Sy het nie eens geweet wie Juan Boucher is nie, maar sy het darem een liedjie geken wat hy sing. En toe Shamodene Niemann die gewilde Afrikaanse sanger toevallig op ’n passasiersboot raakloop, het sy gespot: “Ek hoor jy sing die liedjie ‘Ons word een’. Sal jy dit vir my op my troue sing?” En Juan het so ewe geantwoord: “As ek met jou trou, sal ek dit vir jou sing!”

Dit was profetiese woorde. Want net 11 maande ná hul ontmoeting op ’n boot wat verlede Januarie deur ’n tierende suidooster in Tafelbaai se hawe vasgekeer was, het hulle besluit om hul lewensreis saam aan te pak.

Die sanger Juan Boucher het deur die jare verskeie
Die sanger Juan Boucher het deur die jare verskeie liefdes-teleurstellings beleef, maar het sy trouvrou in Shamodene Niemann gevind. Foto: Cherize Rossouw/RIES-O-GRAPHY

Dié keer het Juan (36) nie grappies gemaak toe hy van trou praat nie, en Shamodene (25) op Kersdag met ’n verloofring verras.

“Ek dink as mens deur fases in jou lewe gegaan het en deur verhoudings wat dalk nie uitgewerk het nie, dan weet jy net: Nóú voel ek gemaklik. Vandat ons mekaar die eerste keer gesien het, het dit nog nooit verander nie,” sê die sanger oor sy trouvrou.

Die verliefdes deel ’n spesiale vakansieoomblik. F
Die verliefdes deel ’n spesiale vakansieoomblik. Foto: Verskaf

Haar lang, donkerbruin hare is vandag in ’n los bolla vasgemaak en haar vel straal in die laatmiddag son waar sy langs hom agterin ’n dubbelkajuitbakkie sit terwyl hulle oor ’n video-oproep met Huisgenoot gesels.

Hulle kuier in Noordwes en is saam met vriende op pad na ’n jakkalsjag op ’n plaas.

“Ek en Shamodene is albei mal oor jag,” vertel Juan.

Vermoedelik het die klein jakkalsies wat sy vorige verhoudings geknou het hom nou help besef dat hy eindelik sy lewensmaat gevind het.

“Shamodene is glad nie jaloers nie,” vertel die sanger. “Daar sal ’n miljoen girls om my staan en sy sal nie sê: ‘Ék sien hoe kyk jy vir haar of sy vir jou’ nie. Sy sal selfs foto’s van hulle saam met my neem.”

“Daar sal ’n miljoen girls om my staan en sy sal nie sê: ‘Ék sien hoe kyk jy vir haar of sy vir jou’ nie.

Reis na liefde

Sedert hy 17 jaar gelede ’n tweedehandse kitaar gekoop en begin liedjies skryf en sing het, het Juan al groot hoogtes in sy loopbaan bereik. Hy het al verskeie pryse gewen, en sy jongste album, Gewigloos, was onlangs boaan trefferparades.

Maar ná die dood van sy eerste liefde, Nadia Potgieter, het blywende liefdesgeluk hom ontwyk. Huisgenoot het al tevore vertel hoe Juan (toe 20) langs sy sterwende meisie se bed gestaan en sing het nadat sy in ’n motorongeluk was en vir haar die liedjie “Keep Fighting” geskryf het.

Hy het later nuwe liefde gevind by die model en televisieaanbieder, Jaenette Jacobs, maar hul verlowing is in 2018 verbreek. Daarna was ’n rekenmeester van Kaapstad, ene Carien, “met die mooiste blou oë”, die vrou in sy lewe. Maar ook dié verhouding het in 2019 geëindig.

Toe hy ’n jaar gelede aan boord van die MSC Orchestra stap vir Bok Radio se retoervaart van vyf dae tussen Kaapstad en Walvisbaai in Namibië, sou hy nooit kon raai dit sou die mees gebeurtenisvolle reis van sy lewe wees nie – selfs al moes die beplande vaart weens ’n stormsterkte suidoostewind opgeskort word. Want op die luukse boot waar Juan en ander kunstenaars opgetree het, het Juan sy droomvrou ontmoet.  

Die paartjie het op Kersdag in die teenwoordigheid
Die paartjie het op Kersdag in die teenwoordigheid van hulle albei se families op Mosselbaai verloof geraak. Foto: Cherize Rossouw/RIES-O-GRAPHY

Shamodene het by vriende op Stellenbosch gekuier, toe 'n Kaapse vriend, toevallig 'n kennis van Juan, haar op die nippertjie saamnooi op die vaart. Hy het die twee op die boot aan mekaar voorgestel.

“Ek het nie eens geweet wie Juan is nie,” erken Shamodene, ‘n groot aanhanger van die groep Spoegwolf.

Juan en Shamodene het mekaar in Januarie verlede j
Juan en Shamodene het mekaar in Januarie verlede jaar op ’n bootvaart ontmoet. Kort voor lank het hy geweet hy wil die res van sy lewe saam met haar deurbring. Foto: Cherize Rossouw/RIES-O-GRAPHY

Hul ontmoeting was die begin van ’n hegte vriendskap wat gou in ’n romanse ontluik het. By ’n optrede in Pofadder in die Noord-Kaap, waarheen hy haar saamgenooi het, het hy tydens ’n instrumentale deel in sy liedjie “Die gesprek” spontaan vir die boere begin bid.

“Daar het dit my getref: Ek is verlief!” vertel Shamodene.

Juan boer self deeltyds met skape by Loeriesfontein in die Noord-Kaap en het haar kort daarna plaas toe genooi. Sy lag. “Hier het ek besef dinge raak nou ernstig!”

