Dit voel soos gister,” sê sy, maar dis eintlik nou al 20 jaar dat Juanita du Plessis een van die blinkste sterre van Afrikaanse musiek is.

In 2000 het sy veral bekend geword as die Skarumba-meisie toe dié liedjie oornag ’n wegholtreffer word, maar haar debuutalbum, Juanita, het reeds in 1998 gewys: Hier kom ’n groot ster.

Sy het sommer in daardie eerste jaar die pryse ingeryg, onder meer as beste sangeres en beste liedjieskrywer op die Namibiese CMA-prysuitdeling, waar countrymusieksangers vereer word.

Van toe tot nou het sy al 21 albums en sewe DVD’s uitgereik en meer as 40 pryse gewen. Boonop is sy een van die allergrootste verkopers in Afrikaans met albumverkope van meer as 2 miljoen.

Met jaar jongste album, 20 Jaar – Treffers van 2009-2018, vier sy haar twee dekades in die musiekbedryf.

Dié boorling van Namibië is nog net so mooi en elegant soos toe sy in 2004 die eerste keer in Huisgenoot verskyn het.

Met haar lang blonde hare, gloeiende vel en slank lyf is dit moeilik om te glo sy het in April vanjaar 46 jaar oud geword en is die ma van drie volwasse kinders, Ruan (28) en die tweeling Franja en Mario (24).

Net soos ma streef Ruan en Franja nou die musiekdroom na en maak hulle deesdae naam as sangers uit eie reg.

Sy voel “gemaklik en tevrede” met die lewe nadat al haar musikale drome waar geword het, vertel Juanita. En sy erken sy is bevoorreg dat sy dit alles bereik het.

Om die koningin van Afrikaanse musiek se 20 jaar in die bedryf te vier, het Huisgenoot 20 vrae aan Juanita gevra.

Wanneer en waar is jy op jou gelukkigste?

My huis, man en kinders en familie is my veilige plek. Elke oomblik dat ons saam is en net kan kuier, gesels, lag, huil of net kan wees – dit sal altyd die plek en tyd wees waar ek op my gelukkigste is.

Wie het die grootste uitwerking op jou lewe?

Met die jare het ek baie mense teëgekom wat onwetend ’n invloed op my gehad het. Maar as ek een mens moet uitsonder, sal ek sê my man, Doepie. Ek het hom op ’n jong ouderdom ontmoet.

Kyk ek vandag terug, is dit amper asof hy die “ridder op die wit perd” was wat hierdie skaam, eensame, verlore meisiekind kom red en my gewys het wat ware liefde is, wat my toegevou het in sy liefde en omgee, my geleer en gelei het in my lewe en my elke dag gehelp het om ’n beter mens te wees.

Doepie is haar anker. Foto: Instagram

Hy het die afgelope 20 jaar van my loopbaan elke tree reg langs my gegee, my gedra en gesteun, my aangemoedig en die trane afgevee. Hy het sy eie drome laat vaar om myne waar te maak. Hy het uit die staanspoor in my geglo.

Doepie voltooi my.

Waaroor is jy spyt?

Ek sou baie dinge in my lewe anders gedoen het as ek kon, maar ek is oor niks spyt nie. Elke keuse wat ek gemaak het – goed of sleg – het my karakter gevorm, my waardevolle lesse geleer en van my ’n sterker mens gemaak.

Wat is die beste raad wat jy al gekry het?

Op ’n tyd het ek erg onder kritiek deurgeloop. Dit het my baie seergemaak en ontstel, en ek’t nie geweet hoe om dit te hanteer nie.

Dok Isak Burger (oudhoof van die Apostoliese Geloofsending) het vir my gesê: “Toe Jesus op aarde was, het Hy baiekeer reaksie uitgelok, maar Hy het nooit gereageer nie.”

Dit is woorde wat my geruk het en my altyd sal bybly.

Wat is jou grootste prestasie?

Ek hou nie daarvan om met prestasies te spog nie, want als is net genade. Maar ek dink dat ek die 2 miljoen-verkopekerf in 2012 verbygesteek het, was baie spesiaal.

Watter besitting lê jou die naaste aan die hart?

My oorlede pa, Piet Naude, het my ma, Francie, op my geboortedag ’n diamantringetjie gegee. Die diamantjie het sy ’n paar jaar gelede aan my gegee.

Wat is jou beste en swakste eienskap?

Ek dink ek het nogal baie empatie, simpatie en verdraagsaamheid met mense om my. My swakste eienskap is dat ek alles gister gedoen wil hê!

Hoe lyk jou ideale vakansie?

