Vir Afrikaanse kykers is sy ’n bekende en beminde gesig danksy haar spel in trefferreekse soos Die Boekklub, Sara Se Geheim, Swartwater en vele meer.

G’n wonder dié veteraan van die kassie woon deesdae nie meer oudisies by nie – die rolle kom na háár toe. Maar met June van Merch (56) het dit nie altyd so goed gegaan nie.

Al het sy in die vroeë 1990’s bekend geraak danksy komiese rolle in reekse soos Die Allemans en Fishy Fêshuns, ken sy die verlammende greep van depressie alte goed.

“Ek was erg depressief. Ek het byna dood gevoel. Ek was magteloos,” maak June vandag haar hart teenoor ons oop oor dié donker tydperk in haar lewe. Sy is tans in fliekteaters in die drama Raaiselkind te sien.

Teenoor Diaan Law­renson in Raaiselkind.
By Marie Pentz (middel) en Lee-Ann van Rooi in Fishy Fêshuns.
In Sara Se Geheim, waarin sy die naamrol vertol.

Dis gegrond op Annelie Botes se roman oor ’n outistiese seuntjie wat dood aangetref word.

Sy ma, Ingrid (gespeel deur Diaan Lawrenson), word van haar kind se moord verdink. June speel sy versorger, Miriam. Haar laaste rol voor haar “vyf jaar van hel” was in die TV-fliek Skilpoppe in 2004.

“Ek was in ’n ongelukkige verhouding,” is al wat sy wil sê oor die depressie waarin sy daarna verval het. Die verhouding was net een van die bydraende faktore.

Die uitwerking daarvan was so verlammend, sy kon haar nie kry om oudisies af te lê nie. In die volgende vyf jaar was sy dus werkloos. Teen 2006 was sy kniediep in die skuld.

“Ek kon net nie werk nie. Ek het so byna my huis in Boston (Bellville) verloor,” vertel sy in die Durbanvillese restaurant waar ons gesels. Haar vriende en haar ma (nou in haar 80’s) het haar in dié moeilike tyd gedra en haar die pot aan die kook help hou.

Eindelik in 2010 het haar vriende haar “uit die depressie geruk” deur vir haar werk as ’n drama-onderwyseres by ’n skool op Worcester te kry.

“Dit was ook so vreemd, want net voor ek die werk gekry het, het ek op my ou onderwysdiploma (van Maties) in my oorlede pa se klerekas afgekom.” Dit was vir haar die teken sy moes die lewe weer in die oë probeer kyk – en sy hét.

‘Ek sukkel nou nog met selfliefde. Ek baklei baie met myself’

“Ek was ses maande lank by die skool en kon toe my skuld betaal en myself weer vind.”

In dieselfde jaar het sy ook weer ’n rol gekry – in die TV-komediereeks Proesstraat. Daarna het die werk begin inrol.

En ja, sê sy, haar gebroke hart het ook heel geword. In dieselfde tyd dat sy ná jare weer ’n rol gekry het, het sy oplaas ’n nuwe en standhoudende liefde gevind.

June glo dié moeilike jare was eintlik goed vir haar loopbaan. “ ’n Mens kan eers intense rolle vertolk nadat jy intensiteit ervaar het,” meen June, wat van 13 Maart af as Kinta in die SABC2-dramareeks Swartwater te sien is.

“Maar ek het wys geword. Ek sal nie weer in daardie groef verval nie.”

Buiten dat hulle nog dolgelukkig is, wil sy niks verklap oor die liefde wat agt jaar gelede haar lewe binnegekom het nie. “Maar ek sukkel nou nog met selfliefde,” erken sy.

“Ek baklei baie met myself.”

June is in 1961 op Ladismith in die Klein-Karoo gebore. Drie weke later het haar pa sy beroep as onderwyser daar laat vaar.

“Dêddie het ’n winkel by ’n familievriend gekoop; ons is Mosselbaai toe. Ek het die seewaters so baie geniet,” vertel sy van haar grootwordjare aan die kus.