“Daar het dit my getref: Ek is verlief!”

Juan onthou sy het vir hom ’n boekie saamgebring om sy lirieke in neer te skryf.

“As ek skryf, ondersteun sy my; sy inspireer my. En as jy dit kan doen en my lewe net makliker maak, is jy die vrou vir my.”Hy erken: “Ek hou van ’n donkerkoppie, hulle is feisty. Sy weet wat sy wil hê en sy het baie mooi lippe!”

Shamodene bloos en laat haar kop op sy skouer rus.

“Sy weet alles van my,” voeg Juan by. “Sy ken my hele geskiedenis nog voor ons eens gesoen het.”

Toe hulle oor sy Bouch Clothing-handelsmerk gesels wat hy in 2019 bekendgestel het, het sy gespot: “Laat dit aan my oor; ek sal vir jou baie geld maak eendag!” Shamodene, wat as onderwyser gekwalifiseer is, het in daardie stadium as persoonlike assistent in Pretoria gewerk. Juan het haar aanbod aanvaar en sy en haar jonger suster, Chenelle, het sy aanlyn onderneming begin bestuur.

Shamodene help Juan om sy aanlyn klerewinkel en Bo
Shamodene help Juan om sy aanlyn klerewinkel en Bouch Clothing-handelsmerk, waar hy onder meer plaaslik vervaardigde T-hemde en vellies verkoop, te bedryf. Foto: Cherize Rossouw/RIES-O-GRAPHY

Hy het Shamodene ook gevra om vir hom ’n nuwe blyplek in Pretoria te help soek. Nog voor die inperking in Maart aangebreek het, het hy al vir haar gesê: “Ek dink jy moet maar jou slaaphempie bring.”

In dié tyd wat hulle saam in Pretoria deurgebring het, het hulle mekaar nog beter leer.

“Ons het nie een keer baklei nie,” vertel Juan. “Sy verstaan wat irriteer my, en ek verstaan wat irriteer haar. Sy sal sommer ook reguit sê: ‘Tel op jou kouse en gooi dit in die wasgoedmandjie; ek is nie hier om agter jou aan te loop nie.’ ”

“Sy verstaan wat irriteer my, en ek verstaan wat irriteer haar. Sy sal sommer ook reguit sê: ‘Tel op jou kouse en gooi dit in die wasgoedmandjie; ek is nie hier om agter jou aan te loop nie.’ ”

“Ek was baie gestres,” erken hy oor dié uitdagende tyd. “Maar ek kan planne maak en Shamodene en haar suster het baie gedoen met die aanlyn winkel. Ons laat nie dat so iets ons onderkry nie, en ons bekommer ons nie oor die glitz en glamour van geld nie.”

Mettertyd het hy besef: “Ek sal definitief met hierdie girl die pad kan stap. Sy is soos ’n bolletjie klei vir my. Ek kan haar sculpt. Ek hou elke dag van my lewe van haar. Ek het gedink ek sal seker die een of ander tyd ’n ring moet kry.”

Albei is familievas en het in die feestyd saam met albei families op ’n gholflandgoed in Mosselbaai vakansie gehou.

Die verlowing

Op Kersoggend het Juan vir die niksvermoedende Shamodene net ’n seekoeipoppie present gegee en ’n tweede geskenk later die dag beloof. Shamodene was die middag nog in haar nat swembroek met ‘n handdoek om haar lyf gedraai, nadat sy pas uit die swembad geklim het, toe hy kniel en haar die jawoord vra.

Juan en Shamodene laf op die strand. Foto: Cherize
Juan en Shamodene laf op die strand. Foto: Cherize Rossouw/RIES-O-GRAPHY
Shamodene en Juan vertel hulle is baie dieselfde.
Shamodene en Juan vertel hulle is baie dieselfde. Foto: Cherize Rossouw/RIES-O-GRAPHY

“Ek het net begin huil. Ek het nie eens na die ring gekyk nie. Ek kon nie praat nie,” vertel sy. Hy moes vra: “Sê jy ja?”

Hulle beplan ’n intieme Bosveldtroue in Maart. Hulle is ewe haastig om met ’n gesin te begin.

"Toe ek vir Juan ontmoet, toe weet ek ook: Hier is die pa van my kinders,” sê Shamodene, wat juis onderwys gaan studeer het omdat sy graag met kinders wou werk.

"Toe ek vir Juan ontmoet, toe weet ek ook: Hier is die pa van my kinders.”

As kranige gholfspeler was dit ook ’n opsie om beroepspeler te word, maar haar liefde vir kinders het gewen.

Die paartjie speel graag saam gholf. Foto: Verskaf
Die paartjie speel graag saam gholf. Foto: Verskaf

“Sy wou nog altyd 1 000 kinders grootmaak!” terg Juan.

Hy droom al self van ’n tweeling. “Sommer ’n seuntjie en ’n dogtertjie!” 

Uitdagings soos dat sy sangloopbaan hom vorentoe dikwels van die huis sal wegneem, pla hulle nie.

“Ek sien uit om by die huis te wees met ons kinders. Dit is regtig baie hard om so op die pad te wees,” sê Shamodene.

“Dit pas my as sy by die kinders bly, want ek kan weer teruggaan na iets waarvoor ek baie lief is," sê Juan.

“Ek het al baie bereik en gedoen in my lewe, en nou het ek die perfekte vrou gekry om dit mee te kan deel.”

Soos hy in haar gunsteling liedjie sing: Ons word een, in siel en gees. . . Ek’s gemaak om vir jou lief te wees. 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe