“Drie weke gelede het ek my derde sesmaande-chemosiklus voltooi,” het Johnny gister in ’n hartroerende plasing op sy Facebook-blad geskryf. 

Die Scatterlings of Africa-sanger het pankreaskanker twee keer tevore oorleef en moes weer die nuus verwerk toe die kanker weer kop uitsteek. 

“Die kanker het weer te voorskyn gekom met ’n hoë gewastelling en letsels aan my longe. Dit het my vlak van fase 2 na fase 4 verhoog.” 

Johnny sê ’n klein letsel bo in sy regterlong is steeds effens aktief en “sal waarskynlik met bestralingterapie verwyder moet word. Ek verwag dit sal ’n voortgaande uidaging wees.” 

Fase 2-pankreaskanker is in April 2015 die eerste keer by hom gediagnoseer en later daardie jaar is verklaar dit is in remissie. 

“Ek het ’n Whipple-operasie van sewe uur ondergaan waarin my pankreas, galblaas, galbuis, duodenum en helfte van my maag verwyder is. Ses weke later het ek met ’n chemoterapie-program (Gemcitabine) begin wat ses maande sou duur en aan die einde van November 2015 is verklaar ek is in remissie,” skryf hy in sy plasing. 

Die kanker het in Augustus 2016 weer verskyn en ná nog ses maande van chemoterapie is dit in Februarie verlede jaar weer in remissie verklaar.  

Sy jongste diagnose het sy Final Journey-toer onderbreek wat ironies genoeg gereël is om sy aanhangers te groet terwyl hy nog gesond is nadat hy die tweede keer gehoor het die kanker is in remissie. 

Maar ná die goeie nuus wil die 67-jarige sanger nou sy toer voortsit. 

“Ek sal die wêreldwye Final Journey-konserte hervat vir van die gebiede wat verlede jaar weens die gesondheidsprobleem gekanselleer is en dit sal Mauritius en Zimbabwe insluit.” 

Hoewel Franse aanhangers tot in 2019 hul beurt sal moet afwag terwyl Johnny verdere prognose oor sy longe kry, sê die sanger hy sal ’n week in dié land deurbring om sy nuwe album, King of Time, bekend te stel.

Dit word in September uitgereik.