Toe raak sy eensklaps ernstig terwyl sy vertel van ’n foto waarop sy onlangs afgekom het. Daarop is sy saam met haar drie broers.

“Dit het my herinner my broers het meer aandag as ek gekry. En ek dink ek het onbewustelik ’n knou weg.”

Maar sy verkwalik nie haar ouers daarvoor nie, sê sy. “Hulle het dit nie bewustelik gedoen nie. Dit was ander tye. Daai tyd het dit meer gegaan oor die pot aan die kook hou as op familieliefde fokus.”

Dis gou duidelik ’n ernstige mens skuil agter dié komiese aktrise. “Mense dink omdat ek die snaakse karakters speel, is ek ook so. Maar sodra ek my mond oopmaak, besef hulle gou ek is nie.

Foto: Misha Jordaan

“Ek’s ’n loner. Ek kan my vriende op die vingers van my een hand tel. Maar onbewustelik het ek toneelspeel gekies om aandag te kry,” sê sy en glimlag wrang.

Sy het dalk jare gelede effens afgeskeep gevoel, sê sy, “maar nou kry ek aandag van die hele Suid-Afrika”.

En sy voel nie dis nodig om ’n oudisie af te lê om haar staal te wys nie. “Ek ken mos my waarde,” laat sy hoor.

En sy wroeg nie lank oor ’n rol nie. Sy vertel van ’n vervaardiger wat haar nie lank gelede nie genader het oor ’n vaste rol. Twee nagte lank het sy rondgerol oor die besluit. “Ek het gedink: ‘Sjoe, dis ’n jaar se vaste salaris.’ ”

Maar toe kom die antwoord uit ’n onverwagte oord: Die Boekklub bied haar die rol van Sofia aan en sy kies dit bo die ander rol.

“En ek is nie spyt daaroor nie, want ek hou nie daarvan om gebonde te wees nie,” verduidelik sy.

“Ek wil my ding doen en ’n volgende rol takel. Ek het ’n pad geloop; ek het nie meer finansiële stres nie.”

Die tweede seisoen van Sara Se Geheim, waarin June die naamrol vertolk, word volgende maand op kykNET uitgesaai. Dis ’n rol wat June baie na aan die hart lê.

“Ek hou van die reeks, want dit wys hoe swart en wit deel is van mekaar, al word dit soms ontken.”

In Sara Se Geheim speel June die bruin ma van ’n seun wat wit lyk. Sy het hom aan ’n wit gesin gegee om groot te maak in die hoop dit sou hom onder apartheid meer geleenthede gee. Sara werk later as huishulp in haar seun se huis. Daar is pynlike raakpunte met haar eie familiegeskiedenis, vertel sy.

“My ouma was ’n wit man en sy ‘bediende’ se kind,” vertel sy. Haar ouma het in die boer se huis grootgeword, maar destyds is ontken sy is sy dogter.

Later jare het June se ma in Kaapstad as huishulp by die boer se ander dogter gewerk, sê June. Hulle was familie, maar die een moes in die ander se huis werk.

“Dus hou my lewe verband met die storie in die reeks.”

Op pad na June se rooi bromponie voor die restaurant nader ’n bejaarde vrou ons. “Ek is jammer om te pla, June. Ek wou net sê, ek bewonder jou,” sê sy.

June vertel sy is die vorige aand ook genader deur ’n vrou wat haar geprys het. “Dis sulke dinge wat bydra tot my selfliefde; dan voel ek weer goed. Ek het nou ’n bietjie, meer dikwels, selfliefde . . .”

En die toekoms? “Ek soek nie meer uitdagende rolle nie. Ek het nou ander uitdagings, soos selfliefde en selfondersoek, wat vir my die belangrikste is.”

Maar aftrede is nog geensins in die vooruitsig nie. Sy geniet televisiewerk nog baie, wil meer radiowerk doen en graag eendag in ’n plaaslike aksiefliek speel.

Ná daardie vyf droë jare van destyds wil sy nou werk “until I can’t anymore, my darling!

Foto's: Misha Jordaan, kykNET, Penguin Films, Facebook