Ons hoor by dié jong sterre wat in 2020 vir hulle uitgestaan het en wat die nuwe jaar vir hulle inhou. 

CANTONA JAMES (22)

Cantona James. Foto: Verskaf
Cantona James. Foto: Verskaf

Dit was ’n jaar vol lof vir dié Kaapse akteur. Hy is as die beste opkomende kunstenaar by die kykNET Fiësta-prysaand aangewys én is vir ’n Royalty Soapie-prys benoem vir beste nuweling vir sy rol as Daniel Lefras in Arendsvlei. En dis nie al nie. Cantona, wat drama aan die Universiteit Stellenbosch studeer het, het ook ’n Fleur du Cap-prys vir die belowendste student gewen.

Wat was die beste ding wat in 2020 met jou gebeur het?

Dat ek drie benoemings in een jaar gekry het – vir teater, akademie en TV. Dit laat my besef ek is goed genoeg om in die bedryf te bly en maak my minder senuweeagtig oor die toekoms van my loopbaan.

Wat het jy vanjaar oor jouself geleer?

Dat ek sterker is as wat ek gedink het, en as die lewe jou ’n slegte hand gee, moenie worry nie. ’n Bluff wen soms ook.

Wat is jou planne vir 2021?

Om seker te maak daar is meer geleenthede vir jong bruin mense wat ’n passie het vir kuns.

Wat wil jy anders doen in die nuwe jaar?

Ek gaan fokus op my onderneming, JC Entertainment, ’n produksiemaatskappy. Hopelik kan ons meer mense inspireer om ’n pen op te tel en hul emosies op papier te sit, en dan begin gesond raak.

MELISSA MASSYN (22)

Melissa Massyn. Foto: Willem Botha
Melissa Massyn. Foto: Willem Botha

Melissa is as die bekkige Nesie in die sepie Getroud met rugby te sien en was vroeër vanjaar op Bali gestrand weens die coronaviruskrisis.

Wat was die beste ding wat in 2020 met jou gebeur het?

Ek het ’n baie goeie jaar gehad ten spyte van die tragedie wat covid-19 is. Ek kon saam met my familie oorsee reis. En dan natuurlik die rol wat ek in Getroud met rugby gekry het. Die mense is so lekker daar en my karakter het ’n wonderlike storielyn.

Wat het jy vanjaar oor jouself geleer?

Ek het besef ek is ’n persoon wat groei en gelukkig is wanneer almal om my groei en gelukkig is. Ek het geleer dat ek ander wil opbou, en ek floreer wanneer mense om my ander opbou.

Wat is jou planne vir 2021?

Ek wil ’n diertjie aanneem.

Wat wil jy anders doen in die nuwe jaar?

Die spoed waarteen ek nou gaan, maak my gelukkig. Ek voel tevrede en wil aanhou met wat ek doen.

ANDREW SUTTON (20)

Andrew Sutton. Foto: Craig Scott
Andrew Sutton. Foto: Craig Scott

Dié sanger het ons vanjaar laat dans met sy liedjie “Broke”.

Wat was die beste ding wat in 2020 met jou gebeur het?

Ek kon op musiekvervaardiging fokus, verskillende genres in my liedjieskrywery verken en met ander jong kunstenaars in my ateljee saamwerk.

Wat het jy vanjaar oor jouself geleer?

Ek het myself verbaas met hoe hard ek werk wanneer ek passievol is oor die projekte waarmee ek besig is.

Wat is jou planne vir 2021?

Ek het nuwe musiek wat vroeg in 2021 uitkom, waaroor ek baie opgewonde is.

Wat wil jy anders doen in die nuwe jaar?

Ek hoop ek sal weer op die verhoog kan wees.

DEAN SMITH (26)

Dean Smith. Foto: Instagram (@smith.dj)
Dean Smith. Foto: Instagram (@smith.dj)

Die Suidooster-ster het ons in die inperking laat giggel met sy skreeusnaakse video’s wat hy in die sosiale media gedeel het.

Wat was die beste ding wat in 2020 met jou gebeur het?

Dat ek steeds gewerk het en steeds kon doen waarvoor ek lief is.

Wat het jy vanjaar oor jouself geleer?

Ek kan nie van die huis af werk nie. Ek vang net nonsens aan.

Wat is jou planne vir 2021?

Ek wil meer doen. Ek wil meer oudisies doen. Ek wil teater doen. En ek wil dinge meer waardeer; ek sal dit nie meer so as vanselfsprekend aanvaar nie.

