.

Sy sê sy en Jo het in die weke sedert hulle van die operasie gehoor het op hulle geloof gesteun.

“Ek dink dit is menslik om nie opgewonde te wees wanneer só groot operasie soos ’n berg voor jou lê nie,” bieg sy.

“Maar ons het nog nooit getwyfel dat God hom sou verlaat nie. Keer op keer in ons lewe het ons gesien hoe God ons se genade vir ons genoeg is – hoe daar altyd ’n uitweg is. Ek is verskriklik verlig en onsettend dankbaar dat alles goed verloop het.”

Dokters sal die sanger se pynvlakke in die komende week glo eers monitor voordat ’n finale prognose oor sy herstelpad gemaak kan word.

Debbie vertel dit was ’n emosionele oomblik om vir die eerste keer ná die operasie met Jo in die waakeenheid te praat.

“Die bietjie wat hy gepraat het, het steeds my knieë lam gemaak,” vertel sy.

Sy sê sy wil namens Jo en haarself aanhangers bedank vir hul boodskappe van gebed en medelye. “Almal se boodskappe maak my ongelooflik emosioneel,” sê sy.

“Hoe sê mens ooit dankie? Jy kan nie. Elke gebed en elke boodskap het ons hierdeur gedra – en ons wil vir elkeen sê hoe ongelooflik dankbaar ons vir hierdie ondersteuning is.”