JP Duminy en sy vrou, Sue (33), se pragtige driejarige Isabella vermaak omtrent mense aanlyn met haar oulike foto’s, dansvideo’s en sêgoed. 

Isabella was selfs onlangs op die ontbytprogram Expresso. Ná die verfilming het Sue ’n oulike video van Isabella op Instagram gelaai waarin sy vertel hoe geïntimideerd sy gevoel het met die baie kameras op haar gerig.

Maar wanneer haar ma haar selfoon by die huis uitpluk, is Isabella slaggereed vir 'n foto of video-opname. “Sodra ek daardie kamera uithaal, begin sy haar heupe swaai,” sê Sue aan Huisgenoot.

Sy noem dat haar dogtertjie se Instagram-video’s baie gewild is. “Sy love die kamera en wil net foto’s neem en vra dat ek video’s van haar opneem. Sy hou so baie daarvan dat ek haar soms moet sê: ‘Oukei, kalmeer nou,’ ” lag Sue. 

Isabella is gaande oor die kamera, sê sy. “Sy hou van aantrek en op ons stoep gaan staan en poseer vir ’n foto.”

Sy weet nie waar hul dogtertjie die liefde vir die kamera vandaan kry nie. “Ek en haar pa is baie stil, en sy is ’n firecracker en ’n ekstrovert en hou daarvan om te vermaak,” sê Sue.

Saans wanneer sy en JP op die bank rus, sal Isabella vir hulle dans. “En dan sê sy die snaaksste goed en sing vir ons. En sy kry dit eintlik reg om ons te vermaak, want jy kan nie ophou vir haar kyk nie,” sê Sue, wat ook ’n babadogtertjie, Alexa Rose, het wat in September gebore is. 

Sue laai ook gereeld video’s van haar en Isabella wat dans op Instagram. “Sy (Isabella) hou van Taylor Swift en Beyoncé. Sy ken hulle liedjies se lirieke en sing gereeld saam nadat sy dit net een of twee keer gehoor het.

En daai danspassies van Isabella? “Sy kyk gereeld Beyoncé se musiekvideo's.”

JP skud net sy kop wanneer hy die video’s agterna sien, lag Sue. “Hy sê nie veel nie. Sy’s omtrent ’n diva.”