Toks & Tjops
Toks van der Linde en Vaatjie (Tommy Dickson) van Toks & Tjops. Foto: Luba Lesolle.

Die brief het Toks so diep aangeraak dat hy dit op sy persoonlike Facebook-blad gedeel het, waar dit ook ander aanhangers se harte vermurwe het.

In die brief skryf Juan Swart (15) van Middelburg dat Toks ’n groot inspirasie vir hom en sy pa is. “My pa het hom in 2015 tragies om die lewe gebring drie dae voor my 10de verjaardag. Dit het my hart in stukke geskeur,” skryf Juan.

Wanneer Juan Toks & Tjops kyk, is dit Toks se geduldige geaardheid, positiewe gesindheid en sin vir humor wat Toks vir hom soos ’n vaderfiguur laat voel, verduidelik hy.

“Ek het vir Juan teruggeskryf en gesê dat die brief vir my ongelooflik baie beteken het. In fact, ek het trane in my oë gehad,” vertel Toks aan Huisgenoot.

Hoewel die coronakrisis en die gepaardgaande inperking dinge bemoeilik, het Toks vir Juan genooi om agter die skerms by die program in te loer sodra dit veilig is.

Juan wou toe beskeie weet hoeveel só ’n kaartjie sou kos, voor Toks hom gerus kon stel dat hierdie ervaring hom niks uit die sak uit sal jaag nie.

“Ek wil vir hom graag agter die skerms neem en wys hoe die dinge hier werk. Hy sal net self ’n plan moet maak om na die ateljee in Randburg, Johannesburg, te kom,” vertel Toks.

Toks verduidelik dat hulle aan die kykersgetalle kon sien dat daar tydens die inperking ’n nuwe klem op jong mense geval het. “Ons sien dat daar baie meer jong mense is wat nou ons program se Facebook-blad like en op ons plasings kommentaar lewer,” sê Toks.

Hy glo dat dit weens ’n klomp jonger gaste en gaskunstenaars is wat hulle in die afgelope paar maande na die program genooi het.

“Ons praat ook oor dinge soos geleenthede vir jong mense op die program. Ons vra ons gaste en kunstenaars watter boodskap hulle vir jong mense het,” verduidelik Toks.

Toks & Tjops
Die Toks & Tjops-span. Vaatjie, Janina Oberholzer, Toks en Breyton Paulse. Foto: kykNET.

Al het die inperking baie negatiewe gevolge, het Toks gekies om in hierdie tyd die silwer randjie te omhels en te “reboot”.

“Ek het my oogklappe afgehaal, en ek het die talente wat die Here vir my gegee het meer begin benut,” sê Toks.

“Elke oggend as ek wakker word, doen ek ’n positiewe ding; ek mediteer en hou stiltetyd elke oggend,” vertel hy.

Al is dit nie aldag maklik nie, wil Toks met sy positiewe gesindheid mense inspireer.

“Ek dink daar is baie jong mense soos Juan daar buite wat graag uiting wil gee aan goeters in hul lewe, en dit is vir my baie belangrik,” vertel Toks.

“Ek het eintlik nie woorde nie, want as ’n mens dít nog in jong mense se lewens kan beteken, dan doen ’n mens iets reg in die lewe,” sê hy.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe