Die sanger vertel hy voel die gesondste wat hy nog gevoel het nadat hy op 9 September ’n ingrypende operasie van vyf uur aan sy nek ondergaan het om twee verbrokkelde nekwerwels in posisie te plaas.

Hy sê dokters het onlangs vir die eerste keer ná die operasie sy medikasie begin verminder in die hoop dat hy binnekort glad nie meer medikasie hoef te gebruik nie.

Jo en Debbie. Foto: Rowyn Lombard

“Die herstelproses is ’n lang pad, maar ek het in die laaste week vir die eerste keer ná die operasie weer soos ’n mens begin voel. Ek kan amper weer sê dinge keer terug na normaal,” vertel hy.

Jo het dié week met fisioterapiebehandeling begin in ’n poging om weer die volle gebruik van sy regterarm te herwin.

Voorheen het die verbrokkelde nekwerwels op die senuwees gedruk wat na sy arm lei en dít het op sy beurt veroorsaak dat die sanger gedeeltelik die gebruik van sy arm verloor het.

Ná die fisioterapiebehandeling sal Jo nou saam met ’n biokinetikus werk om te verseker dat hy weer nes voorheen sy kitaar op die verhoog kan tokkel.

Jo en Debbie. Foto: Martin de Kock

“Die dokters het gesê my arm kan dalk eers teen Januarie of Februarie volgende jaar heeltemal herstel. Dit gaan baie beter, daaroor twyfel ek nie, maar ek besef ek is nog nie op daardie punt waar ek alles op die verhoog kan gee nie,” sê hy.

Die operasie was vir hom ’n traumatiese ervaring, bieg Jo. Maar deesdae is hy amper weer die man wat hy ’n paar maande gelede was – en boonop meer opgewonde as ooit tevore om na die verhoog terug te keer.

Jo sê hy bewonder sy vrou, Debbie, oor hoe sy hom en hul kinders, Dinieke (9) en Miané (6), in die laaste paar moeilike maande gedra het.

“Ek besef nou eers werklik hoeveel druk sy moes ervaar het,” vertel hy.

“Ek was bedwelm en die kinders het al haar aandag geverg. Sy is wonderlik, en ek is dankbaar daar kom nou vir haar ook verligting.”

Tog het sy bedwelmde toestand met tye in haar guns getel, terg Jo. “Sy het van bedwelmde Jo gehou. Sy kon sommer alles kry wat sy wou hê.”

Die sanger is nog nie gereed om die datums van sy terugkeer na die verhoog bekend te maak nie. Hy maan aanhangers om gereeld sy Facebook-blad dop te hou vir wanneer hy self duidelikheid oor die res van die jaar se konserte het.

Twee dinge wil hy sy aanhangers verseker: Hy is baie gretig om weer agter ’n mikrofoon in te skuif en die welige baard sal beslis terugkeer.

“Die baard is 'n groot deel van my; daar is geen kans dat ek hom nie sal laat teruggroei nie,” sê Jo.

En wat dan nou van ons eie George Clooney? “Ek sien mense gaan so mal oor Clooney in die sosiale media,” sê hy.

“Maar ’n pel het nou die dag vir my gevra: Hoekom wil jy soos George Clooney lyk as jy Jo Black kan wees? Ek het daarvan gehou.”