Vroualleen boei sy TV-kykers dekade ná dekade – en dit sonder die trekpleisters wat trefferreekse gewoonlik inspan, soos groot Hollywoodname, ’n aanskoulike stel of ’n draaiboek vol kinkels en kabels.

Net ’n kwaai 76-jarige ouma op ’n regbank wat met die driftige getik van ’n hamer die mense in haar TV-hof stil­maak, is genoeg om Judge Judy se miljoene aanhangers oor die wêreld heen elke weekdag voor die kassie vasgenael te hou – al ’n volle 23 jaar lank. 

Dis ’n prestasie wat min TV-reekse Judge Judy – oftewel Judy Sheindlin – kan nadoen. 

Sy het trouens al die Guinness World Records gehaal as die regter wat die langste in die televisiegeskiedenis in ’n program met ’n hoftema verskyn.

Kykers kan steeds nie genoeg kry van die fyngeboude rooikopregter met die vlymskerp tong en ewe skerp regsbrein nie. 

En al is die dispute oor klein eise wat sy aanhoor sonder sappige brokkies en verrassende wendings, bly hulle regskuif om Judy in aksie te sien en haar sêgoed te hoor. 

Soos “Baloney!” en “Do I have ‘stupid’ written across my forehead?”

Sy is so gewild dat die reeks al drie Emmys gewen het. Daarby kan Judy daarmee spog dat sy al sulke gewilde TV-persoonlikhede soos Oprah Winfrey en Dr. Phil uitgestof het. 

Twee jaar nadat Judge Judy in 1996 sy debuut op die kassie gemaak het, was dit die eerste dagprogram in byna ’n dekade in Amerika wat meer kykers as die kletskoningin Oprah Winfrey kon lok.

Vandag kyk 10 miljoen Amerikaners daagliks na die reeks wat hier by ons op e.tv te sien is. 

Sy het trouens al die Guinness World Records gehaal as die regter wat die langste in die televisiegeskiedenis in ’n program met ’n hoftema verskyn.

Daarmee stel Judge Judy die TV-kopdokter Dr. Phil met sy 3,9 miljoen daaglikse kykers en ook die kletsprogramaanbieder Ellen DeGeneres met 2,9 miljoen daaglikse kykers ver in die skadu. 

G’n wonder Judy se banksaldo staan tans op ’n stewige R5,6 miljard nie. En volgens Forbes was sy verlede jaar die hoogs betaalde televisieaanbieder in Amerika. 

Randy Douthit, die uitvoerende vervaardiger van die reeks, sê: “Sy is ál mens wat ek al ooit gesien het wat iemand uitmekaar skeur en hom op die ou end steeds ‘sir’ noem.” 

As student was sy nie “regtig akademies geseënd nie”, beweer Judy, wat as die enigste dogter van ’n Duits-Joodse tandarts, Murray Blum, en sy vrou, Ethel, in Brooklyn, New York, grootgeword het. 

Sy het veral nie in wat sy noem “touchy feely” vakke soos filosofie presteer toe sy haar B.A.-graad aan die American University in Washington, DC, behaal het nie. 

Daarna het sy in New York studeer en haar regsgraad in 1965 verwerf – en in dieselfde jaar het sy as korporatiewe prokureur by ’n skoonheidsmaatskappy begin werk.

Sy is die vorige jaar met haar eerste man, Ronald Levy, getroud, en haar twee kinders, ’n seun en ’n dogter, is uit dié huwelik gebore. 

Judy het in 1976, ná ’n huwelik van 12 jaar, van hom geskei omdat hy haar regsloopbaan as ’n “stokperdjie” beskou het, het sy in ’n onderhoud met Fox News vertel.

’n Jaar ná haar egskeiding is sy met Jerry Sheindlin, ’n strafhofregter en pa van drie, getroud. 

Die twee het mekaar in ’n kroeg ontmoet, waar sy haar vinger in sy gesig gedruk en op sy naam aangedring het – dít het sy self aan The New York Times vertel.

judge judy
Judge Judy. Foto: CBS (skermgreep)

Ook haar tweede huwelik het in 1990 in die skeihof beland, omdat Jerry, “soos die meeste mans van sy generasie, verwag het om versorg te word”. 

Maar Judy erken sy het so na hom verlang dat sy net ’n jaar later weer met hom getrou het.

Intussen het haar regsloopbaan van krag tot krag gegaan. Ná twee jaar as korporatiewe prokureur by die skoonheidsmaatskappy het sy ’n aanklaer in die gesinshowe in New York geword. 

Hier het sy gou as ’n tawwe tienie bekend geword. In 1982 is sy as strafhofregter aangestel, en vier jaar later as toesighoudende regter in die Manhattan-gesinshof.

