Terwyl die nuus waarskynlik duisende van sy aanhangers se hart gebreek het, kom dit voor asof Justin die skoot hemelhoog deur het.

Hy het amptelik bevestig dat hy en die blondekop-model en TV-persoonlikheid die nuus eers wou stilhou. Maar wat die hart van vol is, loop die mond van oor.

Op Instagram verklaar hy sy liefde aan haar. Hy sê dat hy sy lewe daaraan sal toewy om elke enkele aspek van haar te leer ken en haar sagkens en met geduld sal liefhê.

Maar wag ’n bietjie . . . hy verwys na hul familie? Is daar dalk ’n rede hoekom die verloofring nou aan haar vinger pryk?

Hailey, die dogter van die akteur Stephen Baldwin en sy Brasiliaanse vrou, Kennya, het haar na Twitter gewend om oor die groot oomblik in haar lewe te praat.

"Ek is nie seker wat ek gedoen het om soveel vreugde te verdien nie, maar ek is so ongelooflik dankbaar teenoor die Here wat my so ’n merkwaardige mens gegee het met wie ek my lewe kan deel. Daar is geen woorde waarmee ek my dankbaarheid kan beskryf nie."

Die ring

Volgens Page Six is Hailey se ring ’n ovaalvormige diamantsteen van minstens 6 karaat en kos glo naastenby R5,3 miljoen. Hy het Saterdag die ring aan haar vinger gesteek terwyl die paartjie in die Bahamas gekuier het. Justin het na bewering voor talle gaste van die oord waar hul tuisgaan ewe ridderlik gekniel voor hy haar die jawoord gevra het.

Jelena-aanhangers

Ongelukkig vir Hailey is Selena Gomez-aanhangers glad nie ingenome met die nuus nie. En hulle deel hul misnoeë vrylik op haar Instagram-profiel. Ene maie.g is een van die ongelukkiges en sê prontuit vir Hailey dat sy net mooi niks is in vergelyking met Selena nie. "Justin verdien soveel beter."

Eina!

Daar is gelukkig ook diegene wat ten spyte van hul teleurstelling die paartjie voorspoed toewens.

Volgens TMZ het die twee hul verlowing met ’n soort danskompetisie aangekondig.

Bronne: pagesix.com, tmz.com, cnn.com,