Die Hollywood A-lysster het Vrydag ’n skreeusnaakse greep op Instagram geplaas waarin sy weer en weer ’n vrugte-“foon” optel met die boodskap “Hallo? Gelukkige kamma-boem-Vrydag” daarby.

En in 48 uur het die plasing meer as 225 000 kykslae gehad. Dit blyk Julia (51) het in antwoord op die gewilde “boemerang”-kringvideo’s, waarin ’n enkele toneel aanhou herhaal, die “kamma-boem” geskep.

Kyk ’n bietjie hier:

In ander nuus het die aktrise onlangs haar mening gelug oor die universiteitstoelatingskandaal wat Amerika nou ruk, en wat veroorsaak het dat die aktrises Lori Loughlin en Felicity Huffman saam met 50 ander ryk ouers aangekla is. 

Terwyl sy haar rolprent Ben is Back – oor die verhouding tussen ’n ma en haar dwelmverslaafde seun – bemark het, het Julia gesê dit ontstel haar dat die betrokke ouers nie in hul kinders se vermoëns geglo het nie.

“Dit is vir my baie hartseer, want as ’n buitestander voel ek dit sê ’n bietjie: ‘Ek het nie genoeg vertroue in jou nie,’” het sy tydens ’n onderhoud met ITV (via People) gesê.

“Ek voel die ma in Ben Is Back probeer sê: ‘Ek het so baie vertroue in jou. Ek het genoeg vertroue vir ons albei, tot jy weer die vertroue in jouself kan vind.’”

Bronne: Instagram, Daily Mail, Fox News