Nadat die Los Angeles Times haar in 1993 in ’n artikel geloof het as ’n vrou wat ’n verskil in die regswêreld wil maak, het Judy in die Amerikaanse nuusprogram 60 Minutes verskyn en landwyd erkenning gekry. 

In 1996 het haar eerste boek, Don’t Pee on My Leg and Tell Me It’s Raining, verskyn. 

Daarin lewer sy kritiek op die Amerikaanse gesinshofstelsel. Sy het hierna nog ses boeke geskryf.

Nadat sy reeds meer as 25 000 hofsake aangehoor het, het sy in 1996 op 54-jarige ouderdom besluit om uit te tree. 

Dieselfde jaar het die CBS-televisiekanaal haar gevra om in haar eie hofreeks regter te speel. 

Judy sê sy het ingestem omdat sy mense wou leer om verantwoordelikheid vir hul optrede te neem.

“Haar program word gewoonlik as suksesvol beskryf omdat sy ‘die waarheid vertel’ en nie omdat Amerika dit geniet om te sien hoe kwesbare mense verneder word nie,” skryf Sarah Jaffe in die tydskrif Slate.

Danksy haar geen-nonsens-houding was die program gou gewild. Aanhangers is dol oor haar sêgoed, wat hulle “Judy-ismes” noem. 

Die VH1-musiek­kanaal het haar selfs in 2004 as een van die voorste popkultuurikone aangewys.

Maar Judy het ook al onder kritiek deurgeloop.

“Haar program word gewoonlik as suksesvol beskryf omdat sy ‘die waarheid vertel’ en nie omdat Amerika dit geniet om te sien hoe kwesbare mense verneder word nie,” skryf Sarah Jaffe in die tydskrif Slate.

Nietemin geniet sy groot aanhang – ook onder bekendes soos die Amerikaanse komediant Amy Schumer en die rapper Nicki Minaj. 

En saam met ’n groot aanhang kom ’n groot salaristjek.

Judy word nou jaarliks R658 miljoen betaal, al werk sy net 52 dae per jaar aan die program. 

judge judy
Judy en haar tweede man, Jerry, geniet ’n rustige lewe in hul huis in Florida wanneer Judy nie aan haar TV-reeks werk nie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Dit beteken sy verdien meer as R12,6 miljoen per dag op haar regbank voor die TV-kameras. 

Elke drie jaar ontmoet sy die grootbaas van CBS Television vir aandete in Beverly Hills om haar kontrak te bespreek. 

Dan gee sy vir dié ’n koevert met ’n vel papier waarop sy die bedrag neergeskryf het wat sy betaal wil word. 

Toe ’n grootbaas dit eenkeer waag om sy eie koevert uit te haal, het sy vir hom gesê: “Dis nie ’n onderhandeling dié nie,” het Judy aan The New Yorker vertel.

Wanneer sy nie by haar TV-hof in Los Angeles is nie, is sy tuis by Jerry (85) in hul huis in Florida. 

Judy word nou jaarliks R658 miljoen betaal, al werk sy net 52 dae per jaar aan die program.

Hulle is al oupa en ouma van 13 kleinkinders van wie een ’n prokureur is. 

En onder Judy se twee biologiese en drie stiefkinders is daar ook drie prokureurs.

Om op haar beste te lyk vir die kameras eet sy gesond en oefen sowat 80 minute per dag. 

“Dis nie dat ek dit haat om ouer te word nie; ek haat dit om so te lyk,” sê Judy, wat ná meer as twee dekades skaars ’n dag ouer lyk as in die eerste episode van Judge Judy. 

So werk Judy se ‘hof’
In elke episode word twee sake om klein eise aangehoor wat deur 65 navorsers landwyd by howe uitgesoek word. 

Die eiser stel self sy of haar saak voor ’n gehoor. 

Die vervaardigers betaal vir die eiser en verweerder se verblyf en reiskoste na die ateljee in Los Angeles, waar die reeks verfilm word. 

As Judy in die eiser se guns beslis, betaal die vervaardigers die bedrag aan die eiser uit. 

’n Voorwaarde vir albei partye is dat hulle nie teen Judy se uitspraak in ’n werklike hof mag appelleer nie. 

In 2013 het twee vriende, Kate Levitt en Jonathan Coward, onthul hulle het drie jaar tevore vir Judy ’n streep getrek met ’n eis wat hulle uit hul duim gesuig het. 

Judy het beslis Kate moet vergoeding van $1 000 (toe sowat R7 000) kry vir die fiktiewe dood van haar kat toe ’n TV-stel daarop geval het. 

Die twee vriende het toe die geld tussen hulle verdeel.