Joe se hare het drie jaar gelede in kolle begin uitval. Hy is in Februarie 2017 met alopecia areata gediagnoseer. Dit ontwikkel wanneer die immuunstelsel foutiewelik jou eie haarwortels aanval en dit daartoe lei dat jou hare uitval.

Al het hy voorheen sy haarverlies onder ’n hoed probeer wegsteek omdat hy baie selfbewus gevoel het, wil hy dit nou met die wêreld deel om ander te help wat ook daarmee sukkel.

Daarom het die sanger agter treffers soos In Die Reën Vir Jou en Pad Na Jou Hart onlangs foto’s op Instagram van die bles kolle op sy kop gedeel om te wys dat sy hare weer groei, al moet hy dit nog elke dag skeer.

"My hare groeie weer!", het Joe (36) opgewonde laat hoor. "3,5 weke van ek met #autoimmune protocol begin het. Jip vir die wat nie weet nie ek het alopecia areata. Dis hoe ek lyk elke dag voor ek skeer," skryf hy by foto's waar sy hare plek-plek weer groei. "Selfs my baard het begin gaan. Maar hy kom terug met ’n baba hare pelsie. Haha! Ek lyk soos ’n Dalmatian of koei," skerts hy.

"Ek laat myself toe om een keer per dag rerig te voel en sad te wees oor wat met my gebeur net sodat ek kan deal met my emosies en dit nie opkrop nie," skryf hy verder. "Maar vir die res is ek rustig en gelukkig dat ek besig is om te genees van binne af en dit op ’n natuurlike manier sonder pyn en naalde.

"Julle kan dit nie op die foto sien nie, maar oral waar daar nou kaal kolle is, is nou besig om ’n laag blonde babahare te groei wat oor ’n paar weke ook donker hare sal word en opvul waar daar nie hare is nie."

Hy het nie spesifieke verwagtinge nie, skryf Joe verder, "maar ek hou styf vas aan elke belofte van die Here partykeer met trane in my oë en kwaad in my hart, maar klou sal ek klou. Ek kry hierdie kondisie onder beheer op ’n natuurlike manier en ek voel super proud op my lyf dat hy saam met my werk, seker omdat ek hom met liefde hanteer vir die eerste keer."

Dis ’n "emosionele pad", bieg hy. "Maar so traan of twee en ’n paar intense gebede doen wonders vir dae wat mens nie wil opstaan nie," lui die sanger se Instagram-inskrywing.

View this post on Instagram

My hare groei weer!!! 3.5 weke van ek met my #autoimmuneprotocol begin het. Jip vir die wat nie weet nie ek het Alopecia Areata. Dis hoe ek lyk elke dag voor ek skeer by the way. Selfs my baard het begin gaan. Maar hy kom ook terug met n baba hare pelsie. Haha! Ek lyk soos n Dalmatian ?? of koei ?? ?? ??. Ek laat myself toe om eenkeer per dag rerig te voel en sad te wees oor wat met my gebeur net sodat ek kan deal met my emosies en dit nie opkrop nie. Maar vir die res is ek rustig en gelukkig dat ek besig is om te genees van binne af en dit op n natuurlike manier doen sonder pyn en naalde. Julle kan dit nie op die foto sien nie maar oral waar daar nou kaal kolle is, is nou besig om n laag blonde baba hare te groei wat oor n paar weke ook donker hare sal word en opvul waar daar nie hare is nie. Ek verwag enige iets en het nie n spesifieke verwagting nie maar ek hou STUIF vas aan elke belofte van die Here partykeer met trane in my oë en kwaad in my hart, maar klou sal ek klou. Ek kry hierdie kondisie onder beheer op n natuurlike manier en ek voel super proud op my lyf dat hy saam met my werk, seker omdat ek hom met liefde hanteer vir die eerste keer. Ek leer my lyf so goed ken en watter voedsel soort gaan vir watse gesondheidsvoordeel of nadeel en wat werk vir wat. Sal dit vir ewig kan gebruik gee nie om wat met my fout is nie, van verkoue tot iets erger. Ek begin ook binnekort met Ozone Therapy en dit beloof om wonders te doen vir my inflammation. Die struggle is real en dis n emosionele pad maar so traan of twee en n paar intense gebede doen wonders vir dae wat mens nie wil opstaan nie. #alopeciaareata

A post shared by Joe Foster (@joefosterofficial) on

Van sy 26 700 Instagram-volgers het hom sterkte toegewens. "Jy is sterk genoeg om hierdie te hanteer. Dink aan jou! Sterkte op jou pad van herstel. Ons love jou hart," het een laat hoor.

"Joe ek moet sê jy is super braaf," het nog een van sy aanhangers, wat ook ’n outo-immuunsiekte het, geskryf. "My lang hare moes af. I know that struggle and the emotional downfall that goes with it. Sterk wees my mens."

"My lewe voel sinvol nou wat ek dit met die publiek deel omdat ek ander kan help wat ook daarmee sukkel," vertel Joe aan Huisgenoot.

"Baie mense weet nie wat die kondisie is nie, selfs ek was nie bewus daarvan totdat ek daarmee gediagnoseer is nie," sê hy.

"Al moet ek elke dag my hare skeer, is dit die eerste keer wat my baard uitval. Daarom moet ek erken dat dit ’n emosionele stryd is en daar baie pyn betrokke is aan die begin.

"Dit is ook nie meer so maklik om uit te gaan soos altyd nie en daarom het ek minder ’n sosiale lewe," voeg hy by.

Die terugvoer wat hy gekry het na die Instagram-inskrywing is ook ongelooflik, sê Joe, wat nie voorheen ’n dermatoloog wou spreek nie.

"Ek het besef dat dit ’n crucial tyd in my lewe is om ’n plan te maak en 'n dermatoloog te sien," vertel hy van die ongeneesbare toestand, wat wel beheer kan word. "Ek doen daarom joga, volg ’n goeie dieët en mag geen medikasie neem nie."

Hy maak dit ook duidelik dat hy geen spesifieke verwagtinge het nie. "Ek het oop verwagtinge en vertrou op die Here en vat elke dag soos dit kom," sê die sanger en liedjieskrywer, wat vanjaar vir twee Ghoema-toekennings benoem is vir beste liedjieskrywer en beste pop-album deur ’n manlike kunstenaar vir sy tweede solo-album, Volgende Stap.

"Ek voel baie gelukkig en is baie trots op myself om in dieselfde kategorie benoem te word met kunstenaars wat groot platemaatskappy agter hulle het," sê Joe.

"Om in die beste liedjieskrywer kategorie benoem te word is ook ’n groot eer omdat liedjies skryf ’n groot passie is."

Met sy liefdeslewe gaan dit ook klopdisselboom. Joe het in Desember verloof geraak aan Ziechfried Paul (25), ’n wiskundeonderwyser van Centurion. Hulle vier Woensdag drie jaar saam as paartjie. Die twee het al ’n paar troureëlings in plek, maar het nog nie ’n troudatum vasgestel nie, verklap Joe.

"Dit maak nie juis saak of dit ’n groot of klein makietie is nie, solank die dag net spesiaal is," laat hy hoor.