Die twee Duitse herdershonde Major en Champ is vroeg in Maart terug na die Biden-familiehuis in Wilmington, Delaware, gestuur om by lede van die Biden-gesin te bly en “opleiding” te ontvang nadat Major op 8 Maart ’n lid van die Amerikaanse president (78) se geheime diens gebyt het.

Maar dit lyk of Major nog “opleiding” nodig het. Maandag, enkele dae nadat hy en Champ terug by die Withuis was, het hy nog ’n werknemer by die Withuis gebyt.

View this post on Instagram

A post shared by First Lady Dr. Jill Biden (@flotus)

’n Woordvoerder vir die presidentsvrou, Jill Biden (69), sê “om versigtig te wees” het dié individu hulp by mediese personeel ontvang.

“Major raak nog gewoond aan sy nuwe omgewing en het Maandag op sy wandeling iemand gebyt,” sê die president se woordvoerder, Michael LaRosa.

Jen Psaki, die Withuis se woordvoerder, het vroeër laat hoor dat “Champ en Major steeds gewoond raak aan hul omgewing en nuwe mense”. En dit kan seker nie maklik wees as jou geliefde eienaar nou die magtigste man in die wêreld is nie.

Die driejarige Major is immers baie beskermend teenoor Biden. Minder as twee jaar gelede was Major nog in ’n skuiling vir verwaarloosde diere. En net ’n paar maande gelede het hy saam met sy aanneem-pa in die Withuis ingetrek. Major is die eerste aanneemhond in die Withuis.

Champ is op 13 ouer en veel rustiger as die jongste toevoeging tot die Biden-gesin. Champ is deur Biden se kleinkinders aan hom geskenk.

“Hy is ’n soet hond,” het die president oor Major laat hoor. “Jy kom om die draai en daar is twee mense wat jy glad nie ken nie en hulle beweeg, en hy beweeg om te beskerm," het Biden op die televisiereeks Good Morning America gesê.

Anonieme bronne het aan die Amerikaanse media gesê Major spring op, blaf en jaag die Withuis-personeel en sekuriteit rond.

“Vyf en tagtig persent van die mense (by die Withuis) is mal oor hom. Al wat hy doen, is om hulle te lek en sy stert te swaai. Maar . . ek besef dat mense verstaanbaar bang is vir honde,” sê die president.

BRONNE: BBC.COM, WASHINGTONPOST.COM

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe.