Die Afrikaanse sangeres Juanita du Plessis en haar man en bestuurder, Doepie, het Vrydagmiddag ’n paar benoude oomblikke beleef toe hulle in ’n hysbak op die OR Tambo-lughawe in Gauteng vasgekeer was.

“Oukei, so ons sit op die oomblik in die lift vas op OR Tambo in Johannesburg,” het Juanita op haar sosialemedia-blaaie geskryf, met ’n foto van hulle twee in die hysbak daarby.

Op een van die foto’s lyk dit asof Doepie die hysbak soos ’n wafferse aksiefliekheld probeer oopdwing.

“Doepie probeer 'n Tom Cruise-move daar agter. Maar dis blykbaar net in die movies dat dit so maklik lyk!”

Juanita is op pad na ’n vertoning in Jeffreysbaai in die Oos-Kaap en tree môreaand op Heroldsbaai op.

“Jeffreys, ons is op pad! Hopelik binnekort. Julle beter vanaand almal daar wees!! Ons probeer immers hierdie lift oopbreek om by julle uit te kom,” het Juanita verder geskerts.

Juanita en Doepie kon nie vir kommentaar bereik word nie.