Om op ’n vliegtuig te klim saam met my gesin en Amerika toe te vlieg. En dan ’n week in Nashville deur te bring by die Country Music Festival, waar ons heeldag sal drentel tussen verhoë en konserte en net heerlik sal kuier en die musiek geniet.

Daarna sal ek vir nog ’n week Universal Studios toe wil gaan en op die ritte ry van al die verskillende flieks wat hulle daar het tot ons maagspiere lam gelag is en ons nie meer kan nie.

Die mans in haar lewe is van links haar seuns, Ruan en ­Mario, en manlief Doepie. Foto: Instagram

Dan sal ek wil terugkom en na (die Namibiese kusdorp) Hentiesbaai gaan vir nóg ’n week, waar ons sal visvang, kuier, lekker eet en net die stilte en rustigheid van hierdie hartsplek van my indrink.

Wat laat jou lag?

My kinders se sêgoed en grappies laat my uit my maag lag, asook mense wat hulle verspreek of per ongeluk in skuifdeure vasloop, en ’n goeie romantiese komedie.

Wat maak jou kwaad?

Onregverdigheid, skynheiligheid en mense wat ander boelie. Wat is die grootste lewenslesse wat jy al geleer het? Ek is iemand wat mense in die verlede baie vinnig en maklik vertrou het.

Maar ek moes deur ondervinding leer party mense se bedoelings en optrede is nie altyd waar en opreg nie en dat ek niemand goedsmoeds moet vertrou nie.

Dis baie hartseer, want ek probeer altyd die beste in elke mens raaksien, maar dis een van die grootste lesse wat ek moes leer.

Watter eienskappe waardeer jy die meeste in jou vriende?

Dat hy of sy Godvresend, lojaal, simpatiek, empaties en ’n goeie luisteraar is.

Wat was die uitdagendste tyd in jou lewe?

Ek dink nie daar was al ooit ’n uitdagender tyd as nou nie. Ek dink die musiekbedryf verkeer onder geweldige druk. Die ekonomie druk, mense kry swaar en dis ’n luukse om ’n kaartjie vir ’n vertoning te koop.

Die digitale platforms, stroming van musiek en onwettige kopiëring maak albumverkope dood.

Dit maak dit dus vir enige kunstenaar moeilik om te oorleef. Maar ek bly steeds vol hoop vir die toekoms en is dankbaar vir ongelooflik lojale ondersteuners en dat ek nog kan aanhou doen wat ek doen, al is dit nie aldag maklik nie.

Laaste episode van #Countryhart!

A post shared by Juanita Du Plessis (@juanita_du_plessis) on

Wat is jou grootste vrees?

Dat ’n vlermuis gedurende ’n vertoning op my sal afpyl en in my hare kom vassit. Ek weet dis seker onwaarskynlik, maar ek het ’n ewige vrees vir vlermuise en daar was al ’n paar geleenthede waar ’n vlermuis iewers in ’n saal oor my kop gevlieg het.

Wie is jou gunstelingsangers?

Dis ’n onregverdige vraag! Daar is so baie musikante wat uniek en spesiaal is; ek kan nie net enkeles noem nie.

Wie bewonder jy die meeste?

My ma. Sy is ’n pragtige vrou vir haar ouderdom; altyd stylvol en goed versorg. Ek hoop ek kan so goed soos sy oud word.

As jy nie jy was nie, wie sou jy wou wees?

Soms wens ek ek was net ’n man, met geen bekommernis oor hare en grimering en klere nie!

As jy drie bekende mense, lewend of dood, vir ete kon nooi, wie sou dit wees?

My oorlede pa, die Amerikaanse geestelike skrywer Joyce Meyer en Jesus.

Waar wil jy oud word en aftree?

Ek sal graag tussen my drie tuistes wil roteer wanneer ek afgetree is: my huis in Pretoria, waar ek die toekomstige kleinkinders kan geniet, ons plasie buite Thabazimbi en dan natuurlik Hentiesbaai.

Hoe wil jy hê moet jou kinders jou eendag onthou?

As ’n ma en vriendin wat altyd net die beste vir haar geliefdes wou hê en alles sou doen om hulle gelukkig te sien. En as ’n Godvresende vrou wat haar doel en passie uitgeleef het en werklik net ’n verskil in ’n gebroke wêreld wou maak. 

Wen

Tien lesers kan elk ’n kopie wen van Juanita se nuwe album, 20 Jaar – Treffers van 2009-2018.

SMS die woord JUANITA, jou antwoord, naam, e-posadres en adres voor 19 Julie om 17:00 na 35407*.

VRAAG: Hoe oud is Juanita vanjaar?

Vyf saamluister-liedjies deur Juanita