Wat wil jy anders doen in die nuwe jaar?

Ek wil uitbreek en nie net as Wade van Suidooster bekendstaan nie. Ek wil groei in verskillende genres en as ’n akteur uitgedaag word.

DANIËL VERMAAK (17)

Daniel Vermaak. Foto: Verskaf
Daniel Vermaak. Foto: Verskaf

Hierdie tiener is een van die grootste TikTok-sterre in die land met meer as 3 miljoen followers en 71 miljoen likes.

Wat was die beste ding wat in 2020 met jou gebeur het?

Ek het besef hoe gelukkig ek is en hoe dankbaar ek vir my gesin is.

Wat het jy vanjaar oor jouself geleer?

Ek is nie bang vir verandering nie en verandering is goed.

Wat is jou planne vir 2021?

Ek wil anders na dinge kyk en geleenthedeaangryp. Ek wil ook gesonder leef, aan myself werk en die beste weergawe van myself wees.

Wat wil jy in die nuwe jaar anders doen?

Ek wil my matriekjaar met goeie punte klaarmaak en voluit leef.

NANCIA DORLAND (21)

Nancia Dorland. Foto: Instagram (@nanciadorland)
Nancia Dorland. Foto: Instagram (@nanciadorland)

Dié oudmatrikulant van die Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad was vanjaar as Tessa in die kykNET-dramareeks Kompleks te sien en het ook onlangs haar debuut in Arendsvlei gemaak.

Wat was die beste ding wat in 2020 met jou gebeur het?

Ek het die geleentheid gekry om Candice Burger in Arendsvlei te speel. Ek leer so baie oor die bedryf en geniet dit vreeslik op die stel.

Wat het jy vanjaar oor jouself geleer?

Dat ek nie so hard op myself moet wees nie en meer in myself moet glo. Ek het geleer om elke oomblik te geniet, want ’n mens kry net een lewe en jy weet nie wat om die draai lê nie.

Wat is jou planne vir 2021?

Ek wil minder oor die toekoms stres en weet dat alles vir ’n rede gebeur.

Wat wil jy anders doen in die nuwe jaar?

Ek besef om oor die toekoms en my beroep te stres is baie sleg. Ek wil werk aan roetines om dit te verlig.

CHELSEA THOMAS (20)

Chelsea Thomas. Foto: Instagram (@chelsea_bun)
Chelsea Thomas. Foto: Instagram (@chelsea_bun)

Dié aktrise van Kraaifontein in Kaapstad het vanjaar haar eerste groot TV-rol losgeslaan as die moeilikheidmaker Bompie (Jarrid Geduld) se jonger suster, Angelique, in Arendsvlei.

Wat was die beste ding wat in 2020 met jou gebeur het?

Beslis Arendsvlei! Dit het my hele lewe positief verander.

Wat het jy vanjaar oor jouself geleer?

Ek is sterker as wat ek dink en het die vermoë om groot hoogtes te bereik.

Wat is jou planne vir 2021?

Jy kan nie alles beplan nie; niks is verseker nie.

Wat wil jy anders doen in 2021?

Covid-19 gaan nie verdwyn nie; so ek gaan nie probeer om alles te beheer nie.

ROBERTO KYLE (28)

Roberto Kyle. Foto: Dale Sylvester
Roberto Kyle. Foto: Dale Sylvester

Roberto is vanjaar met ’n Safta-prys vir beste akteur bekroon vir sy rol as Lee-Roy Foster in Arendsvlei.

Wat was die beste ding wat in 2020 met jou gebeur het?

Die nuwe karakters wat ek kon speel en om my eerste Safta te wen – ’n ongelooflike en nederige gebeurtenis. Ek sal dit altyd koester.

Wat het jy vanjaar oor jouself geleer?

Dat ek nou op ’n punt is in my lewe waar ander nie meer ’n houvas op my het nie. Dit het vir my maklik geword om weg te stap van mense en situasies wat my lewe onnodig swaar en moeilik maak.

Wat is jou planne vir 2021?

Om uitdagender karakters aan te pak. En om ’n Nguni-taal aan te leer.

Wat gaan jy anders doen in 2021?

Ek wil graag meer in my eie geestesgesondheid belê. Ek dink omdat 2020 juis vir soveel van ons so moeilik was, is dit belangrik dat ons 2021 met ’n gesonde geestesgesondheid aanpak. 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe