Die voormalige model en aktrise Kelly Preston is gister op 57 jaar oorlede en word ook deur die egpaar se dogter, Ella (20), en seun, Benjamin (9), oorleef, berig Daily Mail

Die 66-jarige John het die hartverskeurende nuus in ’n lang plasing by ’n foto van Kelly op sy Instagram-blad met sy volgelinge gedeel. 

“Dit is met ’n baie swaar hart dat ek julle inlig my pragtige vrou, Kelly, het haar stryd van twee jaar teen borskanker verloor. Sy het ’n dapper stryd gestry met die liefde en steun van so baie mense,” skryf John. 

“Ek en my gesin sal vir altyd dankbaar wees teenoor haar dokters en verpleegsters by die MD Anderson-kankersentrum, al die mediese sentrums wat gehelp het asook haar baie vriende en geliefdes wat aan haar sy was.”

Daarby het die akteur gesê hy sal “tyd vat om daar te wees vir my kinders wat hul ma verloor het. Vergewe my dus by voorbaat as julle vir ’n ruk nie van ons hoor nie.”

Hy het bygevoeg: “Kelly se liefde en lewe sal altyd onthou word . . . Weet asseblief ek sal jul uitstorting van liefde in die weke en maande vorentoe voel terwyl ons genees”.

Volgens People het ’n familieverteenwoordiger gesê: “Op die oggend van 12 Julie is Kelly Preston, geliefde vrou en ma, oorlede ná ’n stryd van twee jaar met borskanker.” 

“Sy het gekies om haar stryd privaat te hou en het met die steun van haar naaste familie en vriende vir ’n ruk mediese behandeling ondergaan.”

Die twee het mekaar in 1987 tydens die vervaardiging van The Experts ontmoet en in September verlede jaar hul 28ste huweliksherdenking gevier nadat hulle op 5 September 1991 afgehaak het. 

Hulle is getroud toe Kelly twee maande swanger was met hul eerste seun, Jett, wat in Januarie 2009 op 16 in ’n fratsongeluk oorlede is, berig Entertainment Online

Kelly se laaste plasing op Instagram was op Vadersdag aan John gewy. “Gelukkige Vadersdag aan die beste een wat ek ken. Ons is lief vir jou,” het sy by foto’s van haar gesin geskryf. 

View this post on Instagram

Happy Father’s Day to the best one I know, we love you ????

A post shared by Kelly Preston (@therealkellypreston) on

 Bronne: Daily Mail, InstagramPEOPLE, Entertainment Online