Ná ses enkelsnitte en ’n kortspeler is sy terug met haar eerste internasionale enkelsnit, STFU. Ons gesels met dié alternatiewepopster oor haar musiek en lewe in Los Angeles.

Meer oor STFU 

Dit gaan daaroor om die lewe op jou eie te ontdek en nie aandag aan negatiwiteit te skenk nie. Die snit is deur baie van my ervarings geïnspireer. Mense raak dikwels bitter en jaloers wanneer jy sukses behaal en versprei skinderstories.

Dit kan ’n golf van negatiwiteit veroorsaak, maar ek het besluit om nie ag te slaan op wat ander sê nie. Ek dink dit gebeur met almal, en ek wil mense inspireer om op hul geluk te fokus.

Wie skryf jou liedjies?

Ek skryf al my liedjies, maar kry af en toe hulp van medeskrywers. Ek het my eerste liedjie, Battleships, op 16 geskryf. Dis in Februarie 2015 uitgereik.

Battleships het dit gemaak tot op iTunes se trefferlys, en Nineteen het ook radio­stasies (5FM en Jacaranda FM) se trefferlyste gehaal. Dis lekker om te sien dat mense jou musiek waardeer en dat jou harde werk vrugte afwerp.

Is jy die enigste musikant in jou gesin?

Ek het in Fourways, Johannesburg, grootgeword. My jonger susters, Dayna (20), Eryn (18) en Shayla (13), kan soos engeltjies sing, maar ek kan nie dieselfde sê oor my ouers, Andrew (49) en Dianne (46), nie.

Op 15 het Ashlin besef sy kan ’n loopbaan uit musi
Op 15 het Ashlin besef sy kan ’n loopbaan uit musiek maak. Foto verskaf

Ons weet regtig nie waar ons musiektalent vandaan kom nie. My ma is ’n binneversierder en my pa werk in die konstruksiebedryf.

Wanneer het die musiekgogga gebyt?

My ma het my altyd geneem na produksies by die kinderteater en ook pantomimes soos Snow White. Ek het op teater verlief geraak toe ek The Phantom of the Opera kyk. Dit het my passie vir musiek aangevuur.

Ek het ook met Madonna en Michael Jackson grootgeword. Ek het op sewe al vir mense gesê ek wil ’n ster wees. Op 15 het ek besef ek kan ’n loopbaan hieruit maak.

Waar het jy skoolgegaan?

Ek was van gr. 2 tot gr. 10 ’n leerder aan die HeronBridge College in Johannesburg. Die laaste twee jaar het ek tuisonderrig gekry. Ek het nie hoër­skool so baie geniet nie, want dit was asof hulle wil hê ’n mens moet konformeer, en ek was altyd iemand wat uitgestaan en my eie ding gedoen het.

Ek het in 2015, ná matriek, op my sangloopbaan gefokus.

Wanneer het jy Los Angeles toe verhuis?

In September 2017. Ek bly in die middestad. Ek hou daarvan om vir soesji by Sugarfish te gaan. Dis die beste! The Hotel Cafe is my gunstelingplek om na nuwe sangers te luister. Oral waar ek in Los Angeles optree, het mense my musiek met ope arms verwelkom.

Ashlin het in September 2017 na Los Angeles verhui
Ashlin het in September 2017 na Los Angeles verhuis. Foto verskaf

Wanneer laas was jy in SA?

My ouers bly nog in Johannesburg. Ek is die eerste twee weke van Februarie in Suid-Afrika. Ek kom elke drie of vier maande huis toe.

Enige nagmerrie-optredes?

My mikrofoon het al ’n paar keer geval. My rok het een keer per ongeluk afgeval, maar gelukkig het ek toe lang hare gehad om dit toe te maak.

Hoekom het jy jou hare silwer gekleur?

Ek het dit op 19 begin silwer kleur en is mal daaroor. Die kleur is nie uitspattig nie en weerspieël ’n geheimsinnige kant van my.

Met watter sangers sal jy graag ’n­ verhoog wil deel?

Plaaslik, Nasty C en Lady Zamar. Internasionaal, Mark Ronson en Sia. Elkeen inspireer my op hul eie manier en pleeg toorkuns in die ateljee.

Saam met watter plaaslike kunstenaars het­ jy al gewerk?

Ek het al saam met Sketchy Bongo, Dr. Bone, Howie Combrink, SEVVEN, Cara Frew en Connell Cruise gewerk. Dit was groot pret. Hulle almal het hul eie unieke manier van dinge doen, en elke keer was vir my ’n goeie leerervaring.

Wat mis jy die meeste van Suid-Afrika?

Die mense. Die lug. Die energie. Suid-Afrika sal altyd my tuiste bly. Niks sal dit ooit vervang nie. Ek mis koeksisters, braaivleis en goeie cappuccino. My lys gaan aan en aan.

Wat is jou toekomsplanne?

Ek sal waarskynlik ’n album opneem wanneer die tyd reg is. ’n Toer deur Amerika en Suid-­Afrika is beslis op my lys. Ek sal ook graag eendag my eie onderneming wil begin. Beslis ’n restaurant.

Kitsvrae
  • Grootste swakheid? Kos.
  • Gunstelingpeuselhappie? Sjokolade.
  • Vernederendste oomblik? Ek het my arm gebreek toe ek ’n ou wou beïndruk. ?Ek was maar net sewe. Die ou was glad nie ?beïndruk nie.
  • Stokperdjies? Kook, grimering en fotografie.
  • Vreemdste vrees? Tande wat in die donker uitval.
  • Wat sal jy nooit dra nie? Crocs, hoewel ek al deur so ’n fase gegaan het.
  • Vreemdste aanhanger-ervaring? Een het vir my gesê ek het mooi voete en tande. Hy het ook foto’s van hom in bikini’s gestuur.
  • Hoeveel lande het jy al besoek? Meer as 20. Viëtnam, Argentinië en Madeira in Portugal was my gunstelingbestemmings.
  • Stad met die beste kos? Hanoi in Viëtnam.
  • Shawn Mendes of Zayn Malik? Shawn Mendes.
  • Gigi Hadid of Kendall Jenner? Kendall Jenner.
  • Nicki Minaj of Cardi B? Nie een nie, jammer!